Die ATR-leerdersbyeenkoms

Dink, praat en leer in Afrikaans!

Die onlangse ATR-leerderbyeenkoms op Stellenbosch was ’n hoogtepunt op dié organisasie se Jeugmaandkalender en het matrikulante toegerus met nuttige inligting en ’n waardevolle perspektief waaroor dié jongmense nog lank nie uitgepraat is nie.

Verskeie ATR-ledeorganisasies het deelgeneem en matrikulante toegerus met pitkos vir die pad na sukses. Moedertaalonderrig en die voordele daarvan, die waarde van meertaligheid en die deure wat dit oopmaak, die krag van deelname aan die gesprek oor Afrikaans, maar veral die waarde van praktiese doendinge, is belig. Voortdurende gesprek oor die ruimte binne Afrikaans om jouself te wees –  dat ons verskille bydra tot die kleurvolle verskeidenheid van hierdie ryk taal en erfenis – was rede tot groot opgewondheid en positiewe diskoers.

 “Ek het dit oorweeg om eendag my kinders Engels groot te maak, maar ek het nou besluit om my kinders Afrikaans groot te maak.”;  “Dit was baie insiggewend en ook baie lekker.”; “Baie dankie vir die geleentheid, ek waardeer dit baie.”; “Die leerderbyeenkoms kan in een woord opgesom word:  ‘awesomerowend’.”; “Baie, baie dankie aan die Taalraad wat met mening standpunt inneem vir Afrikaans, wat platforms bied vir jongmense wat stemloos was.  Dankie dat ons ‘saam’ met die ATR kan stap” – Van die terugvoer van leerders

Die groep matrikulante met voor van links na regs die gesprekspaneel Carla Barnard, Perry-Winkley Xengana en Toyer Hefca en gespreksleier Tracey Lange. Foto verskaf

#jouafrikaanstel

“Dit is ’n boodskap wat nuwe energie in ons liefde vir Afrikaans tot stand bring en wat ons trots maak op wie ons is …  al praat ons elk dit só verskillend, op die ou end praat ons een taal en dis die taal van hoop!” – William Sezoe

Dink, praat en leer in Afrikaans!

Die leerdersberaad het die naweek van 16 Junie by Hoërskool Stellenbosch plaasgevind waar veral die verskeidenheid in Afrikaans deur Fatima Allie, ondervoorsitter van die ATR en dr. Conrad Steenkamp, ATR-hoof belig en gevier is.

Die leerderprogram – Dink, praat en leer in Afrikaans! – het sterk op die moedertaal as instrument vir akademiese prestasie gefokus, ’n kwessie wat oortuigend belig is deur David Jantjies van die Moedertaalinisiatief van die Suid-Afrikaanse Onderwysondersteuningstrust (SAOOT).  Fiona van Kerwel van Woorde Open Wêrelde (WOW), wat oor loopbaangeleenthede en studiemoontlikhede aan die Universiteit Stellenbosch gepraat het, het die leerders eweneens aangemoedig om Afrikaans as onderrigtaal te kies.

Die leerders is geïnspireer om Afrikaans te koester as deel van hul identiteit en erfenis, hulle daarin uit te leef en nie skaam te wees oor die soort Afrikaans wat hulle praat nie. Die passievolle bydraes in hierdie verband – Afrikaans jou identiteit en kultuur deur dr. Willa Boezak, direksielid van die ATR en die DAK-netwerk, en ’n bespreking van die Afrikaans.com-veldtog #JouAfrikaanstel deur William Sezoe,  het die leerders ernstig oor hul taal en identiteit laat besin.

Michael Jonas, ATR-direksielid en direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, het tydens sy spreekbeurt die klem laat val op meertaligheid en die ekonomiese voordeel daarvan in ’n meertalige omgewing. Die gesprek oor meertaligheid is voortgesit deur Tracey Lange, bekende radio- en TV-persoonlikheid én Afrikaans-ambassadeur, met paneellede Toyer Hefca, Perry-Winkley Xengana en Carla Barnard met die tema ’n Toekoms met Afrikaans? ’n Positiewe diskoers is gehou waar leerders aangemoedig is om saam te praat, maar veral saam te dóén om wanpersepsies oor Afrikaans en Afrikaanssprekers om te keer.

Die Vriende van Afrikaans, SAOOT en die DAK-netwerk is ook verteenwoordig en die vol program het ook praktiese raad ingesluit oor beskikbare finansiële hulp vir studente met bydraes van Verna Stuurman van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) en Phil-Marié Robberts van Rapport Onderwysfonds. Die program was propvol raad en is met behulp van die ATKV met ’n heerlike musiekprogram afgesluit.  Lees meer oor die byeenkoms hier.

“Die ATR en ons vennote stap graag saam die toekoms in met sulke gemotiveerde Afrikaanse jongmense.” – Ria Olivier (ATR)

Lees meer oor die ATR hier