fbpx

8 Oktober 2019

Deur Theo Kemp

Jakes Gerwel se eertydse woning …

nou ’n bedrywige skrywershuis

Wyle prof Jakes Gerwel, ’n boorling van die Oos-Kaap, se geliefde Paulet Huis op Somerset-Oos, is na sy dood in 2012 deur sy weduwee, Phoebé Gerwel, aan die Jakes Gerwel Stigting geskenk. Hierdie historiese huis is in 1825 deur Lord Somerset vir sy tweede vrou, Poulette, gebou. Deur die geskiedenis heen het die naam van die huis na Paulet verander en is dit ook so deur Jakes Gerwel genoem.

Afrikaans.com-Jakes-Gerwel
Afrikaans.com-Jakes-Gerwel
Afrikaans.com-Jakes-Gerwel

Die huis moes egter gerestoureer word, en na die moeisame proses, is die huis vanjaar as volwaardige skrywershuis ingelyf. Die jaar snel nou met ’n stewige spoed tot ’n einde en ons projekte vir die jaar sluit nou ook af. Die projekte wat opgedroom en geïmplimenteer is, wil die nalatenskap van Jakes Gerwel in die breedste sin van die woord vier en bevorder.

‘n Plek waar boeke geskep word

In Paulet Huis word daarom verskeie projekte aangebied wat ten doel het om skrywers te onderskraag. Een van ons vlagskipprojekte is om nuwe stemme na die Suid-Afrikaanse letterkunde te bring en om stem te help gee aan skrywers wie se stories nog meestal onoopgeskryf is. Om die rede is ’n mentorskapsprogram, in samewerking met NB-uitgewers, vanjaar geloods. Hierdie projek is uitsluitlik gemik op opkomende skrywers wat nog nie vantevore gepubliseer het nie en wat hul eerste manuskripte na die uitgewers gestuur het.

Dié boeke toon potensiaal, maar het nog baie skaaf- en herskryfwerk nodig voordat dit uitgegee kan word. Uitgewers het gewoon nie die tyd om hierdie skrywers se hande te neem nie, en dit is hier waar die Jakes Gerwel Stigting inkom.

Ons het vanjaar vier skrywers gekies en twee mentors aangestel wat op tye per jaar met die skrywers op Somerset-Oos aan hulle manuskripte werk. Daar word deurentyd individueel tussen mentor en skrywer gewerk, en van die jong stemme is bykans gereed om opnuut hulle veranderde manuskripte na die uitgewers te kan stuur. Shana Fife, Sharon Magoaneng, Bronwyn Davids en Engela Ovies is vanjaar die kandidate, met Suzette Kotze-Myburgh en Francois Bloemhof as die mentors.

Boeke in wording

’n Tweede projek word in samewerking met PEN Afrikaans aangebied. Met hierdie projek word prof Gerwel se verbintenis met Afrikaans – selfs in ’n tyd toe dit as die taal van onderdrukking beskou is – herdenk. Ons bied aan beide opkomende en gevestigde skrywers die geleentheid om vir ’n tydperk van ’n maand lank in Paulet Huis te skryf aan hulle manuskripte. Ons klem val hier op skrywers wat die wegbreek van hulle daaglikse lewens en verpligtinge nodig het om voltyds te kan konsentreer om hulle projekte klaar te maak.

Oor grense …

Gerwel het ’n sterk verbintenis met België gehad, en het in Brussels sy doktorsgraad behaal. Dit is om hierdie rede dat ons vanjaar ’n projek aanbied waar Vlaamse skrywers saam met Suid-Afrikaanse skrywers kan kom werk.

Die idee is dat gevestigde skrywers met uiteenlopende agtergronde en skryfstyle in gesprek kan tree met mekaar. Hierdie ruimte wat ons skep vir dialoog en kruisbestuiwing lei hopelik tot verrykte skryfwerk. Hierdie projek word in samewerking met Passa Porta gedoen – ’n internasionale skrywershuis in België wat oor die wêreld heen vennootskappe met soortgelyke skrywershuise aangaan. Ons is die eerste skrywershuis in Afrika waarmee Passa Porta ’n vennootskap aangegaan het.

Die eerste skrywers wat aan die program deelneem, is die bekroonde Vlaamse digter, Mariam van Hee en die Vlaamse skrywer van Morrokaanse agtergrond, Rachida Lamrabet. Die Suid-Afrikaanse digter, Diana Ferrus, sal die huis saam met hierdie woordkunstenaars deel.

Die Jakes Gerwel Stigting se verbintenis tot teatermakers

Jakes Gerwel was instrumenteel in die totstandkoming van die Suidoosterfees in Kaapstad. Daarom is die Stigting ’n trotse vennoot van die fees. Die Jong Sterre-projek van die fees het ten doel om jaarliks ’n platform te skep vir die werk van opkomende teatermakers. Vanjaar het ons die projek uitgebrei deur aan die opkomende dramaturge die geleentheid te gee om aan hulle tekste te kan skryf onder mentorskap van ’n ervare dramaturg.

’n Ope aansoek is gerig aan jong dramaturge en meer as vyftig aansoeke is ontvang, waarvan vyf gekies is, naamlik: Kanya Viljoen, Herschelle Benjamin, Du Toit Albertze, Keanen Viljoen en Tasneem Daniels. Die mentor is die bekende dramaturg, Amy Jephta, wat onder meer die toneelstuk, Kristalvlakte, op die planke gebring het.

Die Stigting dek die kostes van al die skrywers in bogenoemde programme se reiskostes, asook drie maaltye per dag. Verder word die kostes van die mentors gedek.

Bydrae tot gemeenskap

Benewens hierdie projekte is dit vir die Jakes Gerwel Stigting belangrik om in te ploeg in Somerset-Oos.

Ons het onder meer ’n boekeprogram vir leerders in die Grondslagfase (gr 1 – 3) waar ons vanjaar 6 000 boeke aan 2 000 leerders in skole in en om Somerset-Oos geskenk het. Ons het gevind dat baie van die leerders nie tasse het nie, en het daarom vanjaar vir elke kind ’n behoorlike boeksak laat maak deur ’n gemeenskapsorganisasie in Elsiesrivier en dit saam met die boeke uitgedeel. Die boeke is almal splinternuut en ’n inisiatief van Book Dash.

Hierdie niewinsgewende organisasie bring kinderboekskrywers, illustreerders en ontwerpers bymekaar wat dan die boeke skep. Wat nog beter is: al die boeke vertel ons eie land se stories.

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.