Afrikaans.com is opgewonde en trots op al die Afrikaanse skole wat wéér uitgeblink het in vanjaar se matriekuitslae.

Een van die uitblinkers, is Anneke Langner.

Anneke het vir haar sewe vakke sewe onderskeidings behaal. Sy is die nommer een presteerder van Hoërskool Centurion met ‘n gemiddeld van 88%. Sy het nie vir een vak onder 86% nie. Vir Afrikaans, waarin sy volgende jaar gaan studeer, het sy 91% ontvang.

Die klas van 2018 se nasionale slaagsyfer was 78,2% (’n verbetering van 3,1% teenoor die 2017-slaagsyfer van 75,1% ). Wanneer ’n mens egter slegs na die matriekslaagsyfer van Afrikaanse skole kyk, is die slaagsyfer 86,9%. Dit is luidens ’n verslag van Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) wat op 8 Januarie uitgereik is.

Vir die doeleindes van die die SOS se navorsing, word ’n Afrikaanse skool beskou as ’n instelling wat die vak Afrikaans as moedertaal aanbied. Volgens die SOS het enkelmedium-Afrikaanse skole ’n slaagsyfer van 90% behaal. Tien van die 20 skole wat landwyd die meeste onderskeidings in die eindeksamen ingepalm het, is ook Afrikaanse skole. Die SOS meen dié sukses is toe te skryf aan moedertaalonderrig en goeie onderwysers.  Lees hier die berig op Netwerk24.

Johanna van Eeden het met ’n paar skoolhoofde gesels oor die faktore wat bygedra het tot hul leerders se sukses.

Marna Jordaan, hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, het by die uitreiking van die verslag gesê ’n gebrek aan taalvaardigheid kniehalter leerlinge se prestasie in vakke soos wiskunde, wetenskap en rekeningkunde. Dié skool se matrieks het in 2018, vir die 34ste agtereenvolgende jaar, ’n 100%-matriekslaagsyfer gehad. Al die matrikulante het met universiteitsvrystelling geslaag en tussen die 220 gr. 12’s het hulle 789 A’s verwerf.

Die rol wat uitstekende onderwysers speel in ’n skool se sukses kan ook nie onderskat word nie. Dr. Danie Brink, hoof van die SOS, het gesê “onderwysers se kennis is die plafon vir leerlinge” en dat skole presteer danksy toegewyde onderwysers.

Die skep van ’n leer- en onderrigkultuur, tesame met goeie dissipline, het bygedra tot die uitstekende uitslae van die Hoërskool Transvalia in die Vaaldriehoek, sê die hoof, mnr. Johan Venske.

Transvalia se slaagsyfer was 100%, terwyl 88,6% van die matrieks universiteitsvrystelling gekry het en die matriekgroep 312 onderskeidings verwerf het.

“Ek dink spesifiek moedertaalonderrig is baie belangrik,” sê Venske. “Dit maak ’n groot verskil, want jy is eenvoudig gemakliker om in jou taal te leer.”

Venske sê hy sien by Engelse skole waar daar talle kinders is wie se moedertaal nie Engels is nie, is die uitslae nie altyd so goed nie, selfs al word die kinders van die begin af in Engels onderrig. “Moedertaalonderrig is nie die begin en die einde nie, maar veral in die grondslagfase is dit uiters belangrik.”

Venske sonder ook ’n betrokke ouergemeenskap “wat inkoop in ekstra klasse, ouervergaderings bywoon en help om probleme op te los” uit as ’n suksesfaktor, asook die werksetiek van onderwysers.

Die 2018-matrieks van die Hoërskool Garsfontein in Pretoria het vanjaar vir die negende agtereenvolgende jaar ‘n 100%-slaagsyfer behaal en 93,99% van die leerlinge het universiteitstoelating gekry, terwyl die groep 702 onderskeidings behaal het.

Die hoof, mnr. Leon Bantjes, skryf die sukses toe aan “kwaliteit, toegewyde en gekwalifiseerde gr. 12-vakpersoneel met professionele trots en onderwysers wat aanspreeklikheid vir hul uitslae aanvaar”.

Die skool werk volgens Bantjes met ’n strategiese plan en het akademiese doelwitte wat maandeliks gekontroleer word. Daar is ook aanvullende onderrig wat na-ure en oor naweke deur onderwysers aangebied word, tesame met slypskole in die Julie- en Oktobervakansies.

Bantjes sonder die ouergemeenskap se “trots en erkentlikheid” en die beheerliggaam se betrokkenheid en ondersteuning ook uit as suksesfaktore en sê die 2018-matrieks het ‘n wil gehad om as groep te presteer.

Ook Bantjes meen moedertaalonderrig “is van kardinale belang”.

Mnr. Roelof Oosthuizen, hoof van Potchefstroom Gimnasium, sê ’n sterk leerkultuur, dissipline en moedertaalonderrig het ’n rol gespeel in Gimmies se puik uitslae.

Dié skool het vir die tiende agtereenvolgende jaar ‘n 100%-slaagsyfer en is wéér deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, uitgesonder as een van die top kwintiel-4 skole in die land.

Gimmies se klas van 2018 het 363 onderskeidings behaal en 93% van die leerlinge het geslaag met universiteitstoelating.

“Hier is ’n sterk leerkultuur en ons onderwysers werk ongelooflik hard,” sê Oosthuizen. Die impak van moedertaalonderrig in leerlinge se vermoë om te presteer is iets wat hy duidelik in sy omgewing waarneem.

Oosthuizen sê hy sien in Potchefstroom hoe Afrikaanse ouers hul kinders in Engelse skole plaas. “Die Engelse skole bemark sterk dat universiteite en die sakewêreld eintlik Engels is en dat dit daarom goed is dat kinders in Engels skoolgaan.”

Hoewel dié neiging dalk deur sommige mense as ‘n modegier gesien kan word, beklemtoon Oosthuizen die geleentheid wat moedertaalonderrig vir kinders skep om te presteer.

“Daar is by my geen twyfel dat moedertaalonderrig op skool belangrik is nie. Ons het ’n paar kinders in die skool wie se moedertaal eintlik Engels is, en hulle sukkel bepaald meer as die Afrikaanse kinders. Dit is eenvoudig makliker om dinge in jou moedertaal te leer en dit in ‘n vreemde taal toe te pas, as om dit in die eerste plek in ’n ander taal te leer,” sê hy.

Die feit dat Afrikaanse skole uitnemende matriekuitslae het, is volgens Oosthuizen nie beperk tot dié skole nie. Hy sê die tradisionele Engelse skole met leerlinge wat Engels as moedertaal het, toon ook goeie resultate, juis weens die voordele van moedertaalonderrig.