Hoe taalbeleid prestasie op skool en daarna raak

Elke Januarie is almal op hete kole oor die jongste matriekuitslae en word ’n mens heuning om die mond gesmeer oor die sogenaamde “verbetering” in die uitslae en die persentasie leerders wat kwansuis matriek gemaak het. Wat ’n mens egter nie uit die oog moet verloor nie, is wat beteken hierdie uitslae werklik, veral gegewe die taalbeleid en die stand van moedertaalonderrig in Suid-Afrika. Wat waar is, is dat ’n groot hoeveelheid leerders nooit eers by matriek uitkom nie en diegene wat dit wel tot daar gemaak het, se uitslae is dikwels nie goed genoeg om verder te gaan leer nie en kan ook nie hulle skoene volstaan in die werksmag nie.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet handhaaf die reg van alle kinders om onderwys in die amptelike taal of tale van hul keuse te ontvang en die nasionale Taal in die Onderwys-beleid (1997) beklemtoon die kognitiewe voordele van moedertaalonderrig en tweetalige onderwys asook die doelwit van meertaligheid. Ten spyte hiervan ondersteun die huidige Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) nie onderrig deur middel van die huistaal (waar dit nie Engels of Afrikaans is nie) verder as graad 3-vlak nie en ook nie tweetalige onderwys nie.

In ’n reeks artikels fokus Carolyn McKinney en Xolisa Guzula op die kwessie van taalbeleid en –praktyk in ons skole en die impak wat dit op die sukses van leerders het. Die volgende is ’n kort opsomming in Afrikaans van die eerste artikel.

Volgens die skrywers, berus die verantwoordelikheid om te besluit oor die taalbeleid en taal van leer en onderrig van ’n skool by die skoolbeheerliggame, maar in die praktyk word skole nie die keuse gegee om vanaf graad 4 (vir leerders van Afrikatale) na Afrikaans of Engels oor te skakel nie en vind onderrig in Afrikaans (of Engels) plaas. So ook word leerhulpbronne en assesserings eksklusief in Afrikaans of Engels aangebied. Daar is eenvoudig nie vanaf graad 4 teksboeke in enige van die Afrikatale beskikbaar nie.

Dit is selfs vir die mees toegewyde onderwysers ’n onbegonne taak om leerders wat slegs in graad 1 tot 3 Afrikaans geleer het, toe te rus met die nodige taalvaardigheid om die volle kurrikulum baas te raak in sy/haar tweede taal. Daarbenewens word Afrikaans as eerste addisionele taal op so ’n manier onderrig, dat die kind wel leer oor taal, maar dit fokus nie genoegsaam op die gebruik (praat) van die taal nie. Kinders het dus nie die nodige taalvaardighede (begrip) om ander vakke (soos wiskunde, wetenskap met moeilike konsepte) baas te raak nie. Die kinders het doodeenvoudig nie genoeg woorde (woordeskat) om hulleself mee uit te druk nie.

Die huidige implementering van onderrigtaal maak die aanname dat alle Suid-Afrikaanse leerders dieselfde vaardigheid in Afrikaans het. Ons onderwysstelsel is dan ook gebaseer op eentaligheid, afgesien van ons ryk linguistieke diversiteit. Die meeste van ons onderwysers is twee- of eentalig en die meerderheid van ons leerders is opkomende twee- of veeltalige sprekers, maar ten spyte hiervan funksioneer die kurrikulum en assesseringsproses asof hulle eentalig is.

Derhalwe, sal dit nie moontlik wees om die gehalte en uitslae van ons matriekuitslae te verbeter sonder om die kwessie van leer- en onderrigtaal met hernieude erns te bejeën nie. Dit is noodsaaklik dat ons ’n twee- en meertalige benadering ontwikkel waar kinders die geleentheid gegee word om te leer in ’n taal wat hulle verstaan namate hulle vaardigheid in die tweede taal (Afrikaans) ontwikkel.

Lees die volledige artikel in Engels hier – dit is die eerste van ’n drieledige reeks artikels vir www.bua-lit.org.za deur Carolyn McKinney en Xolisa Guzula.

Lees ook:

Alles oor moedertaalonderrig en hoe dit tot sukses bydra. Klik hier

Moedertaalonderrig – meertaligheid of nie? Klik hier

Moedertaalonderrig lei tot matrieksukses. Klik hier

Afrikaans.com vier Moedertaalmaand. Klik hier

Moedertaalonderrig bevorder veeltaligheid. Klik hier

Voortbestaan van Afrikaans as onderrigtaal. Klik hier

Moedertaalonderrig – Gee jou kind ’n voorsprong. Klik hier