SA se Aksieforum ter viering van 2019 –

Internasionale Jaar vir Inheemse Tale

Internasionale Jaar vir Inheemse Tale

2019 is deur die Verenigde Nasies gekies as die Internasionale Jaar vir Inheemse Tale met die uitsluitlike doel om bewustheid te skep van die gevolg van die verlies aan inheemse tale asook die belangrike skakel tussen taal, welvaart, vrede en ontwikkeling.

Inheemse tale

“Taal word gebruik om te kommunikeer, dit definieer identiteit, gee uiting aan geskiedenis en kultuur. Taal maak leer moontlik en deur taal word gebruike en tradisies oorgedra.  Deur taal kan gemeenskappe hul gedagtes, gedeelde geheue en unieke gedagtegang bewaar.” 

Taal is een van die belangrikste pilare in die beskerming van menseregte, goeie regering, die instandhouding van vrede, versoening en volhoubare ontwikkeling – Die VN

‘n Kaart van ‘n paar inheemse tale in Australië

Het jy geweet?

  • Daar word 7 000 tale wêreldwyd gepraat.
  • Daar is 370 miljoen inheemse mense in die wêreld.
  • Daar is 90 lande met inheemse gemeenskappe.
  • Daar is 5 000 verskillende inheemse kulture.
  • Inheemse gemeenskappe praat 2 680 verskillende tale.

Die Aksieforum vir Inheemse Tale (Indigenous Languages Action Forum – ILAF) is onlangs geloods. Hierdie forum het ten doel om inheemse tale en meertaligheid in verskeie sektore te bevorder en te ondersteun. Hulle vestig ook die aandag op die “enorme voordele wat die gebruik van die land se inheemse tale in sektore soos die onderwys, die regstelsel en die ekonomie vir ons inhou”, aldus dr. Carole Bloch, direkteur van die Projek vir die Studie van Alternatiewe Onderwys in Suid-Afrika.

“Sonder die inheemse tale sal dit moeilik wees om die land se volle ekonomiese potensiaal te bereik of om inklusiewe ekonomiese groei te bewerkstellig,” sê dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad. “Meertaligheid is nie ’n mode nie, maar ’n fundamentele keuse oor hoe ons land moet lyk.”

Die Aksieforum sal teen einde Maart meer besonderhede oor beplande aktiwiteite bekendstel.

Lees meer hier.

Die Afrika in Afrikaans

Hierdie lesing is op 21 Oktober 2016 deur wyle prof. Christo van Rensburg (skrywer van “So kry ons Afrikaans” wat deur LAPA uitgegee is) in Clanwilliam gehou as deel van die ATKV se Taalerfenissimposium.

Afrikaans se begin moet mens so stukkie vir stukkie ontrafel, omdat niemand daardie begindae van Afrikaans stap vir stap neergeskryf het nie. Eintlik het niemand geweet dat daar toe ’n nuwe taal begin het nie. Die eerste sprekers van Afrikaans het die avontuur van hierdie taalargeologie-snuffelwerk vir die mense gelos wat ná hulle sou kom. Die agternasoek na Afrikaans vra respekvolle geduld, en daarna is dit die meet-en-pas en bymekaarsit van die flenterstukkies Beginafrikaans wat op hulle beurt ook terg en hulle eie spel speel.

Wat weet hierdie agternakommers?

  1. ’n Taal val nie uit die lug uit nie.
  2. Taalkontakmakers het al dikwels gemaak dat nuwe tale begin het. Die een groep wat so ’n rol gespeel het, vier, vyf honderd jaar gelede aan die Kaap, weet ons, was die Khoi. Die ander groep? Hulle was die seelui wat van 1595 af in Hollandse skepe die Kaapse kus aangedoen het. Hulle het vir die ander taal/tale gesorg.
  3. Ons weet ook dat daardie eerste aanleerderstaal baie ooreenkomste met hedendaagse Afrikaans vertoon. Daarom kan iets wat vir lank skaars gesê is, weer gesê word: daardie eerste Khoi wat met die Nederlandse seelui kontak gemaak het, was die eerste sprekers van Afrikaans. Maar vir baie van die nageslagte van daardie eerste sprekers is dit nie nuus nie. Hulle sê dit nog altyd, al is hulle nie taalkundiges nie.
  4. Ons weet ook: om meer te wete te kom van Afrikaans, moet ons meer van die Kaapse Khoi af weet, en van hulle taal.
  5. Verder het ons belangrike snippers van die taal van daardie eerste jare bymekaargemaak. Ma’ daais nie allie. Ons het ook nageslagte van nageslagte van die eerste sprekers van Afrikaans. Hulle bewaar ou Afrikaans in hulle geheues. Woorde is soos saad wat jare lank in die sand kan lê sonder dat iemand daarvan weet. As daardie woorde agterkom dat iemand soek-soek vra om asseblief bietjie op te skiet met die taalsoektog, ontkiem hulle weer in die monde van hulle Afrikaanssprekende mense.

Iets van hierdie soek na Afrikaans se begin kan ons met mekaar deel in ’n storie oor ’n paar sulke woorde. Die woorde vertel ons soveel meer van Afrikaans – nie net van sy eerste woorde nie, maar ook van sy eerste sprekers.

Watter woorde is Afrikaans se eerste woorde? Dit was woorde wat sy sprekers in ruilverkeersituasies gebruik het. Handelswoorde. Die woorde van ’n taal is nie almal ewe oud nie. Woorde het hulle eie geskiedenisse. En hulle eie maats. Die woorde van ruiltransaksies is ouer as ander.

Die nuwe taal van die ruiltransaksies is later Khoi-Afrikaans genoem, en ander name ook. Dit was ’n ander taal as Khoi.

Wat het van hierdie Khoi-Afrikaans geword? Omstandighede het gemaak dat Khoi aan die begin van die 18de eeu nie meer die enigste taal van die meeste van die Khoi-sprekers was nie, en mettertyd ook nie hulle moedertaal nie. Khoi-Afrikaans het later een van die bekendste tale in Suid-Afrika se binneland geword, en reste daarvan kan nog oor die hele Suid-Afrika gehoor word.

En die eerste Afrikaanse woorde? Mens kan maklik uitwerk watter woorde onder die heel vroeë woorde gebruik is in daardie vroeë ruiltransaksies wat van 1595 af plaasgevind het. Dit was woorde soos:

1. Brood

Hoe het die eerste Afrikaans vir brood geklink?

Daardie vroeë seelui het, soos by vandag se uitverkopings ook die geval is, brood en skeepsbeskuit uitgedeel om mense met skape en beeste op die markplek te kry waar hulle wou handel dryf. Hulle het weer koper gehad, en ander ware waarin die Khoi toe geïnteresseerd was.

Hoe het die Khoi onder mekaar gepraat as hulle die Nederlandse woord brood wou sê? Hulle het brood op verskillende maniere gesê, maar het elke keer met bro– probeer begin.

1.1       Dit is vir ’n Khoispreker moeilik om b+r+o aan die begin van ’n woord uit te spreek. Die eerste aanleerders het die r+o omgeruil, soos ons nog dikwels hoor wanneer mense byvoorbeeld pro-beer wil sê, maar by per-beer uitkom. Hulle het op dieselfde manier nie bro– gesê nie, maar die woord vir brood begin met ber– of bar– (wat in 1626 al opgeteken is).

En vir die res van die woord? Daar het die Khoi se moedertaal oorgeneem. Brood se woordgeslag, wat vir die Khoi-sprekers aan die begin ’n ernstige saak was, en aangedui moes word, is manlik, daarom die b aan die einde. Dit verklaar ook die optekenings ber+ib, of ook bar+ab.

Die woord baraba is ook opgeteken, waar nog ’n betekenis by die betekenis van brood bykom. Wat beteken die optekening? Die a aan die einde beteken “vir iemand”, en die voorafgaande gedeelte verwys na brood + manlik. “Barab-a is my naam,” sou ’n Khoi-man in sy taal kon gesê het – die brood-vir-iemand-man, die broodman. Dit was die naam van die man wat met genoeg selfvertroue die brood by die skepe gaan haal het vir die ander wat gehuiwer het.

En die woordsaad onder die sand? Ber-ib leef van Afrikaans se vroegste tyd af tot vandag toe, al hoor mens hom nie so baie nie. Maar gee hom net water! Hierdie Khoi-Afrikaanse woord per-e-bvir brood is tot in 1977 nog opgeteken. Die volgorde p+e+r wys dat die woord baie oud is, en uit ’n tyd kom voordat die aanleerders bro– gesê het. Bestaan die woord nog? By die ATKV se Taalerfenissimposium op Clanwilliam op 21 Oktober 2016 was daar uit ’n groepie van vier bejaarde mense twee wat gesê het dat hulle die woord berep vir brood ken.

1.2       Bro-

Toe hierdie vroeë aanleerders Khoi-Afrikaans al beter begin praat het, het hulle nie meer die klanke omgedraai nie. Hulle het bro– goed geleer uitspreek. En vir die versameling van brood en skeepsbeskuit? Daarvoor het Khoi net die regte woorddeel: –kwa, en hulle maak dan die woord bro-kwa = broodgoed vir brood en (skeeps)beskuit.

-kwa kom nog baie voor, soos in Nama-kwa, wat die veeboere gehoor het as –goed, wat vir hulle dieselfde beteken het as –hulle, soos in ma-hulle, die ekwivalent van ma-goed.

2. Gee

’n Tweede broodnodige woord in ruilgesprekke is gee, dikwels met ’n dringende beklemtoning. Ghe-ma-re is in hierdie betekenis opgeteken. Wat beteken dié woord?

2.1       Die herkoms van die ghe- van ghe-ma-re is duidelik: dit is die vroeë verafrikaansing van die Nederlandse werkwoord geven. Die res van die woord het met die dringendheid van die handeling te make, en met verstaanbaarheid, volgens die aard van ruilgesprekke. Ma- is die Khoiwoord vir gee. Gee word so met dringendheid en vir beter verstaan herhaal, en daarby versterk –re, die bevelspartikel, die dringendheid nog. Iets van die dinamiek van ruilgesprekke kan hierin gelees word. Ghe-ma-re beteken dan “gee + gee + moet”. (In leeu-gamka bestaan die herhaling vandag nog: leeu-leeu.)

2.2       Daar is nog ’n vroeë vorm vir gee opgeteken. Hierdie vorm lê op die sand, en is oor die hele land bekend. Die Khoi het die Nederlandse woord vir gee (geef) gehoor as ou, (“ou my ook so ’n bietjie daarvan”), wat in ou+te+re ook van die vroegste Afrikaans se tyd af bestaan. Ti– is my, en –re weer eens die bevelsvorm, sodat dit “gee-my-moet” beteken. (Net so beteken at-re (at+re = eet-moet-jy!).)

Om gee vir my brood te vertaal is nou voor die hand liggend: Ou+te+re brokwa.

3. Biesie

3.1       harub beteken in Afrikaans “biesie”. Waar kom die bekende samestelling hartbeeshuis vandaan? Harub is herhaal met die woord biesie. Harub-biesie-huis het na taalkontak met ander sprekers hartbeeshuis geword.

4. Genusaanduiders

Agter aan Afrikaanse stamme het die Khoi-Khoin met sorg genusaanduiders geplaas, waarop alreeds gewys is. Garie-b is ’n groot rivier, dit wys die –b vir manlik. Die –s dui weer vroulik aan: Khoe-s is ’n vrou.

4.1       pyp

Die Khoi kon maklik die woord pyp sê. Die onoorkomelike probleem is net dat die woord dan manlik is, en die seelui se betreklik klein pype vroulik moes wees. Hulle aanleerderswoord vir pypPe-s (wat vroulik is). Net so is kama-s die aanleerderswoord vir kam.

4.2       rug

Vir ’n mens se rug is re-n-a opgeteken, wat na Nederlands rug toe teruggevoer kan word. Maar later het ’n ondersoeker gesê: “Nee, die segsman wat hy uitgevra het, wys dit is skouer.” Die oplossing? Die segsman wou na sy rug toe wys, maar kon net by sy skouer bykom!

U moet mooi loop. Of moet ek sê !gaitse (mooi) ga (loop) re (moet)?