Vier-en-twintig Suid-Afrikaanse woorde en frases haal die Oxford-woordeboek

Bun Booyens skryf in ’n artikel op Netwerk24 dat “woorde oor en weer migreer wanneer die sprekers van ’n ander taal nie daarsonder kan klaarkom nie … soos pap en wors op kitskosrestaurante se spyskaarte … “porridge and sausage” is darem nou net nie dieselfde nie. Ons hier by Afrikaans.com kan aan ‘n hele paar ander dink. Kyk hier na nuutskeppings wat al meer vastrapplek kry in ons daaglikse lewe.

Die woorde wat nou in die Oxford opgeneem is,  is eg Suid-Afrikaans en woorde wat ons gebruik wanneer ons aan ’n besoeker dinge in Suid-Afrika sou wou beskryf: kos, drank, geweld, gasvryheid, padveiligheid, mediese hulp en medemenslikheid. Bun voel net dat “tickey box” dalk nie daar hoort nie, want ’n mens sien nie meer die oorspronklike telefoonhokkies waar op die ou manier gebel word nie – daardie hokkies waar menige arm student skelm ’n langtiekie gebruik het.

Die 24 jongste woorde en frases wat in die Oxford-woordeboek opgeneem is

amakhosi (stamhoofde);  bunny chow; deurmekaar; district surgeon; dwaal; eina; gumboot dance; howzit; ingcibi (man wat besnydenis doen); ja; ja well no fine; kasi (huis); kif (“cool”); Mzanzi (SA); sakkie-sakkie (sokkie – langarmdans); sarmie (toebroodjie); schackland; spaza shop (winkel); skedonk; tickey box; toyi-toyi; traditional leader (eerder as toordokter); ubuntu; voetstoots; en wine of origin.

Met eisj, ja!

Bun skryf ook: “Dink nou maar aan die woord, ’eisj’ – daardie woord wat lotsaanvaarding en gatvolheid in een weergee – wanneer jou skedonk gaan staan, jou wine of origin vinnig opraak, die tou buite die district surgeon nie korter wil raak nie en wanneer jy hoor daar is vanjaar weer talle seuns dood weens ’n onbeholpe ingcibi” – eisj!

Ek sal dit nou-nou doen!

Almal wat in Suid-Afrika woon, weet dat dit beslis nie beteken dat iemand iets dadelik gaan doen nie – trouens, ’n mens kan nie met sekerheid sê wanneer dit gedoen gaan word nie!

Lees ook:

Die volledige artikel op Netwerk24 oor ‘Die wonder van woorde wat oor en weer migreer’.

LitNET beskryf die woord ‘langtiekie’.

Oxford English Dictionary-blog: Klik hier.

Lag lekker saam met Katinka, ‘n Afrikaanse vlogger wat Suid-Afrikaanse ‘slang’ aan oorsese besoekers verduidelik … (die video het al meer as 130 000 trefslae!)