Wenke rakende die behoud van Afrikaans – wat om te doen?

  1. Hou aan om Afrikaans te gebruik waar dit kan.
  2. Lewe jou volle menswees in Afrikaans uit. Jy kan baie met en in Afrikaans doen.
  3. Maak Afrikaans ʼn leefwyse: “Gesels in Afrikaans, kuier in Afrikaans, sing in Afrikaans, bid in Afrikaans en vry in Afrikaans” aldus R. Swart (2017: 13).
  4. Wees eerder ʼn ambassadeur vir Afrikaans as ʼn stok aan die been vir Afrikaans. Afrikaans en Afrikaanssprekendes het genoeg vyande. Moet derhalwe nie nog vyande maak deur jou optrede (aggressief, onbeskof, brutaal, rassistiese opmerkings of optrede) nie.
  5. Maak seker dat versoening plaasvind binne die Afrikaanse gemeenskap. Raak deel daarvan en bly ook daarby betrokke. Vind die gemene grond en bou daarop voort aan verhoudinge.
  6. Die tyd vir “raas-en-blaas”-politiek is verby. Haal daarom die aggressie uit die debat oor Afrikaans. ʼn Geraas en ʼn geskel het selde ʼn positiewe uitwerking, eerder die teenoorgestelde as die doel van die lawaai. ʼn Bakleiery loop dikwels ná die aanvanklike lawaai uit op niks nie. Aggressie lok aggressie uit as teenreaksie en in hierdie proses is niemand regtig ʼn wenner nie.
  7. Wees positief oor Afrikaans se toekoms. Verander jou ingesteldheid oor die land en oor die taal. Laat jou optredes in en deur Afrikaans jou geloof en vertroue in die taal uitbeeld.
  8. Om Afrikaans te gebruik en te bevorder, maak jou nie noodwendig polities “regs”, ʼn “taalbul” of ʼn “taalstryder” nie. Inteendeel. Gaan dus met vrymoedigheid voort om te doen wat jy nodig vind om in Afrikaans te doen.
  9. Depolitiseer Afrikaans, met ander woorde haal die politiek uit Afrikaans uit (vgl. D. van Wyk 2018b). Maak dus die verbintenis tussen Afrikaans en negatiewe politiek los. Om Afrikaans te praat, is nie noodwendig ʼn politieke standpunt nie – maar dalk wel die wyse waarop jy dit praat.
  10. Moenie toelaat dat Afrikaans gekaap word vir regse politiek nie, soos op die webblaaie van organisasies wat Afrikaans as ʼn eksklusiewe taal beskou nie. Dit maak die goeie werk van diegene wat hulle vir inklusiwiteit beywer, maklik ongedaan.
  11. Wees bewus daarvan dat ʼn politieke erkenning van Afrikaans in al sy kontekste, en in die besonder in skole en universiteite, bepalend gaan wees vir die toekoms van Afrikaans in hierdie land.
  12. Aanvaar die werklikheid van politieke retoriek. Verwerk dit en gaan aan om dit wat jy doen, steeds goed te doen.
  13. Moenie polities vervreemdend optree nie. Die rubriekskrywer Max du Preez (2014b) meen dat “onnosel baklei nie (ʼn) slim keuse” is nie.
  14. Moenie dom dinge in of namens Afrikaans doen nie. Dink oor wat “dom” dinge is en vermy dit dan. Is die sing van die ou Afrikaanse SA volkslied by geleenthede in die Suid-Afrika van vandag “slim”? Rassistiese uitsprake deur Afrikaanssprekendes is “dom”.
  15. Besef dat Afrikaans nie die belangrikste taal in Suid-Afrika is nie, moontlik wel vir Afrikaanssprekendes. Maak vrede daarmee. Besef dat daar ook ander tale in die land is en dat hierdie tale ook vir die betrokke sprekers van kardinale belang is. In die belang van Afrikaans moet daarom wyer as net jou eie taal se belange gekyk word.
  16. Afrikaanssprekendes, in die besonder die wit sprekers van Afrikaans, durf nie as ʼn groep op die kantlyn staan of hulle onttrek uit die samelewing nie, maar hulle moet betrokke raak in leiersrolle en by diens in die gemeenskappe waar hulle woon.
  17. Ontwikkel ʼn gesindheid van dienslewering en diensbaarheid. Maak daarom in en deur Afrikaans ʼn verskil in jou omgewing. Raak betrokke by Afrikaanse verenigings, want Afrikaanssprekendes het baie te bied aan hierdie instansies: kundigheid, entoesiasme, energie.
  18. Wees eerder ʼn spreekbuis en voorbeeld vir Afrikaans as ʼn foutvinderige klakous – word iemand wat bereid is om die spreekwoordelike ekstra tree te loop vir Afrikaans, op alle vlakke: in gemeenskappe, in die beheerliggaam van skole, by welsynsorganisasies, by die opvoedkundige vorming van kinders uit minder gegoede omstandighede, by geletterdheids- asook uitreikprojekte.
  19. Moenie wag op die mitiese ander om die werk vir en in Afrikaans te doen nie. Daar word soveel mooi stories oor Afrikaanssprekendes se bydraes in hulle gemeenskappe vertel. Raak self so ʼn mooi storie.
  20. Help om in en deur Afrikaans van Suid-Afrika ʼn vooruitstrewende én suksesvolle land te maak.
  21. Afrikaans is nie net die taal van ʼn wit minderheid nie, maar die samevoeging van soveel sprekers, variëteite, funksies en gebruike. Koester hierdie veelheid van Afrikaans.
  22. Erken en respekteer die inherente verskeidenheid in Afrikaans: Afrikaans se sprekers wissel van standaardtaalsprekers tot niestandaardtaalsprekers (streekvariëteite, stylvariëteite, registervariëteite, sosiale variëteite, etniese variëteite, en so meer.
  23. Hou aan om onderwysers in Afrikaans op te lei – vir alle vlakke: van die grondslagfase tot die sekondêre fase. ʼn Tekort aan Afrikaanssprekende onderwysers dra by tot die agteruitgang van die status van die taal. Dit versterk ook die argument oor die belang van moedertaalonderwys. As daar nie onderwysers is om kinders in Afrikaans te onderrig nie, kan nie verwag word dat ander taalgemeenskappe hierdie rol moet oorneem nie.
  24. Gebruik die grondwetlik-gewaarborgde reg om Afrikaans in stand te hou daar waar dit onder druk kom. Afrikaanssprekendes het die reg om hulself vir die behoud van hulle taal te beywer (soos dit ook die sprekers van ander tale vrystaan om hulle vir hul tale te beywer). Daaroor hoef hulle nie skaam te wees nie.
  25. Haal ras as onderskeidende faktor uit die taaldebat en veral die Afrikaans-debat. Oorwegend wit Afrikaanse skole doen Afrikaans byvoorbeeld geen guns nie – Afrikaanse skole moet verteenwoordigend van die Afrikaanse gemeenskap wees.
  26. Hou op om vervreemdend ten opsigte van ras op te tree. Afrikaans is vir almal wat dit wil praat en nie net vir wit mense nie.
  27. ʼn Mens kan alles verloor deur op die behoud van alles aan te dring.
  28. Ontwikkel en identifiseer Afrikaanse
  29. Maak seker dat meer mense die taal praat: brei Afrikaans se sekondêre taalgemeenskap (niemoedertaalsprekers van Afrikaans) uit. Wat doen ons om Afrikaans aantreklik te maak vir die niemoedertaalsprekers van Afrikaans in die land?
  30. Hou aan om mense anders oor Afrikaans en – veral – Afrikaanse mense te laat dink. Dra daartoe by dat die negatiewe sienings van Afrikaanse mense vervang word deur positiewer ervarings.
  31. Herstel die onderlinge menseverhoudings in die Afrikaanse taalgemeenskap. Fokus op dit wat ons saamsnoer, eerder as op dit wat ons verdeel. Dra by tot versoening en help herstel sodoende interpersoonlike
  32. Gebruik Afrikaans om herstellend en regstellend op te tree. Verbind die strewe om Afrikaans te behou en te bevorder met ʼn aksie om die volle taalgemeenskap te betrek.
  33. Kry vennote en bondgenote om mee saam te werk. Hierdie vennote moet verkieslik uit die ander taalgemeenskappe kom.
  34. Afrikaanse organisasies kan meer saamwerk as wat tans die geval is. So dikwels is daar die een instansie wat iets aanpak, maar as daar ʼn logiese vennoot gesoek word, is daar niemand wat wil meedoen nie. Afrikaanse mense is bekend daarvoor dat hulle so maklik van mekaar verskil oor selfs die geringste saak. Begin saamtrek, eerder as uitmekaar trek.
  35. Afrikaanse mense moet ophou om onder mekaar te stry en te baklei, of selfs mekaar af te kraak of te beswadder. As iemand ʼn ander standpunt as jy het, maak dit hom/haar nie ʼn mindere spreker van Afrikaans nie. Die onderlinge gevegte gee bloot skietgoed aan diegene wat teen Afrikaans is, of wat apaties teenoor Afrikaans staan.
  36. Waardeer en ondersteun aktief die bydrae van instansies wat hulle bemoei met die dokumenteer en uitbou van Afrikaans. Daar word wonderlike werk hiermee gedoen.
  37. Lewer ʼn aktiewe bydrae dat die sprekers van Afrikaans (maar ook alle Suid-Afrikaners) met mekaar versoen raak. Raak betrokke by aksies wat reeds in hierdie verband begin is op nasionale vlak. Raak ook betrokke by hierdie soort aksies op plaaslike vlak.
  38. Leer die tale van die sprekers van ander tale aan. Dit is ʼn uitreik met groot positiewe gevolge omdat taal kan geld as ʼn bindmiddel. Deur mekaar se tale te leer en te gebruik, word ʼn gedeelde identiteit gebou. Twee- of meertaligheid is ʼn bate en nie ʼn las nie.
  39. Hou op om altyd skuldig te voel. Die verlede is verby, alhoewel dit nooit vergeet sal kan word nie.
  40. Moenie Afrikaans ʼn slagoffertaal maak nie. Afrikaans is veel meer as dit. Verbrand dadelik jou “Praat Afrikaans of hou jou bek”-T-hemp …
  41. Dialoog tussen Afrikaanssprekendes is ononderhandelbaar. Die dag as daar nie meer met mekaar gepraat word nie, begin die groot moeilikheid.
  42. Dialoog met ander taalgroepe in die land sal ook Afrikaans se saak versterk. Dit sal bydra om persepsies af te breek en die ruimte vir Afrikaanssprekendes bied om in ʼn ontvanklike konteks die saak vir Afrikaans en vir die Afrikaanse gemeenskap te stel.
  43. Stel persepsies reg oor Afrikaans, soos dat Afrikaans ʼn onderdrukkerstaal is. Sommige daarvan berus op misverstande en dit kan opgeklaar word met die hulp van gefundeerde, ingeligte argumente en feitestellings. Werk daarom aktief negatiewe persepsies oor Afrikaans en die sprekers van Afrikaans teen en maak Afrikaans eerder gelief.
  44. Sit prosesse aan die gang om onregte van die verlede te herstel (soos die ATR se versoeningsproses) en bly dan volhoubaar daarby betrokke.
  45. Ondersteun die grondwetlike reg op moedertaalonderwys: nie net vir Afrikaans nie, maar ook vir ál die tale in die land. “Goeie onderwys in ʼn taal waarin die kind gemaklik is, is die beste belegging wat ʼn mens kan maak” (Flip Buys). As daar nie meer Afrikaanse laerskole is nie, kan daar in die toekoms moontlik ook nie meer Afrikaanse hoërskole en Afrikaanse universiteite wees nie.
  46. Moenie Afrikaans op ander afdwing nie. Soweto 1976 is ʼn bewys van wat die gevolg daarvan kan wees en dit durf nie herhaal word nie.
  47. Bevorder Afrikaans as taal in meertalige Dit hou in dat beding kan word vir Afrikaans naas en saam met ander tale, sonder dat Afrikaans se vorige status afgeskaal word.
  48. Maak Afrikaanse kinders bewus van die belang van meertaligheid (dus om meer as een taal te kan praat), en ook van die vermoë om Engels goed te kan praat.
  49. Besweer persepsies dat Engels die énigste bruikbare taal in die land en ook die wêreld is. Dit is gewoon nie waar nie.
  50. Aanvaar die oorheersing van Engels. Om ʼn stryd teen Engels se impak in die land aan die gang te sit, gaan min resultate lewer in die lig van Engels se oorheersende rol as wêreldtaal. Omarm die geleenthede wat Engels gee en gebruik Engels as ʼn addisionele taal naas Afrikaans.
  51. Wees gewillig om ook in ander tale die “stryd” vir Afrikaans aan te pak. Dit is nie ʼn skande of ʼn verswakking om in Engels die Afrikaanse saak te stel nie.
  52. Raak kreatief in Afrikaanse onderwys. Daar is nie ʼn waarborg dat staatskole Afrikaans altyd sal bly aanbied nie, en daarom moet dit vir Afrikaanssprekendes steeds ʼn sterk opsie bly. Dit geld ook vir privaat hoëronderwysinstellings, soos Akademia.
  53. Benut die digitale era om Afrikaanse produkte op die mark te sit en dit sodoende vir ʼn wyer gehoor beskikbaar te maak.
  54. Stuur Afrikaanse kinders na Afrikaanse skole en na universiteite waar Afrikaans ʼn gevestigde medium van onderrig is. Wees egter ook bereid om Afrikaanse kinders na parallelmediumskole te stuur waar Afrikaans een van die tale is. Afrikaanse onderrig moet gesog bly en ook van die hoogste gehalte wees.
  55. Dit is van groot belang dat Afrikaanse skole voortreflikheid as vertrekpunt het en dit ook moet behou. Afrikaanse skole bly juis om hierdie rede vol: kwaliteit onderrig en moedertaalonderrig.
  56. Behou die wil om Afrikaans te gebruik (op soveel vlakke, maar veral op skool en universiteit). Raak betrokke by aksies om hierdie kernfunksie van Afrikaans in stand te hou.
  57. Maak seker dat Afrikaans ál sy funksies behou en selfs uitbrei: moenie sit en wag dat dit gebeur nie, help sodat dit wél gebeur. Dit is belangrik om te onthou dat ʼn taal begin agteruitgaan as die amptelike status van die taal weggeneem word, of as van die hoër funksies van die taal begin verdwyn.
  58. Gebruik Afrikaans voortdurend in alle funksies: laag en hoog. Een verlore funksie is reeds een te veel.
  59. Doen jou werk in Afrikaans en, indien moontlik, verskaf werk in Afrikaans. Gee Afrikaans hierdeur loopbaanwaarde.
  60. Respekteer die kontekste waarin Afrikaans gebruik word: in een konteks is Standaardafrikaans gepas en in ʼn ander een weer ʼn variëteit.
  61. Gebruik die taal in die standaardtaalkonteks op ʼn versorgde
  62. Gee om vir die gehalte van jou taalgebruik. Afrikaans hoef nie ʼn “plat” taal te word om te oorleef nie.
  63. Bemark Afrikaans op ʼn positiewe wyse, as ʼn vriendelike taal, as ʼn taal wat eerder vriende as vyande maak, as ʼn taal wat wil insluit, eerder as uitsluit, as ʼn taal wat almal welkom laat voel. Volg die ATKV se voorbeeld van: “Ons veg nie vir Afrikaans nie, ons bemark Afrikaans”. Ondersteun die werk van afrikaans.com.
  64. Bou aan Afrikaans se beeld as ʼn vriendelike taal. Afrikaanse mense is nie per definisie ongeskik, harteloos en vervreemdend nie.
  65. Raak betrokke by die demografisering van Afrikaans: Help dat Afrikaans ʼn volledige inklusiewe taal word en ook dat Afrikaans ʼn inklusiewe “gesig” het.
  66. Bevorder die Afrikaanse kultuur onder álle Afrikaanssprekendes.
  67. Hou die gesprek oor Afrikaans se toekoms oop. Raak daarby betrokke deur konstruktiewe deelname aan die gesprek deur te fokus op oplossings eerder as probleme.
  68. Ondersteun Afrikaans se aktiwiteite: kunstefeeste, musiek, boeke, verenigings, ensovoorts. Koop Afrikaanse boeke, koerante, tydskrifte, musiek.
  69. Ondersteun diegene wat hulle dienste en produkte in Afrikaans lewer. Daar word talle stories van suksesvolle Afrikaanssprekende entrepreneurs vertel.
  70. Die foute van die verlede moet nie – en durf nie – herhaal word nie.
  71. Maak Afrikaans weer ʼn aantreklike taal vir ander mense in die land.
  72. Daag sosiale manipulasie dat alles dieselfde moet wees, ten alle tye uit. Soos dat alle universiteite ter wille van die vae woord toegang (“access”) eerder eentalig Engels moet wees. Die uniekheid van die Suid-Afrikaanse samelewing lê in die natuurlike verskeidenheid van die inwoners van die land en hulle tale en daarom hoef alles nie eenders te wees nie.
  73. Hou daarmee vol om kritiese vrae oor die land te stel, en ook oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes se rol daarin.
  74. Wees trots op Afrikaanse prestasies, veral die prestasies wat bereik is sonder om politieke konflik mee te bring. Word deel van hierdie suksesverhaal deur self verdere bydraes te lewer.
  75. Beloon en erken Afrikaanse prestasies. Dit doen niemand skade om in die openbaar erkenning te kry vir wat hy/sy in Afrikaans vir Afrikaans, of vir die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap gedoen het nie.
  76. Begin bou aan ʼn nuwe geslag sakemense, en veral aan ʼn omgewing waarin wit en swart en bruin saam kan ontwikkel op sakegebied.
  77. ʼn Sosio-ekonomiese ontwikkelingsplan is nodig vir Afrikaanssprekende gebiede en vir Afrikaanssprekende mense. Belê in Afrikaanse mense en dra daartoe by dat sosio-ekonomiese ongelykhede verminder en mettertyd uitgeskakel kan word. Afrikaanse geld moet in die Afrikaanse gemeenskap teruggeploeg word.
  78. Stel Afrikaanse kundigheid en kennis beskikbaar aan ander taalgemeenskappe, maar waak hier teen paternalisme.
  79. Dit is nie belangrik om elke debat oor Afrikaans te wen nie.
  80. Bou in hierdie hele proses ʼn nuwe mite rondom Afrikaans: as taal van versoening, uitreik, handevat, saamwerk, saambou, menswaardigheid, wedersydse erkenning, respek. Die mites van die verlede oor “Afrikaans as taal van die Afrikaners” en van “Afrikaans as verdrukkerstaal” moet reg gelééf word.
  81. Hou aan om dinge vir Afrikaans te doen en wees dan kreatief in wat en hoe dit gedoen word.
  82. Die toekoms van Afrikaans lê in die jeug (wit, bruin en swart) wat wil volhou om dit te gebruik. Betrek daarom die jonger geslag by die debat oor Afrikaans. Gesprekke oor die toekoms van Afrikaans móét die volgende geslag gebruikers van Afrikaans insluit.
  83. Om Afrikaans te bly wees en te behou, kan geld kos. Afrikaanssprekendes moet besluit of hulle hierdie roete wil volg – soos die stig van privaat skole of universiteite met Afrikaans as medium van onderrig, die befondsing van hofsake teen die regering oor die afskaal van tale anders as Engels, die beskikbaarstel van befondsing om byvoorbeeld in Afrikaans navorsing te kan doen, die koop van Afrikaanse produkte (boeke, musiek, ens.), die steun van Afrikaanse entrepreneurs, ens.
  84. Afrikaanssprekendes durf nie hulle vertroue in hulle taal verloor, of in ʼn begrafnismentaliteit oorgaan nie. Afrikaanse mense durf nie moed begin te verloor oor Afrikaans se langtermynpotensiaal nie.
  85. Moet nie naïef wees oor Afrikaans nie. Onkundige persone wat stellings oor Afrikaans se gebruik in die toekoms maak, dra by tot die totstandkoming van ʼn valse selfvertroue oor die taal. Wees eerder ingelig en in staat om gegronde argumente te gebruik as Afrikaans se saak gestel moet word, in watter konteks ook al.
  86. Doen Sorg dat daar ʼn beleidstuk en ʼn plan gereed is vir Afrikaans. Dit is dwaas om sonder ʼn behoorlike taalplan voort te ploeter.
  87. Aanvaar dat die taaldebat oor Afrikaans in wese ʼn politieke debat is, en daarom gaan die oplossing (ook) ʼn politieke een wees.