fbpx

Nuwe neigings in Afrikaans, of is dit nou trends

Hoe spel jy dit? Is dit nou een woord, of twee of ’n koppelteken … en wat vir ’n ding is ’n afstandskoppelteken? En is dit nou ’n anglisisme of ’n leenwoord?

In die nuwe (2017) Afrikaanse woordelys en spelreëls is daar ’n hele paar leenwoorde uit Engels opgeneem, maar nie voor deeglike oorweging nie. Trouens, die opname van leenwoorde word bepaal deur die gebruiksfrekwensie en verspreiding van die woorde na te gaan en indien bevind word dat daar “ondanks verskeie pogings, dikwels oor etlike jare heen”, nie met ’n bevredigende vertaling of nuutskepping vorendag gekom is nie, die woord sy regmatige plek in hedendaagse Afrikaans verdien. Voorbeelde hiervan is venue, smoothie (gladdejantjie) en app (toep). Laasgenoemde twee, hoewel ook in die HAT, “het eenvoudig nie op dieselfde, vinnige, deurslaggewende manier by gebruikers inslag gevind nie”. Daarteenoor het die woorde hommeltuig (drone) en viertrek (4×4) dit wel reggekry.

Nuwe woorde

Gerhard van Huyssteen skryf na die verskyning van die jongste AWS dat heelwat van die nuwe woorde wat opgeneem is uit gebruiksvariëteite soos Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans spruit. Woorde soos antie, dhaltjie, gangster en poenankies (oulik). Ander woorde wat deesdae deel is van Afrikaans is googleloer, meem, warsender, antispioenware, selfie, skermgreep, hidrobreking, flop en muffin (want, ’n muffin is eenvoudig nie ’n kolwyntjie nie!)

Meer oor anglisismes

“Eers wanneer Engels die eie aard van Afrikaans aantas, kan ’n mens van ’n anglisisme praat.”

As dit Engels lyk, is dit mos ’n anglisisme. Nie noodwendig nie. Die HAT Taal- en Feitegids (pp.14, 15) gee drie redes hoekom ’n mens versigtig moet wees voordat jy sommer goedsmoeds die anglisisme-etiket aan ’n woord of frase hang. Afrikaans en Engels is albei Germaanse tale en het daarom sekere dinge in gemeen; sowel Afrikaans as Engels het geleen by Romaanse tale wat ook ooreenkomste meebring; in Suid-Afrika bestaan Afrikaans en Engels al langer as 200 jaar langs mekaar en daarom is dit net logies dat hulle mekaar beïnvloed het.

’n Anglisisme is dus:

“’n Woord, frase, uitdrukking, segswyse, uitspraak en so meer wat wesentlik Engels is, maar voorgee om Afrikaans te wees en sodoende ’n gevestigde, idiomatiese Afrikaanse woord, frase, uitdrukking, segswyse, uitspraak en so meer verdring.

’n Paar voorbeelde van anglisistiese meervoude:

Afrikaans gebruik dikwels die enkelvoudsvorm, waar Engels die meervoud gebruik, bv.

  • Union Buildings teenoor Uniegebou;
  • gardens wat tuine word, soos Kirstenbosch Botaniese Tuine in plaas van net Tuin;
  • skoolgrond en skougrond – nie -gronde (school grounds) nie;
  • bril teenoor brille. Een mens kan verskillende brille besit, maar hy dra net een bril op ’n slag – nie brille (spectacles) nie. Dis ook nie ’n paar brille (pair of glasses) nie – net ’n bril.

Nou wat is ’n leenwoord dan?

“Ontlening (p.85 van die HAT Taal- en Feitegids) behels die oorneem van woorde of frases uit een taal in ’n ander.” Ontlening kan op verskillende maniere geskied, bv.

  • deur ’n woord, of uitdrukking regstreeks en onveranderd oor te neem (venue, muffin, speaker, township, eisteddfod);
  • deur ’n woord of uitdrukking uit ’n ander taal as jou eie te translitereer (eiename soos perestroika, feng shui, soesji, tsoenami);
  • deur ’n woord of uitdrukking aan te pas by jou eie taal se klank- en spellingstelsel, m.a.w. verafrikaanste leenwoorde (baie, blatjang, impi, gogga, setlaar, sjokolade, toi-toi); of
  • deur die elemente van die leenwoord of -uitdrukking te vertaal (leenvertaling), soos byvoorbeeld, korfbal, lughawe, vonkprop, tandepasta, waterkastaiing.

So ’n paar algemene foute:

Ook al – twee woorde, soos in Wat ook al gebeur, ons sal mekaar volgende jaar weer sien.

Om verskoning vra – nie onverskoning nie.

Op die einde van die dag (Naas se gunsteling!) – at the end of the day – sê maar liewer op die ou end/einde of uiteindelik.

Op pad – twee woorde, soos op skool, op kantoor.

Opeindig – iemand eindig êrens op (to end up somewhere) – gebruik maar liewer jy kan iewers beland of eindig, of iets kan daarop uitloop.

Opsoek teenoor op soek – Die eerste een is ’n skeibare werkwoord en beteken ’n besoek bring aan, op besoek gaan en naslaan. As twee los woorde is dit ’n selfstandige naamwoord wat voorafgegaan word deur die voorsetsel op en gevolg word deur na, bv. Ek is op soek na blyplek.

Aanspreek (address) – die gebruik van aanspreek wanneer aanpak, behandel, oplos, aandag gee aan, hanteer, ens. bedoel word, kom deesdae algemeen voor maar moet liefs vermy word. ’n Mens spreek net iemand aan as jy hom betig – hom onder vier oë spreek.

Wie en watWie (who) word vir mense gebruik en wat (which)vir dinge … nie heeltemal waar nie. Wie het steeds ’n besitspartikel (se) of ’n voorsetsel nodig. Bv. die man wie se motor gesteel is … ; die persoon van wie ons praat … Ons kan dus nie sê: Die persoon wie beseer is nie. Die korrekte vorm is: Die persoon wat beseer is. Let ook op: Die kinders waarvan die helfte siek geword het … Dit moet steeds van wie wees. (pp. 129 – 130, HAT Taal- en Feitegids)

En my absolute “gunsteling” wat my hare laat regop staan en my tande stomp maak:

Ek kuier saam my familie – Nee! Die sin kort ’n met. Ek kuier saam met my familie. Wat het van met geword, vra ek?

En so kan ons aangaan en boeke vol skryf. ’n Goeie wenk is om ’n goeie spel- en taaltoetser op jou rekenaar te laai en vir Kersvader te vra om vir jou die jongste Woordelys en Spelreëls te gee en as hy nou besonder vrygewig is, sommer die HAT (6de uitgawe) ook.

Hoe dit ook al sy, moenie ophou skryf nie en moenie ophou leer nie. Geniet jou taal.

Koop dit, leef dit, praat dit, lees dit!

#jouafrikaanstel

Lees meer:

Jana Luther van VivA skryf in 2017 in ’n blog oor leenwoorde wat in die Woordelys en Spelreëls opgeneem is. Klik hier

Die hoe en hoekom van wie en wat. Klik hier

Taalpret in Afrikaans. Klik hier

Gaan kyk ook na van die nuutskeppings wat op VivA se Varsgebek verskyn het. Klik hier

SkryfGoed 6 is ’n versameling van vier Afrikaanse skryfhulpmiddels om rekenaargebruikers te help om beter te skryf in Afrikaans. Klik hier

Vir jou boekrak:

HAT Taal- en Feitegids  (Uitgewer: Jana Luther) – ’n naslaanbron en gesaghebbende taalhandleiding – Pearson, ISBN:978-1-77578-243-8

Annerlike Afrikaans – Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal (Anton F. Prinsloo) – Protea, ISBN: 978-1-86919-265-5

Afrikaanse Woordelys en Spelreëls  – 11de uitgawe – Pharos, ISBN: 978-1-86890-207-1

Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) – 6de uitgawe – Pearson, ISBN:978-1-77025-700-9

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.