fbpx

7 Oktober 2019

Artikel deur Alita Steenkamp

Chanette Paul se verhale sing!

Chanette Paul se vroulike hoofkarakters is soos ’n kat: Daardie vroue land altyd weer op die voete. Meer, hulle verstaan menslike deernis en susterskap. En hulle kan lag. Soos Ma gesê het in Delia Owens se Where the crawdads sing: “Yes, we got stuck, but what’d we girls do? We made it fun, we laughed. That’s what sisters and girlfriends are all about. Sticking together even in mud, ‘specially in mud’.”  Jeanette Ferreira

Afrikaans.com - Chanette Paul
Afrikaans,com-boeke

Chanette Paul het die toneel van Afrikaanse ontspanningsliteratuur vir ewig verander. Haar 46ste roman, Mirre, het so pas verskyn. Dit bloot in 23 jaar. Onder lesers is Chanette Paul se verhale besonder gewild en elke nuwe boek van haar, ʼn wonderlike beloning. Alita Steenkamp het met haar gesels oor die skryfproses en die geboorte van nuwe stories.

Net wanneer ʼn mens dink Chanette Paul kan nie nog een wonderlike verhaal uitryg nie, verras sy jou. Vanjaar verskyn die Vywervrou-trilogie en die tweede boek in die reeks, Mirre, het pas verskyn. Mirre is die verhaal van Mirre Dreyer, ʼn vrou wat toelaat dat haar sagtheid uitgebuit word. Op ʼn dag besluit sy genoeg is genoeg. Met hierdie ommekeer word sy innerlik sterk, sonder om haar sagtheid en mensliewendheid te verloor.

Die skrywersproses

Vir Chanette is die hele skryfproses geweldig bevredigend. Die een storie is pas afgehandel en weggestuur, dan klop die volgende karakters met hulle storie reeds aan die deur, sê sy. “Reeds toe Lira se storie net so begin-begin ontwaak het, het ek besef dit sal ʼn storie wees wat in ʼn drieluik vertel moet word. Al drie die karakters – Lira, Mirre en Corali – het my eweveel geïnteresseer. Ek wou hulle al drie behoorlik leer ken en uitvind wat elkeen se persoonlike storie is. Later het Marilyn ook bygekom as een van die sterk vroulike karakters in al drie die boeke en ek is al gevra om haar storie ook te skryf, maar dis al asof sy wegskram.”

Die karakters

Wanneer Chanette so oor haar karakters gesels, kom ʼn mens agter dat dit die rede vir haar sukses is. Dit bly nie bloot papierkarakters nie, maar elkeen word ʼn volronde individu wat by Chanette aandring om haar of sy storie te vertel.

Een ding is seker – Chanette weet dat dit harde werk is om te skryf. Wanneer dinge vir haar die dag glad verloop en sy kry dit reg om vyfduisend of meer woorde op die dag te skryf, wil sy in die aand omval van moegheid. Voordat sy egter een woord skryf, verg haar navorsing ook baie tyd.

Chanette vertel dat sy haar tyd verdeel tussen twee woonplekke. Die een is ʼn oewerhuisie in Stanford, ʼn dorpie in die Overberg waar Ernie Blommaert, die man in haar lewe, ʼn rivierboot bedryf. Sy noem hom Blom. Haar eintlike skryfplek is in die studeerkamer van haar huis naby die suidelikste punt van Afrika. Sy sê sy het stilte en afsondering nodig om te skryf en sy verkyk haar altyd aan enigeen wat dit regkry om in koffiewinkels, op vliegtuie of midde in ʼn geroesemoes van mense kan sit en skryf. Dis iets wat sy nie kan doen nie. In daardie oomblikke is sy veel eerder besig om gesprekke af te luister en menswees te absorbeer.

Die tema van emosionele geweld …

Een van die temas in Mirre is die impak van emosionele geweld op iemand se psige. “Die hele kwessie van emosionele geweld is van die uiterste belang in ons samelewing,” sê Chanette. “Emosionele mishandeling is net so, indien nie meer nie, vernietigend as fisieke mishandeling. Met fisieke geweld kan mens die skade sien en jou beserings is ʼn bewys dat jy mishandel word. Met emosionele mishandeling is dit nie die geval nie maar die letsels is baie meer blywend. Dis dikwels vir die slagoffer – en dit sluit mans, vrouens en kinders in – baie moeilik om te verstaan dat hy of sy emosioneel mishandel word. Uiteindelik is dit te laat en is al wat oorbly die dop van die mens wat hy of sy was.”

Oor een ding voel sy sterk: as skrywer is dit nie haar plig om op te voed nie. Al waaroor dit vir haar gaan is om die karakters en hulle storie aan die wêreld bloot te stel. “Vir my staan weerspieëling van die werklikheid in ʼn boek wat vermaak en ʼn mens aan die einde goed laat voel op die voorgrond. As dit egter so is dat mense iets uit my boek leer, dan is dit wonderlik!” sê sy.

Haar vreugdes

Vra ʼn mens Chanette uit oor die dinge wat haar die meeste vreugde verskaf, is die lys lank. Daar is Thomas, haar dowe kat wat oneindig vreugde bring. Stories uitdink, skryf, lees droom, swem, reis en musiek kom almal op die lys. Chanette hou ook baie daarvan om haar huis en omgewing mooi en interessant te maak met iets soos mosaïek of ʼn windklingel of iets wat sy verf. Die omgewing waarin sy woon dra baie by tot haar lewensvreugde en om skielik ʼn bokkie naby die huis te sien, of ʼn skilpad, ʼn mooi voël of ʼn plant wat onverwags opkom of blom, maak haar besonder gelukkig. So ook die sonsopkoms en -ondergange en natuurlik die helder volmaan oor die see. Maar wat haar op die ou end die meesste vreugde verskaf is om tyd met Blom te bestee.

Afrikaans.com-Chantelle-Paul
Afrikaans.com-Chantelle-Paul

Chanette het eenmaal in ʼn Litnet-onderhoud gesê: “Ander mense dien op komitees of bedryf sopkombuise, of samel geld in om van die wêreld ’n beter plek te probeer maak. Ek skryf my stories en hoop ek lewer so ook my beskeie bydrae tot ’n groter welsyn. Skryf is my sopkombuis.” Haar bydrae tot die Afrikaanse boekewêreld is enorm. Vir haar is dit dan ook die heel beste deel van die skryfproses: om positiewe terugvoer van lesers te kry.

“Die vreugde van skryf begin wanneer die storie vorm aanneem en ek al die karakters en hulle dinge leer ken. Elke toneel waaraan ek besonder lekker skryf, is ook ʼn groot vreugde. Wanneer ek uiteindelik daardie eerste outeurskopie teen my hart vasdruk, is ʼn groot groot oomblik. Die heel lekkerste is egter wanneer die lesers begin kommentaar lewer en aandui dat hulle van die boek gehou het. Min dinge is lekkerder!”

Om meer oor Chanette te lees, besoek haar webtuiste hier 

Vywervrou: Mirre – Chanette Paul

LAPA Uitgewers

ISBN:  9780799396546

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.