Wêreld-hardopleesdag: 1 Februarie 2019

“My pa het die gedenkuitgawe van Langenhoven se kinderstories gekoop en saans vir my daaruit voorgelees. Maar hy was slu, en het elke keer net so op die naelkou-oomblik ophou lees en die boek gebêre vir môre. Ek het myself leer lees omdat ek nie met die uitsteltegniek kon saamleef nie. Dit (die voorlees) het reeds in my voorskoolse jare my liefde vir lees laat ontwaak.” – Sophia Kapp, bekroonde skrywer

Vrydag, 1 Februarie is Wêreld-hardopleesdag – ‘n dag waarop ons opnuut herinner word aan die belangrikheid en positiewe impak van hardoplees en stories met kinders deel. Afrikaans.com beskou die geletterdheidskrisis in Suid-Afrika in ‘n ernstige lig en sien daarom die potensiaal in ‘n inisiatief soos Wêreld-hardopleesdag raak.

Voorlees is die beste ding wat jy vir jou kind kan doen

Stories voorlees en deel met kinders is een van die belangrikste dinge wat ‘n ouer of versorger met kinders kan doen, juis omdat dit ‘n sterk basis vir taal vaslê, kinders se woordeskat uitbrei en ’n groot rol in die ontwikkeling van empatie, nuuskierigheid en kritiese denke speel. Gehalte onderrig is ononderhandelbaar, maar boublokke soos lees en storievertelling moet gevestig word.

Elkeen van ons kan ‘n verskil maak en bydra tot ‘n Suid-Afrika waar kinders vir genot, betekenis en begrip lees. Begin sommer vandag nog en moedig kinders aan om hardop te lees, maar staan ook tyd af om gereeld saam met jou kind te sit en stories lees of vertel – al kan jou kind reeds self lees – jy sal verbaas wees waarmee die kleingoed vorendag kom as jy hulle aanmoedig om hulle eie stories op te maak!

Jy kan ’n verskil maak met Nalibali se uitdaging: #WRADChallenge2019

Die organisasie, Nalibali (Nal’ibali in isiXhosa vir “hier’s die storie”) vra dat die publiek hulle moet help om hulle doelwit om vanjaar op Wêreld-hardopleesdag hardop vir 1.5 miljoen kinders te lees, te verwesenlik.

Wat jy moet doen:

  • Gaan plaas jou belofte op Nalibali se webtuiste. Hiermee belowe jy om op die dag hardop vir die kinders in jou lewe te lees.
  • Volg die stappe soos op die webtuiste.
  • Lees op 1 Februarie vanjaar se storie vir die kinders in jou lewe voor.

Vanjaar se storie is “Waar is jy?” deur Ann Walton. Jy kan die storie aflaai in enige van Suid-Afrika se amptelike tale.

Hier is die skakels:

  • Om jou belofte te maak
  • Om die storie wat voorgelees moet word, af te laai (jy klik net op die taalblokkie van jou keuse).

Kyk die video wat in 2018 by Hibernia Primêre Skool in George opgeneem is. By die skool word hardoplees daagliks bevorder.

Lees ook:

  • Tien redes waarom hardoplees werk. Klik hier
  • Afrikaans.com se Leerhulpbronne oor lees. Klik hier
  • Vir die voorskoolse kind – klik hier vir leespret.
  • Op skool – hulp met lees. Klik hier
  • Dis hoekom ek lees. Bekende skrywers vertel. Klik hier
  • George Herald: Maak kinders lus vir lees. Klik hier
  • Lees meer oor die nasionale lees-vir-genot-veldtog deur Nalibali hier
  • Gratis stories by Storiekadorie