Die storie van Afrikaans …

Prof. Wannie Carstens se tien redes waarom jy die 1 800 bladsye moet aandurf …

Lees meer oor die outeurs, prof. W.A.M. Carstens en prof. E.H. Raidt hier.

Die tweede deel van Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika (prof. WAM Carstens en prof. E.H. Raidt)  is hier!

Dit is die biografie van Afrikaans soos dit op drie kontinente ontwikkel het.

  • In Europa – waar die ontwikkeling van Nederlands as die basisvorm van Afrikaans gedokumenteer en uitgebeeld word;
  • In Afrika – waar die 17de-eeuse Hollandse dialek met verloop van tyd onder eiesoortige omstandighede en onder invloed van verskeie faktore uiteindelik volwaardig Afrikaans geword het;
  • In Asië – waar die impak van die taal van die slawe die wordende Afrikaans beïnvloed het tot die vorm wat dit wel geword het.

Die boek (twee dele)  is ’n omvattende en inklusiewe blik op Afrikaans se ingewikkelde verlede en die outeurs gee aan die hand van talle illustrasies en bepalende gebeure die volle prentjie weer. Die boek  beslaan gesamentlik ongeveer 1 800 bladsye en 700 addisionele blaaie wat op die webtuiste beskikbaar is.

’n Móét lees … prof. Wannie Carstens gee tien redes: 

  1. Die omvang van inligting oor Afrikaans in die twee boeke saam is ongeëwenaard in Afrikaans. JY sal verbaas wees wat jy alles daar kry. (Baie inligting is ook verpak in die eindnote by elke hoofstuk. Moet dus nie net die hoofteks lees nie, maar gaan kyk gerus ook wat in die note staan.)
  2. Dit is die eerste werklike poging tot die skryf van ʼn inklusiewe geskiedenis van Afrikaans. En ons vertrou dat ons ten minste die krediet hiervoor sal kry. Dit was belangrik dat die verhaal van die volle Afrikaanse gemeenskap betrek word. En as mense nie met ons aanpak en poging saamstem nie, kan hulle die boek gebruik as vertrekpunt om wel die regte verhaal te skryf. Maar die basiese navorsing hoef nie weer van die begin af gedoen te word nie.
  3. Die eerste poging tot ʼn versoeningsgeskiedenis kom in veral deel 2 na vore. Lees byvoorbeeld oor die rol van Afrikaanse organisasies, soos die Afrikaanse Taalraad, die ATKV, die Vriende van Afrikaans, en talle ander in hierdie proses en word deel van hierdie beweging.
  4. Die boeke is geskryf vir ʼn breë gehoor: leke, belangstellendes in die taal, akademici, studente – elkeen sal iets in die boek vind.
  5. Die boeke het ʼn biografiese aanslag: ons wys dus Afrikaans se produkte en spog daaroor. Min mense weet werklik hoeveel al in Afrikaans reggekry is. Wees saam met ons bly daaroor. (Ons wou nog baie meer wys, maar daar was gewoon nie ruimte daarvoor beskikbaar nie.)
  6. Die nadeel van ʼn biografiese aanslag is dat ook die lelike kolle in Afrikaans se storie uitgelig word. In biografieë vertel ʼn mens mos nie net die hele tyd hoe goed jy is nie, want dan gaan niemand jou glo nie. En ons het behoorlik gaan krap in die binnegoed van die verlede sodat ons met die oopmaak daarvan ʼn toekoms kan bou.
  7. Die boek dek drie sake wat nog nie saam in een boek in Afrikaans byeengebring is nie: Ons kyk na die verlede van Afrikaans (hoe dit as taal ontwikkel het en die gebeure wat dit beïnvloed het), die hede (waar ons nou is en hoe ons hier gekom het – waar Afrikaans onder enorme druk is) en ook die toekoms (waarheen Afrikaans op pad is en hoe dit daar kan kom). Geskiedenisboeke kyk dikwels net terug, maar ons kyk ook vorentoe. Dit is ʼn vernuwende aanpak.
  8. Ons het ʼn sosiohistoriese vertrekpunt gevolg – dit wil sê dat ons die verhaal van Afrikaans en sy sprekers wou plaas in die raamwerk van die gebeure in Suid-Afrika omdat Afrikaans se storie nie los gesien kan word van die storie van Suid-Afrika nie. Afrikaans word dus nie in isolasie beskou nie, maar as deel van ʼn groter geheel.
  9. Afrikaanse mense het baie foute gemaak. Gaan lees en kyk wat dit is. Veral wit sprekers van Afrikaans moet bewus wees daarvan. As dit begryp word, kan die rol van die taal en sy sprekers in perspektief geplaas word en kan daar aan die toekoms gewerk word.
  10. Ons wou hoop gee vir Afrikaans en sy mense. (Ons hoop ons het dit reggekry!) Want dit is waarop Afrikaans se toekoms gebou gaan word. Dit moet mense laat gló dat Afrikaans ʼn rol en toekoms in die land het.

Afrikaans.com wou weet:

Prof. Wannie, wat het jy geleer oor Afrikaans?

  • Ek is goed bekend met die literatuur oor die veld, maar ek was tog verbaas om te sien hoeveel ek nié van geweet het nie. (ʼn Mens is nooit te oud om te leer nie.)
  • Daar was ook sover onontginde temas wat ek net wou betrek (te veel om op te noem!) en dit het gelei tot die twee dik boeke wat gerealiseer het.
  • Die wit georiënteerdheid van die geskiedenis van Afrikaans was besonder opvallend – dit kon nie so voortgaan nie. Dit het weer die geleentheid gegee vir ʼn boek soos Ons kom van vêr (2016), oor die bydrae van bruin mense tot die ontwikkeling van Afrikaans.
  • Die werklike impak van apartheid op die lewe van die swart en bruin gemeenskap het ek van geweet, maar ek het nie naastenby die omvang daarvan begryp nie. Ek het diep gelees om dit behoorlik te kon begryp en te verwoord. Die skade wat dit aan menseverhoudinge in die Afrikaanse gemeenskap aangerig het, gaan nog vir baie jare met ons wees. Maar ons moet dit wéét.
  • Die feit dat die Afrikaanse gemeenskap in Argentinië oor 10-12 jaar ʼn feit van die geskiedenis sal wees, is ʼn aanduiding wat kan gebeur as ʼn taal in isolasie bestaan.
  • Toe ek die uitkoms van die analise van Afrikaans se funksies in die tabel sien (hoofstuk 21), was ek geskok, want ek het nie besef die omvang van die agteruitgang is so erg nie.
  • Ek was verbaas om te sien hoeveel produkte (boeke, ens.) Afrikaanse mense wel tot stand gebring het – daarom die idee om die subtitel (“Biografie van ʼn taal”) te betrek sodat ek juis kon wys wat ons reeds het. Ek kon dus “show and tell” oor Afrikaans. Dit is nogal ʼn mooi prentjie. Kyk gerus daarna in die boek.
  • En ook uiteindelik die wete dat ek nie meer tyd het om aan die boek te werk nie terwyl daar nog soveel te doen is, was nie lekker nie. Maar ek moes op ʼn stadium ophou.

Hoe pak ‘n mens so ‘n omvattende stuk werk aan?

So ʼn taak verg ontsettend baie werk en daar is heelwat wat daarmee saamhang. ʼn Mens begin met een doel en dan skuif die doelpale soos jy aangaan omdat jy soveel nuwe dinge teenkom wat net vertel moet word. Dit verg die volgende:

  •  ʼn DROOM: Jy wil iets nuut tot die veld byvoeg, maar jy moet jou gaping(s) eers vind. Dit wat jy skryf en aanbied, moet ʼn verskil maak tot die vakgebied en tot die debat oor die taal. Die droom van ʼn omvattende boek (wat alles waaraan jy kan dink insluit), die droom om ʼn inklusiewe geskiedenis te skryf (ons sʼn is werklik die eerste omvattende sodanige poging), die droom van ʼn saakmakende nalatenskap aan die einde van jou loopbaan.
  • TYD: Om te beplan, om te lees, om te dink, om te skryf, om te reis om dinge te ondersoek, om aansoeke vir befondsing in te dien, om te gaan pleit vir befondsing by jou potensiële borge, ens.
  • GELD: Reis- en verblyfkostes – ongeveer 10 maande se verblyf in die buiteland [Nederland, België] was duur (en ek sal die koste nooit kan verhaal nie!), ook plaaslike reise, bv. om foto’s te gaan neem, om op plekke te kyk of iets wel is soos die bronne sê; aankoop van materiaal (boeke, skryfbehoeftes, rekenaar (!), drukker), drukkoste (om te kan lees wat jy geskryf het), na afloop van die boek reis- en verblyfkoste om die boeke te gaan bemark (is op eie koste KKNK toe, ook Vrystaatfees toe) …
  • Baie LEESWERK: Lees álles wat jy oor die onderwerp in die hande kan kry, dan die sif daarvan om tot die kern deur te dring, die identifiseer van gapings in die leeswerk en dan opvolgleeswerk om meer te wete te kom. Leeswerk neem geweldig baie tyd en dit moet jy weet.
  • VASBYT: Sit agter jou lessenaar en skryf. Die ou beginsel van BOS geld hier: Boud op stoel … Daar is geen plaasvervanger hiervoor nie. Dit is jy en jy alleen wat die pad vorentoe en die vordering bepaal. Skryf elke dag al het jy nie lus nie. Daar is dae dat jy so g…tvol is met die projek, maar steeds moet jy voortgaan. Daar is dae wanneer daar geen woorde kom nie en ander dae gaan dit weer goed – John Denver sing nie verniet nie: “Some days are diamonds, some days are stones”(!). As jy nie kan vasbyt nie, moet jy nie eers begin nie. Lui mense sal nie boeke kan skryf nie.
  • GEDULD: Soms vorder leeswerk stadiger as wat verwag of beplan is, soms vorder skryfwerk stadiger, soms haal jy nie jou eie spertye nie, maar aanhou moet jy, woord vir woord, paragraaf vir paragraaf, bladsy vir bladsy, hoofstuk vir hoofstuk. Daar was dae dat ek gevoel het ek moet eerder ophou, maar dan het ek net gewoon aangegaan. (Seker uit domheid, want om jouself so te straf, is vreemd.) Staan op, loop ʼn ent, drink ʼn koffie en begin weer. Soms neem ʼn gedagte lank om ryp te word in jou kop en jy kan dit nie aanjaag nie.
  • WAAGMOED: Jy pak iets aan wat ander mense nog nie gedoen het nie en/of dalk te bang is om aan te pak. Jy ontgin nuwe maniere van dink en stel dit op papier. Dit verg baie. Jy mag dus nie ʼn bangbroek wees nie. Jy stel jou bloot aan ander se kritiek, maar dit is deel van die pakket. Die troos is dat ander jou moet ewenaar as hulle die moed het om beter as jy te doen.
  • ONDERSTEUNINGSTRUKTUUR: As jou gesin (veral jou vrou/man en kinders) jou nie steun nie en nie geduld het met jou alewige afwesigheid nie, het jy moeilikheid. My vrou het die laaste twee jaar haar geduld verloor en dit was nie maklik vir haar nie. Ek is dankbaar dat sy kon vasbyt tot aan die einde van die projek en ek is haar gróót dank verskuldig. Dan natuurlik ook ʼn plek om in stilte tuis te kan werk. Ook jou infrastruktuur by die werk is belangrik: kantoor, rekenaar, toegang tot biblioteek, beskikbaar maak van geld en van skryftyd, assistente om te help met soek van materiaal, goeie koffie, kollegas as ʼn klankbord vir idees.
  • OPOFFERING: Jy offer baie gesinstyd op, want “Pa/Oupa werk aan sy boek”. Jy ontbeer sosiale geleenthede, jou vriende gee moed op met jou, jy word oorgeslaan by uitnodigings, jou vakansies en naweke is net een groot vaal kol, jy kan nie ontspan soos ander ‘gewone’ mense nie (fliek, TV, sommer lekker gesels, speel met die kleinkinders word oorgeslaan)’, jy verloor tred met jou sportspan(ne), kultuurgeleenthede gaan verlore. ʼn Mens se huwelik kom onder druk (om verstaanbare redes), jou geld raak op. Dus nie maklik nie. En met die ouderdom saam het dit al hoe moeiliker geword omdat jy bang is jy mors van jou kosbare aftreetyd en tyd saam met jou geliefdes.
  • ONTNUGTERING: Soms werk jy dae lank aan ʼn saak en dan loop dit op niks uit nie. Soms kry jy baie kritiek vir jou moed om jou gedagtes op papier te sit en dan raak dit nogal aan die hart, juis omdat ʼn mens so baie van jou tyd en energie oor so ʼn lang tyd in een projek sit en so baie opoffer om dit te bereik. Of as jy ʼn stuk skryf wat jy dink goed is, en jou uitgewer sê jou pragstuk verdien nog verfyning. (Gewoonlik is hulle reg!) Soos Worsie se ma gesê het in “Vetkoekpaleis”: “Die pyn, o die pyn!”
  • EENSAAMHEID: Die eensaamheid van lang ure agter ʼn rekenaar sonder beduidende vordering, is erg. Die eensaamheid van ʼn leë kantoorgebou en ʼn donker huis lank na middernag op naweke vreet aan ʼn mens. En soms weet jy nie wat die volgende woord gaan wees nie. Op die een of ander manier moet jy daaruit kom en wel die volgende woord skryf. Ek het altyd aan my studente gesê as hulle op ʼn Sondagoggend om 02:00 nog sit en skryf en dit steeds geniet, is hulle op die regte pad met hulle studie. Dit is ook met boekskryf so.
  • OPWINDING: Die gevoel om iets neer te pen wat jy wéét nuut is, of wat iemand anders nog nie op daardie wyse saamgevat het nie, is magies. Die gevoel as jou gedagtes skielik ‘kliek’ en die woorde skielik in ʼn dik stroom uit jou vingers vloei, is magies. (Dit gebeur wel min!) Die gevoel as jy die manuskrip finaal instuur, is een van berusting en van stille tevredenheid, maar die oomblik as jy die eindproduk die eerste keer in jou hande vashou, is dié oomblik! Dan vergeet jy die pyn van sit en die ure se opoffering van eie en gesinstyd, die eensaamheid en jou leë beursie.

Klik hier vir prof. Wannie se Doendinge vir Afrikaans. Jy vind dit meer volledig in die boek (Deel 2, Hoofstuk 23).

Uitgewer: Protea Boekhuis

*Prys: R450 (onderhewig aan verandering)