Gaan minderheidstale swem of sink?

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum en hoof van hierdie burgerregteorganisasie se internasionale skakeling het gedurende Mei die Internasionale Konferensie oor minderheidstale in Leeuwarden, Nederland bygewoon waar sy ook ‘n referaat oor taalbeleid in Suid-Afrika gelewer het. Dit is die 17de konferensie van sy soort wat deur meer as 250 mense van reg oor die wêreld bygewoon is en die fokus was op die bevordering van minderheidstale in die media asook die volgehoue ontwikkeling van taalbeleid.

2019 – Jaar van Inheemse Tale

Hierdie ondewerp is wêreldwyd ‘n groot fokus aangesien dit vanjaar ook die Jaar van Inheemse Tale (soos deur die Verenigde Nasies bepaal) is, waar daar gefokus word op bewusmaking van wat die gevolg is van die verlies aan inheemse tale en wat die belangrike skakel tusssen taal, welvaart, vrede en ontwikkeling uitlig. Suid-Afrika het sy eie aksieforum tot stand gebring wat die aandag vestig op die “enorme voordele wat die gebruik van die land se inheemse tale in sektore soos die onderwys, die regstelsel en die ekonomie vir ons inhou”, aldus dr. Carole Bloch, direkteur van die Projek vir die Studie van Alternatiewe Onderwys in Suid-Afrika.

Alana is ‘n vrou wat vele hoede dra en dien sedert 2015 as lid van die minister van Kuns en Kultuur se taakspan. Sy is ook ‘n beskermvrou vir Afrikaans. Tydens haar referaat wat meegeding het met 90 ander kon sy die lig skyn op die gebrek aan bevordering en beskerming van inheemse tale in Suid-Afrika en dat die plaaslike ervaring is dat grondwetlike beskerming slegs tande het wanneer daar kundigheid is oor die belangrikheid van taal asook ‘n politieke wil is om tale te beskerm. Die gevolge van die gebrek aan moedertaalonderrig op die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel was ook onder die loep en die noodsaaklikheid om strukture te vestig wat voortdurend bewusmaking skep onder moedertaalsprekers wat medeverantwoordelikheid moet aanvaar en self op taalregte aandring.

Meertaligheid is nie ‘n mode nie

Uit die sowat 7 000 tale in die wêreld, gaan tans sowat een taal per week verlore.  Groot tale maak interkulturele kontak vir ons moontlik, maar baie inhoud gaan in die vertalingsproses verlore.  Hierdie groot tale bedreig ook kulturele diversiteit in die wêreld.  Die behoud van minderheidstale is noodsaaklik omdat ons ons die beste in ons eie moedertale kan uitdruk en omdat jy deur jou taal kontak met jou identiteit, wortels en erfenis kan hou. – Dr. Willem Smink, Fryske Akademy, Leeuwarden

Dr. Conrad Steenkamp (uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad) beaam dat dit ook in die Suid-Afrikaanse konteks belangrik is om te verstaan dat dit sonder die inheemse tale moeilik sal wees om die land se volle ekonomiese potensiaal te bereik of om inklusiewe ekonomiese groei te bewerkstellig. “Meertaligheid is nie ’n mode nie, maar ’n fundamentele keuse oor hoe ons land moet lyk.”

Minderheidstale is almal in dieselfde bootjie

“Dit bly ’n uitdaging.  In die eerste plek is politieke wil nodig om van taalregte ’n werklikheid te maak.  Daarna moet alle betrokke instansies en hulle amptenary met die konsep van taalregte vertroud raak.  Ten slotte moet die sprekers bereid wees om hulle regte met waardigheid op te eis.”

Volgens Alana was die sprekers se verhale oorwegend almal dieselfde. “Ons tale word deur groot tale soos Engels, Frans, Arabies en Spaans bedreig.  Dit is ’n uitdaging om die jeug te motiveer om ’n minderheidsmoedertaal te leer en te gebruik.  Owerhede maak dikwels wette en stel beleide op om die minderheidstale te beskerm en bevorder, maar in die praktyk gebeur dit selde omdat die politieke wil om van meertaligheid ’n werklikheid te maak, ontbreek, en fondse kortkom.  Moedertaalsprekers het soms nie die selfvertroue om hulle tale te gebruik nie.  Stereotipering maak jongmense skaam vir hulle taal, of politieke omstandighede maak dit letterlik gevaarlik om eie taal te gebruik.  Sosiale media maak dit aan die een kant wel moontlik om op ’n meer ontspanne en informele wyse jou taal te gebruik, maar aan die ander kant is die programmatuur wat oorwegend Engels is, ’n bedreiging vir kleiner tale.”

Die gevolgtrekking?

Die gevolgtrekking bly volgens Alana en haar medekongresgangers steeds dat eentaligheid nie die sinvolle opsie is nie. “In alle lande en gemeenskappe word verskeie tale gebruik en om sukses te behaal, is vlotheid in die moedertaal en uitnemende vaardigheid in soveel ander tale as moontlik, noodsaaklik.”

Wat maak die verskil?

  • Die politieke wil moet gevestig word.
  • Kennis en insig dat jou taalregte ‘n mensereg is, moet ontwikkel word.
  • Befondsing is noodsaaklik sodat taalregte ten uitvoer gebring word en daarmee saam die begrip/insig dat taalregte belangrike ekonomiese voordeel inhou.
  • Wetgewing en taalbeleid moet in praktyk uitgevoer word.
  • Die kweek van die liefde vir jou moedertaal wat ‘n uitdaging is onder die druk van globalisme, maar die kern is tot die voortbestaan van tale.

Wat is die boodskap?

Alana som dit so op:

Afrikaanssprekendes, trouens die sprekers van alle Suid-Afrikaanse tale, moet meer internasionaal netwerk.  Ons kan baie leer by ander taalgroepe en het ook baie om aan te bied op grond van ons eie ervaring.  Daar is baie meer potensiële vriende en medewerkers daar buite as waarvan ons kan droom.  Ons moet egter ook realisties wees.  Niemand gaan ons oplossings vir ons skep of befonds nie.  Met “vriende” en “medewerkers” bedoel ek mense wat kundigheid sal deel.  As ons omgee vir ons tale, gaan die harde werk en befondsing nog steeds veral uit ons eie geledere moet kom.  Ons moet ook ophou vaskyk teen ons probleme en dink dit is uniek in die wêreld.  Baie ander minderheidstale is in presies dieselfde bootjie, of ’n nog slegter posisie.  Afrikaans het baie moedertaalsprekers, ons taal word aktief in die sosiale media gebruik, ons het ’n ryk tradisie in die akademie en letterkunde.  Dit alleen maak van ons een van die sterkste minderheidstale in die wêreld.  Ons sal moet werk om dit so te hou, maar dit is iets wat ons kan bemoedig en waarop ons trots kan wees.  So ook op die feit dat ons in Suid-Afrika reeds oorwegend meertalig is, teenoor ander lande waar mense hoofsaaklik een taal praat en nog nie die noodsaak van meertaligheid snap nie.