Ons klink ‘n glasie op Afrikaans: Enkele hoogtepunte van 2018

In 2018 het Afrikaans gekook, gesing, gedans, gekuier, feesgevier, tuingemaak, gespeel, gespel, gefliek, geëet, gereis, en weer op internasionale verhoë ʼn buiging gemaak. Afrikaans is ʼn diverse taal vir oud en jonk, ʼn taal wat brûe bou en mense na mekaar toe aantrek. 2018 was propvol wonderlike hoogtepunte vir die Afrikaanse taal. Hoewel dit moeilik is om uit te sonder het ons ons bes probeer. Alita Steenkamp staan stil by 20 redes waarom jy vanjaar ʼn glasie op Afrikaans se sukses kan klink.

  1. Met ʼn heerlike Akoesties in Afrikaans-konsert in Hartenbos, het die ATKV reeds op 4 Januarie gesorg vir Afrikaanse musiek van gehalte. Kunstenaars soos Theuns Jordaan, Riana Nel, Elvis Blue en Jo Black het die voete in die bekende vakansiedorp aan die dans gehou.
  2. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het vroeg in 2018 Afrikaanssprekendes se harte laat warm klop. Sy het in Januarie op ʼn mediakonferensie gesê dat Afrikaans een van die mees ontwikkelde Afrikatale is, en dat dit daarom ʼn belangrike plek in basiese onderrig moet inneem.
  3. Op 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag wêreldwyd gevier en ook hier in Suid-Afrika het ons die geleentheid gekry om weer die fokus te laat val op die noodsaaklikheid van onderrig in Afrikaans vir alle Afrikaanssprekende kinders. Die Afrikaanse Taalraad is een van die organisasies wat hard werk om die belangrikheid van moedertaalonderrig te onderstreep en die voorsitter, prof Anne-Marie Beukes, die uitvoerende hoof, dr Conrad Steenkamp en direksielid me Fatima Allie, het heerlik hieroor saamgesels op ons Moedertaalblad.
  4. Heel gepas het rymkletser YOMA, ʼn jong en opwindende Afrikaanse ambassadeur, ook hierdie dag gekies om haar debuutalbum, Moedertaal bekend te stel. Yoma het in April ʼn Ghoema-toekenning ontvang vir die beste hip-hop-liedjie, “Wille Kat” wat op hierdie album opgeneem is. In November is YOMA ook tydens die Afrikaanse Taalraad se jaarlikse Kokertoekennings met ʼn jeugtoekenning vereer.
  5. Die jaarlikse Woordfees op Stellenbosch het verskeie geleenthede vir jong en opkomende kunstenaars gebied. Een van die hoogtepunte van hierdie fees, volgens die kunstenaar Janine Neethling wat tydens die fees bekroon is met die In Verbondenheidsprys, was die Eeufeeskonsert. Volgens Janine was die meer as 300 deelnemers ʼn goeie deursnit van die talent in ons land. “Van Mi Casa en Laurika Rauch, tot geweldig baie kinders van Paul Roos se fantastiese tromkorps, die Dennegeur-marimbagroep van Elgin se wêreld, die Ronnie Samaai Music Education Project se jong violiste tot die Plaasskoolkoor van Grabouw het blootstelling gekry,” het sy in ʼn koerantonderhoud gesê. Danie van Wyk, ʼn Projekbestuurder van Fedsas Wes-Kaap en beskermheer vir Afrikaans.com het onder meer die volgende oor die Woordfees kwytgeraak: “Die belangrikste hoogtepunt is die geleenthede wat geskep word by Afrikaanse feeste soos die Woordfees om Afrikaans as ʼn inklusiewe en vriendelike taal voor te stel en uit te leef…”
  6. In April het ʼn breë groep Afrikaanse organisasies hande gevat met die stigting van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON): Fedsas, die SA Onderwysersunie, die ATKV, Helpende Hand se ondersteuningsentrum (SOS), die Afrikaanse Taalraad en die Trust vir Afrikaanse Onderwys. ʼn Organisasie soos hierdie is broodnodig om die toekoms van Afrikaans in die onderwysstelsel te verseker.
  7. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in April aangekondig dat Jaco Jacobs bekroon gaan word met die Tienie-Holloway-medalje vir kleuterliteratuur met sy prenteboek Hierdie briljante skrywer het ook in Novembermaand die kollig gehaal met de nuus dat die Engelse vertaling van sy boek, ʼn Goeie dag vir Boomklim, benoem is vir die Carnegie-medalje, Brittanje se oudste en mees prestigeryke literêre prys vir kinderboeke. In November het twee van Jaco se kinderboeke ook pryse by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Letterkundetoekennings opgeraap.
  8. In Mei vanjaar het die ATKV soos gebruiklik die uitblinkers in die Afrikaanse media met ʼn ATKV Mediaveertjie Su-An Müller-Marais, een van ons Afrikaanse ambassadeurs, en Waldimar Pelser, ʼn Afrikaans.com beskermheer, het elkeen met een van die pragtige trofees weggestap.
  9. In Junie vier ons Jeugdag en vanjaar was geen uitsondering nie. Hoe lekker is dit om raak te sien dat dit deesdae heel kief is vir jongmense om Afrikaans te wees! Daar is meer as genoeg jongmense wat waarlikwaar verskilmakers in ons Afrikaanse leefwêreld is.
  10. Met die ingang van Junie na Julie het binnelanders Laeveld toe gevlug vir ʼn bietjie warmer weer en ʼn heerlike Afrikaanse fees. Vanjaar was die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees weer eens ʼn dawerende sukses.
  11. Op Donderdag 26 Julie het die Grondwethof ʼn belangrike besluit geneem deur te bepaal dat indien daar naburige Engelse skole is wat die kapasiteit het om leerders in te neem, Afrikaanse skole nie gedwing kan word om Engels as onderrigtaal te gebruik nie. Voorwaar nie net ʼn oorwinning vir Afrikaans nie, maar vir alle tale en moedertaalonderrig in sy geheel, soos Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV, gesê het.
  12. Al kan daar nie regtig ʼn geboortedag aan Afrikaans gekoppel word nie, word 14 Augustus al vir baie lank as die geboortedag van Afrikaans beskou, juis omdat die Genootskap van Regte Afrikaners op daardie dag gestig is. Prof Christo van Rensburg, skrywer van die boek Van Afrikaans gepraat, het kort voor sy dood op 13 Augustus in ʼn onderhoud beklemtoon dat ons nooit hierdie groepie manne uit die Paarl se bydrae tot Afrikaans mag miskyk nie.
  13. Dit was verblydend om te hoor dat die Afrikaanse Taalraad, tydens hulle jaarvergadering in Augustus veral klem gelê het op die groeiende diversiteit van Afrikaans en die Afrikaanse Taalraad beplan om in die toekoms nog meer erkenning aan uiteenlopende gesigte en klanke van Afrikaans te gee.
  14. Tydens vanjaar se Silwerskermfees is die rolprent Kanarie, met Schalk Bezuidenhout in die hoofrol, as die beste speelfilm aangewys. Schalk woeker behoorlik as ʼn Afrikaanse ambassadeur en het ook vanjaar sy boek, Truitjie roer my nie, bekendgestel. Hy het ook heerlike raad vir enige jong redenaar
  15. Afrikaans bly nou maar #onmisbaar in die harte van soveel mense. Afrikaans.com se #onmisbaar-veldtog is in September met ʼn hele paar interessante gesigte as deel van die veldtog
  16. In September, ook bekend as erfenismaand, val die kollig ook op ons Afrikaanse erfenis. Een van die wonderlike produksies wat in September op die planke was, is Katrina: Die Dansende Taal, geskryf deur Coenie de Villiers. Dit is ʼn dans-, woord- en musiekproduksie gebaseer op die lewensverhaal van Katrina Esau, die laaste oorblywende persoon wat die San-taal N/UU vlot kan praat.
  17. com se muurkunsinisiatief het in die afgelope twee jaar by 20 skole ʼn kleurvolle muurskildery opgerig om leerders aan te moedig om Afrikaans te koester en te vier. Een van 2018 se hoogtepunte, was die oprigting van ʼn Afrikaans.com- muur in September in die sensoriese tuin by die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester. Dit is gedoen in samewerking met o.a. die ATKV se Handevatprojek, Hoërskool Brackenfell, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en natuurilik Afrikaans.com.
  18. Een van die opwindende Afrikaanse platforms, VivA, het behoorlik gekook die jaar. In September het Marlie Coetzee die leisels oorgeneem by prof Gerhard van Huyssteen. VivA se spraakatlas, waarin hulle data deel sodat navorsing gedoen kan word oor al die verskillende uitsprake, dialekte en variëteite van Afrikaans, is goed op dreef. VivA spog ook met ʼn Algemene Woordeboek van Eietydse Afrikaans (EWEA) wat deur hulle leksikograaf, Jana Luther, opgestel is en uitgebrei word. Dit is ook op VivA se slimfoontoepassing, die Woordeboekportaal, beskikbaar.
  19. Die jongman wat in November as wenner in Afrikaans.com se #droomgroot18-talentkompetisie aangewys is, Wian Visser (17) van Germiston, se groot droom is bewaarheid toe die kleurvolle Rocco de Villiers hom by sy huis verras het om die nuus van sy oorwinning met hom te deel. Wian kry op 17 Februarie 2019 die geleentheid om die verhoog met Rocco te deel tydens ʼn konsert in die Atterbury-teater. Net nog ‘n bewys dat drome wel waar word – solank ‘n mens nooit ophou droom nie en hard werk.
  20. Of ʼn mens dit nou wil weet of nie, en al is Facebook soms ʼn onmiskenbare ergernis in ons lewe, is dit ook ʼn wonderlike platform om mense wat eenders oor sekere sake dink en voel bymekaar te bring. Een van hierdie heerlike platforms, is Lekkerleesboekrak wat pas die 9 000-ledetal bereik het. Hierdie groep boekwurms gesels daagliks saam oor boeke, skrywers en alles wat ʼn leser se hart laat warm klop. Karin Behrens, een van ons ambassadeurs, is een van die administrateurs van hierdie gesellige groep.

Die jaar wat verby is, het weer eens onderstreep dat Afrikaans ʼn ware kanniedood is. Mag daar in 2019 nog meer brûe gebou word sodat al hoe meer mense saam kan gesels oor ons wonderlike taal wat steeds bly groei hier aan die suidpunt van Afrika. Ons harte klop immers almal in Afrikaans!

Afrikaans.com se suksesse:

Milanie Vosloo, projekbestuurder en Clara Olivier, assistent-projekbestuurder en sosiale media gesels met Magdaleen Krüger in haar weeklikse Taaldinge-program op RSG.

Ons sluit af deur ’n paar van die groot name in Afrikaans wat vanjaar oorlede is, te onthou:

Prof. Christo van Rensburg  wat sedert die ontstaan van Afrikaans.com deurlopend betrokke was by die ontwikkeling van nuttige en waardevolle inhoud wat waarde toegevoeg het tot die gehalte van ons leerhulpbronne. Hy was ook instrumenteel in die ontwikkeling van die Afrikaans.com-oorsprongtydlyn en was van hulp met die samestelling van ons reeks oor die variëteite van Afrikaans.

Luister hier na sy laaste onderhoud met Alita Steenkamp: https://iono.fm/e/591927
(Die onderhoud is opgeneem om agtergrondinligting vir die artikel oor Afrikaanse Taaldag 2018 te versamel.)

Lerina Erasmus –  aktrise en skrywer wat diep spore in die Afrikaanse leefwêreld getrap het.

Cecile Cilliers – Cecile het vir meer as 30 jaar rubrieke vir Beeld, De Kat en Sarie geskryf. Vroeër vanjaar het haar bundel, Die ouvrou en die priester, verskyn. Lees meer hier.

Prof. Marinus Wiechers – regsgeleerde, grondwetkenner en voormalige rektor aan Unisa. Vroeër vanjaar het prof. Wiechers die Jan H. Marais-prys vir sy uitstaande bydrae in Afrikaans as wetenskaptaal van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Prof. Wiechers en prof. Van Rensburg het die prys gedeel. Lees meer oor prof. Wiechers hier.

Koos Human was ’n Afrikaanse uitgewer (NB-uitgewers), rubriekskrywer en musiekkenner. Lees meer oor Koos hier.

Tom Gouws  – die bekende skrywer is tragies dood nadat hy in ’n huisroof doodgeskiet is. Lees ook die berig wat op Maroela Media verskyn het na sy dood.

Cas van Rensburg – joernalis, dramaturg en skrywer.