fbpx

Vloek met flair (en voorbehoud)

Nie almal hanteer vloek dieselfde nie. Vir sommiges is dit bevrydend. Vir nog ander veroorsaak dit ongemak. Hetsy jou opinie daaroor, is die volgende so onvermydelik soos sommige mense se gebruik van kragwoorde in die verkeer: Dit ís deel van ons taal.

Maar, waar pas dit in? En hoe definieer ’n mens dit?

Die Virtuele Instituut van die Afrikaanse Taal (VivA) bied jaarliks ‘n publieke simposium oor taalkwessies aan. Vanjaar se simposium, getiteld Vloek met flair (en voorbehoud), het die kontroversiële tema van vloekwoorde en hul plek in die Afrikaanse taal ondersoek.

Die gesprek is gelei deur professor Gerhard van Huyssteen, taalkundige aan die Noordwes-Universiteit (NWU), stigter van die webwerf vloek.co.za en navorsingsleier van ‘n projek rakende vloekwoorde in Afrikaans. Van Huyssteen groepeer vloekwoorde volgens ses kategorieë: beledig, vervloek, sweer, swets, skel en laster. Dit is interessant om te merk dat woorde soos flip, soutie of donder volgens hierdie klassifisering dus ook as vloekwoorde bestempel word. Volgens Van Huyssteen is konteks egter die deurslaggewende faktor wanneer daar bepaal word wat as vloek beskou word.

Die f-woord en ander Afrikaanse realiteite … Prof. van Huyssteen brei oor sy navorsing uit:

Konteks maak saak

Konteks word bepaal deur die spreker se bedoeling, die boodskap self, sowel as die ontvanger se ervaring daarvan. Sophia Kapp, taaladviseur van VivA, het opgemerk dat die ontvanger se ervaring, veral binne die Suid-Afrikaanse konteks, gereeld meer water dra as die bedoeling of boodskap.

Volgens Van Huyssteen is navorsing oor vloek belangrik omdat dit deel vorm van ’n taal sowel as van ’n gemeenskap. Om hierdie rede is hy op die verhoog vergesel deur ‘n diverse paneel kundiges wat die onderwerp in verskillende milieus ondersoek het.

Vloek in die media

Susan Lombaard van Maroela Media het verduidelik dat hulle as voorsorgmaatreël en omrede hul Christelike wortels, ’n streng anti-beledigingsbeleid op hul platform toepas. Tog erken sy dat persone gereeld ’n sterk begeerte tot kru taal toon en Maroela Media se interne stelsels probeer omseil deur byvoorbeeld van ‘kreatiewe’ spelling gebruik te maak.

Vloek in die vermaaklikheidsbedryf

Hannes Brümmer, akteur en komediant, het vloek binne die vermaaklikheidsbedryf ondersoek en is van mening dat dit wel toepaslik is, mits ’n pertinente doel daardeur bereik word. Vloekwoorde kan byvoorbeeld die geloofwaardigheid van ’n karakter versterk. Hannes merk verder dat afstand ’n groot rol speel in die aanstootwaarde van ’n vloekwoord. ‘’Suid-Afrikaners is baie meer bekommerd as At Koster op Binnelanders lelik praat, as wanneer dit in ‘n Hollywood-fliek gebeur,’’ sê hy.

Vloek op die radio

’n Legende uit sy eie reg en voormalige uitvoerende regisseur van nuusaktualiteitsprogramme by RSG, Foeta Krige, het verduidelik dat die SAUK ’n streng beleid teen kru taal vir omroepers en in eie tekste toepas. Wanneer vloekwoorde egter gedurende ’n onderhoud of uit derdepartybronne voortspruit, word dit wel soms toegelaat. Volgens hom neem mense gereeld meer aanstoot oor spesifieke onderwerpe as oor spesifieke woorde. Molestasie is byvoorbeeld nie ’n vloekwoord nie, maar klagtes hieroor is gereeld by die Suid-Afrikaanse uitsaaikorporasie ingedien.

Kreatiewe vryheid in die teater

Lizané Basson, voormalige projekorganiseerder vir die ATKV-Tienertoneel, het die onderwerp binne skool- en toneelkonteks bespreek. ’n Fyn lyn bestaan tussen beskerming van die jeug en toelating van kreatiewe vryheid, tog skryf die ATKV nie voor aan tekste nie. Volgens Basson moet teksvryheid juis toegelaat word omdat tieners in ’n ontwikkelingsfase is. Boonop vloek tieners in hul persoonlike hoedanigheid. Die feit dat dit ’n gehoor ongemaklik mag laat voel, is nie noodwendig ter sprake nie. Weereens word konteks en doel hoog geag. Tekste wat deur die skoolkinders self geskryf word, bevat volgens Basson oor die algemeen meer kru taal as daardie wat deur volwassenes geskryf word.

Romanskrywer en redakteur van Taalgenoot, Johan Jack Smith, is nie van mening dat vloekwoorde ’n weerspieëling van ’n karige woordeskat is nie. Hy is wel attent daarop dat woordrykheid en verskeidenheid nie ten koste daarvan ingeboet moet word nie. Sedert die geboorte van sy seuntjie, is hy ook versigtig om vloekwoorde in sy persoonlike lewe te gebruik. Konteks is dus weereens deurslaggewend.

Afrikaans is ’n kleurvolle taal. En, of dit nou deel van jou praat-palet is of nie, vloekwoorde is ‘n faset daarvan.  Eerder as kop in die sand steek, is dit daarom goed om daaroor te praat, dit na te vors en, waar van toepassing, te gebruik.

As jy wil deel vorm van die navorsing, kontak Gerhard van Huyssteen op www.vloek.co.za.

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.