fbpx

‘n Viering van Afrikaans –

hartstaal, kontreitaal … en soveel meer!

“Kind, as djy wil regte Afrikaans praat, doenit! Dis waam mamma jou lat opleerit; Kritisaais skrywers wat skryf soes mamma praat, maa moenie ve’wag mamma moe nou change nie.” – Gedig in Kaaps deur Peter Snyders

Afrikaans is ’n familie van dialekte, daarom lyk die Afrikaanse spreektaal anders as Standaardafrikaans (wat ons ken as die Afrikaanse skryftaal). Daarom is dit belangrik om sover moontlik rekening te hou met al die tekens van Afrikaans se verskillende dialekte/variante, want “die dialekte van ’n taal is geensins minderwaardig aan die standaardvariëteit nie”.

Afrikaans is ouer as Standaardafrikaans

Dit gaan dus nie net om die spore van hedendaagse Standaardafrikaans nie. Dis interessant om te weet dat die verskillende vorme van die Afrikaanse omgangstaal baie ouer is as Standaardafrikaans. Afrikaans was tot na die helfte van die negentiende eeu net ’n spreektaal. Toe eers is daar begin om Afrikaans op verskillende plekke, op verskillende maniere, en met verskillende oogmerke in gedagte, te skryf. Vandag is Afrikaans ook ’n volwaardige en ontwikkelde wetenskaps- en akademiese taal en is die talle Afrikaanse vakwoordeboeke ’n klinkklare bewys hiervan.

In ’n artikel wat in 2015 tydens Afrikaans se 90ste bestaansjaar op Maroela Media gepubliseer is, skryf Christo Viljoen van die Universiteit Stellenbosch:  “Afrikaans is ’n loslittaal; ’n lenige en soepel taal waarin jy jouself kan uitdruk en dinge kan sê soos wat in geen ander taal moontlik is nie. En terwyl elke taal in mindere of meerdere mate sulke unieke uitdrukkingsvermoë besit, is daar nie nog een wat dit kan doen soos in Afrikaans nie.”

“Woorde migreer oor en weer wanneer die sprekers van ’n ander taal nie daarsonder kan klaarkom nie … soos pap en wors op kitskosrestaurante se spyskaarte … “porridge and sausage” is darem nou net nie dieselfde nie.” – Bun Booyens, Netwerk24

Vroeër vanjaar het ons geskryf oor die jongste Suid-Afrikaanse woorde wat in die Oxford-woordeboek opgeneem is. Nie noodwendig Afrikaanse woorde nie, maar tog woorde wat baie van ons gereeld gebruik, want dit is eg Suid-Afrikaans.

Hier is die lys:

amakhosi (stamhoofde);  bunny chow; deurmekaar; district surgeon; dwaal; eina; gumboot dance; howzit; ingcibi (man wat besnydenis doen); ja; ja well no fine; kasi (huis); kif (“cool”); Mzanzi (SA); sakkie-sakkie (sokkie – langarmdans); sarmie (toebroodjie); schackland; spaza shop (winkel); skedonk; tickey box; toyi-toyi; traditional leader (eerder as toordokter); ubuntu; voetstoots; en wine of origin.

Kontreitaal oftewel Annerlike Afrikaans

“Die jirre is my skawagter wat my nou / innie dradewerke wan sy proewe hou. / Hy sal my nooit verloor lat lê nie / en sal ek ok niks oor my hê nie / en al wei ek wyd warie wind begin: / Hy lei my na waterse tissenie deine in; / Hy sit my siel in my lyf in trig; / Hy breekslat slang se hoepelrig! / U melk my beker vol wa ek loop lê: / in my land wa ek meneer moet sê, / maak U opslagstrale van my tegeparty, / ma ek en U, ons sal onder die doringse bly.”   – Griekwa-psalm deur Hans du Plessis

Die Afrikaans van die Griekwas is sekerlik die beste voorbeeld van kontreitaal. In die voorwoord van Anton F Prinsloo se Annerlike Afrikaans, ’n woordeboek van Afrikaanse kontreitaal (2008), skryf hy: “Hulle (die Griekwas) woorde en uitdrukkings omvat die hele lewe en lewenswêreld van die mens: sy geboorte, sy ontwikkeling na volwassenheid, sy dood; sy liefde, haat, afguns … Alle aspekte word in Griekwa-Afrikaans beskryf, maar met ’n gevatheid, ’n vernuf, ’n vindingrykheid …”

So ’n paar algemene kontreiwoorde en -uitdrukkings:

aantreklik (b.nw)aantreklik wees vir iets: jou iets maklik aantrek, sensitief wees vir iets

afdag (s.nw) – sterwensdag

agtertongetjie (s.nw)luister na iemand se agtertongetjie: luister na wat iemand nie sê nie, lees tussen die reëls

goewermentskos (s.nw)goewermentskos eet: in die tronk wees

hoogkop (b.nw) – uit die hoogte, hovaardig

jakkalsdou (s.nw) – motreëntjie

kakebeentyd (s.nw) – etenstyd

knypkoei (s.nw) – koei wat knyp wanneer sy gemelk word, m.a.w. weier om te sak

kouneus (s.nw) / koueneus – hond

koutong (s.nw) – biltong

massapale (s.nw) – munisipaliteit

masel (ww.) – end kry, bv. die verkoue wil nie masel nie

mielietjies (s.nw) – melktande – die kleintjie kry nie sy mielietjies met ’n maag nie, hy kry sy mielietjies met ’n bors

oogwater (s.nw)’n mens kan nie oogwater terugdruk nie: ’n mens kan nie yster met die hande breek nie, die onmoontlike verrig nie OF iemand/iets se oogwater terugdruk: iemand of iets klop, baasraak, uitoorlê

oom-en-tante (s.nw) – sop wat van gebreekte wit mielies en rooi Engelse boontjies gekook word

‘n Mondvol …

’n Mondvol, maar doen jouself ’n guns wanneer jy weer tussen ’n groot klomp mense is en luister wat sê hulle … hoe klink hulle. Glo my, jy gaan beslis Afrikaans hoor, maar nie noodwendig Standaardafrikaans nie en dalk ook nie jóú Afrikaans nie. En dit is goed so. Trouens, dit bewys dat Afrikaans steeds groei, aanpas en floreer in die mond van sy sprekers.

So, of jy nou dwarsgebek, fyngelap of hoog neergesit is, jou gesig met ’n ander man se waslap was, sonder arms rondstaan, ’n dooie jakkals aan die draf praat, wat ook al … een ding wat nie twee is nie, Afrikaans is lekker. Afrikaans is kif!

Koop dit, leef dit, praat dit, lees dit!

#jouafrikaanstel

Lees meer:

Afrikaans se oorsprong. Klik hier

Afrikaans is ’n loslittaal … Klik hier

Jongste Suid-Afrikaanse woorde in Oxford-woordeboek opgeneem. Klik hier

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.