“Fopnuus moet plek maak vir feite …”

Vrye Weekblad keer terug in ’n nuwe digitale weergawe

Max du Preez

Anneliese Burgess

Jacques Pauw

Vyf-en-twintig jaar gelede moes die onafhanklike koerant, Vrye Weekblad, sy deur sluit na ’n hofgeding wat uit Jacques Pauw se onthulling van die Vlakplaas-moordbende gevloei het. Die laaste uitgawe het op 2 Februarie 1994 van die drukpers gerol.

Nou is Vrye Weekblad terug en is die kernspan wat ’n kwarteeu gelede soveel moeilikheid vir so baie gemaak het, oorgehaal vir Vrye Weekblad 2.0.

Die Tiso Blackstar Groep, uitgewers van Sunday Times, Business Day, Financial Mail, Sowetan en ander gedrukte en digitale titels, het ’n ooreenkoms met Max du Preez, nou ’n gerespekteerde veteraanjoernalis, meningsvormer en skrywer, en sy kollegas gesluit om Vrye Weekblad as ’n premium digitale uitgawe te laat herleef.

’n Koerant vir alle Suid-Afrikaners wat Afrikaans praat, lees of verstaan

Vryeweekblad.com word op ’n fondament van onafhanklike, vreeslose joernalistiek van die hoogste gehalte gebou. Soos die oorspronklike koerant, gaan dit ’n progressiewe stem wees wat geen respek betoon aan mense wat hulself belangrik ag nie. Dit gaan nuus, ondersoeke, ontleding en menings van die beste internasionale standaard aanbied.

Die teikenmark is almal wat Afrikaans praat en lees of verstaan. Dit is nié ‘n koerant net vir die Afrikaanse gemeenskap nie, maar vir alle Suid-Afrikaners, hier en in die diaspora. Dit is vir mense wat meer wil weet en die wêreld om hulle beter wil verstaan.

 “As dit nie vir Afrikaans was nie, sou ek nie Vrye Weekblad laat herleef het nie.” – Max du Preez

Vryeweekblad.com word bestuur deur drie mede-redakteurs: Du Preez; die adjunk-redakteur van die ou Vrye Weekblad, Jacques Pauw, wat onlangs weer groot opslae gemaak het met sy invloedryke boek The President’s Keepers; en Anneliese Burgess, bekroonde ondersoekende joernalis en skrywer van die sensasionele boek oor transitorowe, Heist!

“Dié belegging is in pas met ons voortgesette toewyding tot gehalte-joernalistiek, wat ons as die sleutel tot ons toekoms sien. Ons is trots om met die joernalistieke talent wat met die Vrye Weekblad-handelsmerk kom, geassosieer te word. Ons navorsing wys dat daar ’n aansienlike mark vir ’n produk soos Vryeweekblad.com bestaan en ons is vol vertroue dat dit ’n lojale gehoor sal trek.” – Andrew Gill, media-hoof, Tiso Blackstar

Vrye Weekblad.com gaan elke Vrydagoggend aanlyn verskyn en lesers sal maandeliks kan inteken. Die eerste ses weke sal gratis wees om lesers die kans te gee om te kyk of dit in hul smaak val.

Die eerste uitgawe verskyn op 5 April 2019. Belangstellende lesers kan intussen by https://www.vryweekblad.com registreer en sal e-posse met nuus oor die laaste weke van voorbereiding ontvang.

Vir meer inligting: Kontak Samantha Pugh | sam@pughpr.co.za 

*Bron: Nuusverklaring

Lees ook

Susan Cilliers van Netwerk24 gesels met Max du Preez