Nederigheid … eenvoud en sy taal –

Tobie Cronjé, die koning van die klug ontvang erkenning

Tydens die oorhandiging van die UP-Kanseliersmedalje. Foto: Universiteit van Pretoria.

Tobie Cronjé het onlangs, na vier dekades in die bedryf, die Kanseliersmedalje van die Universiteit van Pretoria ontvang vir sy reusebydrae tot die kunste.

Hy is in 1948 in Germiston gebore. Hy het aan Vryburger Hoër in Primrose gematrikuleer en het drama aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Tobie is veral bekend vir sy spel in klugte soos My vrou se man se vrou en My vrou se man se lyk se tas, en sy jaarlikse vertolkings van “dames” in Janice Honeyman se pantomimes vir die Nelson Mandela-teater in Johannesburg. Hy is egter ook ’n sterk dramatiese speler, soos hy bewys in die titelrol van Chris Barnard se Man met vakansie en in ander rolle in onder meer Die rebellie van Lafras Verwey en I Love My Wife.

Hy maak sy debuut in die rolprent Die Sersant en die Tiger Moth. Ander snaakse flieks, soos Babbelkous en Bruidegom(1974) en Kootjie Emmer (1977), het sy gewildheid verder laat toeneem.

Tobie het reeds in die beginjare van plaaslike televisie ’n huishoudelike naam geword as Willem in ’n gelyknamige komiese speurreeks. Daarna het hy in talle TV-produksies, soos Binnelanders en Onder draai die duiwel rond, verskyn.

Tobie het onlangs met Afrikaans.com gesels oor waaraan hy sukses toeskryf en wat alles daartoe bydra asook sy liefde vir sy taal, Afrikaans. Kyk hier …