huiDIG – ’n Nuwe digkuns-podcast

huiDIG, ‘n nuwe digkuns-podcastbestaan uit twaalf episodes (die eerste seisoen) wat weekliks deur Michelle Oelofse (23), en Brigitte Geyer (20), twee regstudente van Pretoria aangebied word. Die twaalfde episode word hierdie week uitgesaai, maar ons kan uitsien na nog ’n reeks!

Aanbieders: Michelle Oelofse en Brigitte Geyer (Foto: Klyntji.com)

Michelle en Brigitte sê hulle het die podcast-wêreld betree omdat hulle self lief is vir poësie en na soiets sou wou luister. Hulle wil die digkuns toeganklik maak vir elkeen wat van woordkuns hou.

“Dit was vir ons belangrik dat ons luisteraars nie te veel formaliteite of fieterjasies moet oorleef voordat hulle die program kon geniet nie. Ons was maar net twee vriendinne wat gesels het oor ons gunstelinggedigte – hoekom hulle snaaks, hartseer, mooi of belaglik was – en mense moes sommer dadelik kon voel dat hulle deel van die gesprek is.” – Brigitte Geyer

huiDIG wil luisteraars bekendstel aan nuwe gedigte, maar ook ouer, klassieke gedigte weer opdelf vir luister en oorweeg in mense se lewens vándág.

Die eerste episode fokus op gedigte van Wilma Stockenström, Bibi Slippers, Petra Müller en DJ Opperman, ID du Plessis en Ingrid Jonker en word voorgelees. Hulle noem dit Gedigte wat geel is, omdat dit volgens hulle die kleur is wat generasie-X definieer. Elke episode het ’n unieke aanslag en onderwerp en word afgerond met musiek waarvan die lirieke by die program aansluit.

Op Klyntji.com kan jy meer oor die episodes en program lees.

Jy kan huiDIG hier aflaai.