Hofuitspraak ‘n WEN vir moedertaalonderrig

Die Grondwethof se uitspraak oor Engelse onderrig in Afrikaanse skole is “nie net ’n oorwinning vir Afrikaans nie, maar vir alle tale en moedertaalonderrig in sy geheel”. – Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV

Die Grondwethof het Donderdag, 26 Julie, die Gautengse departement van onderwys se verlof tot appèl met koste van die hand gewys.

Die uitspraak bepaal dus dat indien daar naburige Engelse skole is wat die kapasiteit het om leerders in te neem, Afrikaanse skole nie gedwing kan word om Engels as onderrigtaal te gebruik nie.

Die Gautengse hooggeregshof het in Januarie beslis dat die Hoërskool Overvaal nie 55 Engelse leerders hoef te aanvaar nie, aangesien twee nabygeleë skole oorgenoeg plek het vir dié leerders. Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het hom toe tot die Grondwethof gewend.

Karien sê deur jou kind na ’n skool te stuur waar hulle opvoeding voortgesit word in hul moedertaal, word die grondslag vir beter kognitiewe en sosiale ontwikkeling gelê. Moedertaalonderrig bevorder ook geletterdheid en help om fundamentele vaardighede soos kritiese denke vas te lê.

“Moedertaalonderrig vanaf die grondslagfase lei tot verbeterde taalvaardigheid in ’n tweede taal. Moedertaalonderrig kan jou kind dus help om makliker ander tale, soos Engels, aan te leer. Om te verseker dat kinders vaardig raak, nie net in tale nie, maar op alle vakgebiede, moet hulle geleer word in ’n taal wat hulle verstaan, ’n taal waarin hulle tuis voel  ̶  hul moedertaal,” sê sy.

“Die voordele van moedertaalonderrig strek egter verder as net kognitiewe ontwikkeling, akademiese prestasie, kreatiwiteit en selfvertroue. Kyk ons na die groter geheel, word ons erfenis en kultuur deur moedertaalonderrig bewaar terwyl dit ook meertaligheid in ons gemeenskappe bevorder.”  Lees meer hier.