Woord van die week

Die woord/idioom van die week word verskaf deur dr. Willem Botha van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) – ‘n lewende, groeiende woordeboek wat reeds oor dekades heen geskep word.

benedy ww. (verhewe)

1 Seën: Want ‘n kindjie is gebore / En ‘n huis gebenedy (A.G. Visser).

2 Prys, verheerlik: Die Here sy gebenedy. Maria, die gebenedyde maagd. Uit Latyn benedicere “om te prys”, van bene “goed” en dicere “sê”.

lawaaiwater s.nw.

(skertsend) Sterk drank, veral brandewyn; sin. raaswater (ongewoon): Nie sommer flou lawaaiwatertjies nie, a nee a, dit is regte kettingblits wat soos ‘n fontein se oog in die bekertjie kook (D. Mostert: Spektakels3, 1945, 10).

In ‘n ou bron: Oom Jan maak ‘n snapsi, en meer met hom, wat oek lus het fer di lawaai water (Ons Klyntji, Des. 1897, 228).

spykerbeentjies  s.nw.

Ook spykerbene. Baie dun bene.

spookasem s.nw., spookasems.

  1.  Snoepery van suiker i.d. vorm van ‘n massa dun, buigsame draadjies, wat berei word deur suiker tot 10 °C bo sy smeltpunt te verwarm en
    dit dan deur vinnige bewegings, soos met ‘n vurk of masjinaal in ‘n soort sentrifuge, uit te swaai tot dun draadjies wat onmiddellik hard word, wat dikwels pienk of blou is en op ‘n stokkie verkoop word; sin. suikerdons, suikerwol; garingsuiker (verouderd).
  2. (geselstaal) Wit bakkersbrood, veral dié wat besonder lig van tekstuur is omdat dit met hopsuurdeeg gemaak word.
  3. (geselstaal; skertsend) Iemand wat baie maer is. © WAT

spitsboef s.nw., spitsboewe. (verouderd) (Ndl.) Groot boef: Sy houding is dié van ‘n spitsboef wat ‘n studie van rolprentskurke gemaak het (Huisgenoot, 30 Okt. 1959, 7).   ©WAT

spookstem

s.nw., spookstemme; spookstemmetjie.

1 Stem van ‘n spook of van iem. wat reeds oorlede is: Dit voel of Lia oomblikke gelede in die kamer was. Tog onmoontlik, want sy is al hoe lank dood. Haar stem het ook hier agtergebly … Sy druk haar ore toe, maar dit word ‘n gekerm wat selfs uit die slaapkamermure kom … Sy moes nie gekom het nie. Sy moes geweet het die spookstemme sou nog nie stil wees nie (M. v.d. Schyff in Landbw., 1 Aug. 2003, 52).

2 Stem, dikw. ‘n stemopname, waarvan die persoon aan wie dit behoort, onbekend is of nie gesien kan word nie: Voornemende besoekers aan die dorpie moethulle eers by die imposante ingang by ‘n spookstem identifiseer. Eers nadat die inwoner wat ‘n mens wil besoek magtiging verleen het, swaai die swaar elektroniesbeheerde hekke oop (Vad., 8 Mei 1985, 5).

speeklos b.nw.

(Geselstaal) Wat ongesteld, onkapabel of nie by sy of haar volle verstand is nie: Speeklos voel. ≈ Soos ‘n speeklos vryer verloor hy sy sinne, bevlieg haar en hap speels na haar skouer (H.J. Vermaas: Drietoon4, 1969, 40). Die drinkery het hom nou heel speeklos en ek sleep maar met die kieriegeldjies aan (A. Roux in TL, Febr. 1988, 53).
© WAT

spelskepper s.nw. (veral t.o.v. spansport)

Iemand wat ‘n voorgevoel vir die spel het waaraan hy of sy deelneem en op ‘n vindingryke, vernuftige manier dinge inisieer:  Die groot gevaar vir die tuisspan is natuurlik die giftige losskakel en spelskepper S.E. As hy toegelaat word om die wedstryd te dikteer, gaan die OP bars om die besoekers in toom te hou (Die Burger, 20 Mei 2016, E). Belowende spelskeppers sal nie op internasionale vlak aanvallende geleenthede skep as hulle gewoond is aan die slap verdediging in die Varsity-bekerwedstryde nie (Volksbl., 21 Mrt. 2015, E).© WAT

Loddereintjie s.nw.

loddereintjies. Ook lodderyntjie. (volksetimologie: Fr. l’eau de la reine, ‘n vroeëre soort reukwater). Houer vir reukwater: Onder die mooiighede van die outyd kan ‘n mens … die loddereintjies of reukflessies reken. Daar is prageksemplare van glas, porselein, silwer en selfs albaster, kunstig afgewerk om by die smaak van die vooraanstaande dames … te pas (Weekbl., 18 Mei 1962, 7). © WAT

slaaibek s.nw.

Slaaibekke (geselstaal; skertsend; verouderd).

Iemand wat vinnig en goed kan praat, of iemand wat geneig is om te babbel en soms dinge uit te lap.

hipnopompie s.nw.

Droomagtige ervaring wat ‘n mens soms het terwyl jy in die sluimertoestand tussen vaste slaap en volle ontwaking verkeer en wat eintlik nie ‘n egte droombeeld is nie; hallusinatoriese gewaarwording gedurende die proses van ontwaking uit die slaap. © WAT

ghoef  ww., geghoef. (geselstaal, veral seunstaal) Swem — met klanknabootsing van die plofgeluid van die sprong in die water: Kom ons gaan ghoef, maar pas op dat hulle jou klere nie steel nie.

skamel b.nw., skamele of onveranderd skamel; skameler, skamelste.
1 Skraps, yl, karig of ontoereikend, of wat gering is in getal of m.b.t. tydsduur; sin. skamelik (verouderd): ‘n Skamel leierskorps. Skamel poësie, prosa. ‘n Skamele liedereskat. ‘n Skamele inkomste. ‘n Skamele middagmaal. Skamele troos. Skamele voorrade. Skamele bewyse. Die toerspan is uitgehaal vir ‘n skamele 99 lopies.
2 Wat arm, armoedig of nederig is; sin. skamelik (verouderd): ‘n Skamele leefwyse, lewenstyl. Skamele besittings.       ©WAT