13 Opperman-flieks om na uit te sien

Foto: kykNET

Die bekende dramaturg Deon Opperman, bekend vir dramareekse soos Kruispad, Hartland en Donkerland, se jongste projek is beslis iets om na uit te sien in die nuwe jaar.

Hierdie reeks wat om 20:00 op Sondag, 20 Januarie 2019, op kykNET (kanaal 144) begin, sluit verwerkings van kortverhale, toneelstukke en oorspronklike rolprentdraaiboeke in.

Die bekende skrywer Deon Meyer se kortverhaal, Bottervisse in die jêm, skop die reeks af en kykers kan uitsien na ’n “romantiese drama”. Dan is daar ook ’n verwerking van akteur en dramaturg Wessel Pretorius se toneelstuk, Die dag is bros, wat volgens Opperman ’n pragtige drama is wat beslis die Eugène Marais-prys vir letterkunde verdien. Twee van Deon Opperman se eie stukke wat oorspronklik in die bloemlesing Vyfmylpaal opgeneem is en in 2006 met die Hertzogprys bekroon is, maak ook deel uit van die reeks, naamlik Stille Nag (met onder andere Sandra Prinsloo en Marius Weyers) en Boesman, my seun (Weyers is ook hierin te sien). Opperman se stuk Aantrekkingskrag, wat hy as een van sy grootste stukke beskou, is ook vir die skerm verwerk.

Elke rolprent is soos ’n dramareeks geskiet, is elk 72 minute lank en Opperman vertel dat hy juis daarop gefokus het om seker te maak dat die genres afgewissel word. Daar is iets vir almal – van ligte komedie tot ernstige drama – en op dié manier word die toneelstukke nou aan ’n breër gehoor beskikbaar gestel.

Akteurs om na uit te sien: Nadia Velvekens, Leandie du Randt-Bosch, Armand Aucamp, Franci Swanepoel, Simon Bruinders, Amalia Uys en Sharleen Surtie-Richards.

Volledige lys van flieks:

Bottervisse in die jêm (oorspronklike kortverhaal deur Deon Meyer)

Stille Nag (toneelstuk van Deon Opperman)

Vat ’n kans (Stiaan Smith en Igna Botha)

Boesman, my seun (Opperman-toneelstuk)

Desember (Lizé Vosloo)

Playboyz – (Garth Holmes en Deon Opperman)

Aantrekkingskrag (Opperman)

Die Skandaal (Lizz Meiring)

Droomman (Sean Else)

Draadloos (Candice Johannes)

Oorlewing-Blok C (Erica Harris)

Soek jy ’n lift (Christel van den Bergh)

Die dag is bros (Wessel Pretorius)

Bron: Netwerk24

Lees ook meer oor Deon Opperman hier.