“Ek en my man Johann, is op Hemelvaartdag, 5 Mei 2016 in die mooiste en suiwerste Afrikaans in Wuppertal verwelkom. Vandag is ek steeds verstom oor die tragedie wat die mense getref het. Hoe is dit moontlik dat ʼn dorpie wat so veilig en knus tussen die Sederberge lê in ʼn oogwink deur ʼn brand in puin gelê kon word? Ek hou my hart vas en hoop dat daar uit hierdie as ʼn ‘nuwe’ historiese dorp sal verrys en uit hierdie tragiese gebeure ʼn nuwe toekoms op die mense sal wag. Mag die regering die toerismepotensiaal van die dorp en sy mense besef.” – Elise Tempelhoff – omgewingsjoernalis

Die verwoestende brand

Met byna die laaste uitblaas van 2018 se asem, op Sondag 30 Desember, het ʼn vernietigende brand die pragtige dorpie *Wuppertal in die Sederberge feitlik verwoes. Sowat 53 huise, ʼn skoolkoshuis, die pastorie, ʼn restaurant en ʼn gemeenskapsaal is vernietig in die brand. Benewens die enorme verlies wat die inwoners van die dorpie gely het met die vernietiging van al hulle aardse besittings, is die kultuurskatte wat verlore is met die vernietiging van die geskiedkundige huisies, enorm.

Die ontstaan

In 1829 het twee sendelinge van die Duitse Rynse Sendinggenootskap na Suid-Afrika gekom op ʼn sendingmissie en die plaas Rietmond in die Tra-Tra-vallei gekoop. Johann Gottlieb Leipoldt was die een en Theobald von Wurmb die ander sendeling. So het die Rynse sendingstasie hier langs die Tra-Tra-rivier ontwikkel in die gebied wat deur die Khoi-Khoin bewoon is. Die naam Wuppertal is deur Leipoldt gekies omdat dit hom herinner het aan die vallei (thal) in Duitsland waardeur die Wupperrivier kronkel. Mettertyd het ʼn hele paar vrygestelde slawe ook hier ʼn heenkome gekry. Daar is graanlande, tuine en vrugtebome aangeplant en allerlei planne is beraam om die sendingstasie selfversorgend te maak. Johann Leipoldt het twee skoenmakers uit Duitsland saam met hom gebring en die inwoners van Wuppertal het toe reeds die kuns van skoene maak aangeleer. Die heel eerste skoenfabriek in Suid-Afrika was blykbaar op Wuppertal. Tot vandag toe nog is die dorpie bekend vir die velskoenfabriek. Dieselfde fabriek wat vir Madiba ʼn paar velskoene gemaak het toe hy die dorp in 1998 besoek het. Genadiglik het die skoenfabriek nie in die slag gebly met die brand van 30 Desember nie.

Johann Gottlieb Leipoldt was niemand anders nie as die oupa van die Afrikaanse joernalis en digter, C. Louis Leipoldt. Leipoldt se pa, wat op Wuppertal gebore is, het later ʼn NG-dominee geword en van die gemeente in Worcester oorgeskuif na Clanwilliam. Dis in die pastorie op Clanwilliam waar Leipoldt grootgeword het. Leipoldt se graf waar sy as begrawe is, is onder ʼn oorhangende rots in die Pakhuispas. Jy moet deur hierdie pas ry om uiteindelik die afdraaipad na Wuppertal te bereik. Teen die wande van die oorhangende rots is daar etlike Khoisan-tekeninge aangebring.

Die foto’s is deur Alita Steenkamp geneem tydens haar wittebrood in Oktober 2011.

DAK-netwerk reik uit na gemeenskap

Nuus oor die ramp op Wuppertal het oral skokgolwe uitgestuur, veral toe dit duidelik geword het hoe groot die omvang van die skade is. Een organisasie wat ʼn afvaardiging gestuur het om die gemeenskap te besoek, is die DAK-netwerk. Mnr. Danie van Wyk, ondervoorsitter van die DAK-netwerk het op Vrydag 4 Januarie besoek afgelê aan Wuppertal en onder meer ʼn kontantbedrag en klere saamgeneem

Kultuurskatte is verlore

Danie (wat die foto’s hierbo enkele dae na die brand geneem het) is diep geraak deur die vernietiging van die dorpie. “Wat gebeur het in Wuppertal is hartverskeurend. Hierdie is ʼn afgesonderde Afrikaanse gemeenskap wat baie trots is op hulle kultuurerfenis. Hier is geweldige groot skade aangerig. Die bekende basuinorkes het al hulle instrumente in die brand verloor. Die skade is nie net die fisiese skade van huise wat afgebrand is nie, maar die inwoners beleef ook erge trauma. Ek weet die Afrikaanse gemeenskap is hartsmense, en daarom doen ek graag ʼn beroep op die Afrikaanse gemeenskap om Wuppertal te hulp te snel,” sê Danie.

Die DAK-netwerk, vernoem na drie Khoisanleiers Doman, Autshumao en Krotoa, beywer hom vir die bemagtiging van agtergestelde gemeenskappe deur Afrikaans en is ʼn affiliaal van die Afrikaans Taalraad. Die DAK se uitreik na die gemeenskap van Wuppertal is ʼn praktiese bewys van die goeie werk wat hierdie netwerk op voetsoolvlak verrig.

Danie sê tydens die besoek aan Wuppertal, is hulle met die omvang van die ramp gekonfronteer. “Wuppertal is ʼn historiese dorpie en al die kultuurskatte is daarmee heen. Ek glo die dorp sal herbeplan moet word. ʼn Mens kan maar net glo en vertrou dat Wuppertal uit die as sal verrys. Gelukkig is die mens se wil baie sterk en ek glo ons sal oor ʼn jaar of twee ʼn nuwe Wuppertal sien wat steeds die belangrike rol in die gemeenskap van die Sederberge kan speel.”

Die Morawiese Kerk in Wuppertal

Foto: Andrew Cusack

Teen die middel van die twintigste eeu het die Rynse Sendinggenootskap hul werk in Afrika al hoe meer begin afskaal en toe die Genootskap in 1965 onttrek het, het die Morawiese Kerk die Sendingstasie op Wuppertal oorgeneem. Vandag is Wuppertal die eiendom van die Morawiese Kerk. Hulle mediaverteenwoordiger, Wilfred Schoeman Solomons Johannes, sê dat die kerk reeds in gesprekke betrokke is met die Wes-Kaapse ministerie van behuising sodat grond vir dorpstigting beskikbaar gemaak sal word. Die grond sal hersoneer en onderverdeel word met sekere voorwaardes op die titelaktes oor die konsepontwerp van geboue. Dit word gedoen om die historiese erfenis en kultuur behoue te laat bly. “Wuppertal bly ʼn deel van die nasionale gedenkerfenis, historiese kultuurerfenis, en die skatkis van die land se opbou en daarom moet dit so bewaar word,” sê Wilfred.

*Wuppertal word ook soms Wupperthal gespel wat waarskynlik verband hou met die verouderde vorm thal in Duits wat vallei beteken. In hedendaagse Duits is dit tal – vandaar die stad Wuppertal in Wes-Duitsland naby die Wuppervallei.

In Skryf Afrikaans van A-Z , punt 8.43, p. 395, (2003-uitgawe) word die dorp se naam sonder die h gespel, aldus Afrikaans.com se spelling.

Hoe kan jy help?

Daar het reeds van oraloor skenkings ingestroom na Wuppertal, maar ʼn mens moet dink aan ʼn langtermynoplossing. Om langtermynhulp te verseker, en te sorg dat die mense van Wuppertal weer op hulle voete gehelp word, sal ʼn geldelike bydrae die beste opsie wees. Skenkings kan inbetaal word in die volgende rekening:

Moravian Church in Southern Africa

Bank: Standard Bank

Tjekrekening

Rekeningnr: 072906189

Verwysing: Wuppertal Fire

Wuppertal in ons letterkunde

Alita Steenkamp by die Leipoldt-gedenksteen op Wuppertal

Afgesien van die wonderlike nalatenskap wat C. Louis Leipoldt oor die Hantam en omstreke gelewer het, verwys twee van die mooiste gedigte in Afrikaans ook na hierdie geskiedkundige dorpie:

Die berggans het ʼn veer laat val

van die hoogste krans by Woeperdal

my hart staan tuit al meer en meer

ek stuur vir jou die berggansveer

mits dese wil ek vir jou sê

hoe diep my liefde vir jou lê. – Boerneef

Op die groot saaidag van die heelal

het reeds ʼn entjie duskant Wupperthal

oor die kaal Noordweste

ʼn sakkie van die Heer se beste

saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval. – DJ Opperman

ʼn Besoek aan Wuppertal

Alita Steenkamp vertel …

In Oktober 2011, tydens ʼn Weskus-witttebrood, klim ek en my bruidegom, De Wet Potgieter, een oggend vroeg in die huurmotor, rigting Wuppertal. Met Boerneef se pragtige gedig in my agterkop, is dit ʼn plek wat ek nie wil misloop nie. Hoe dankbaar is ek vandag oor daardie uitstappie. Die skoonheid van die Sederberge bly nou maar eenmaal iets wat moeilik is om met woorde weer te gee. Op pad na Wuppertal het ons gestop by ʼn paar interessante padstalle. Ons het gereis deur die pragtige natuurskoon waar die veldblomme nog in hulle volle prag die landskap verkleur het. Daar was nie regtig tyd vir stilhou in Clanwilliam nie en ons is dadelik op met die Pakhuispas. Hier, op ʼn hoogte, het ons by Leipoldt se graf stilgehou. Op daardie dag het ʼn paar werkers twee sederboompies daar geplant. Ek wonder tot vandag toe of die boompies oorleef het.

Uiteindelik, na ʼn lang kronkelroete, het ons in Wuppertal stilgehou wat luilekker in die somerson lê en bak het. Ons het die pragtige kerkie wat in 1834 gebou is, besoek, by die skoenfabriek ingegaan, en ons verlustig aan die skoonheid van die dorp. Op die dorpsmeent het ʼn paar perde rustig staan en wei. Die dorpie was in vrede en vreedsaamheid gehul. Toe ek op Sondagmiddag 30 Desember oor die nuus hoor van die reusebrand wat die dorp in puin gelê het, kon ek nie ophou huil oor alles wat verlore is nie. Ek eggo Danie van Wyk se woorde: Mag Wuppertal soos ʼn sierlike feniks uit die as verrys!

Het jy geweet?

Die Nuwe Graskoue Trappers, ʼn rieldansgroep wat in 2014 en 2015 die junior afdeling van die ATKV Rieldanskompetisie gewen het, is inwoners van Wuppertal.