Die ATR-Kokers ontsluit die potensiaal van jou moedertaal

Die Afrikaanse Taalraad se 2018 Kokertoekennings is ’n hoogtepunt op die jaarlikse Afrikaanse kalender. Die ATR speel ’n belangrike rol deur Afrikaanssprekendes te bemagtig deur spesifiek jongmense aan te moedig om die potensiaal van hul moedertaal te ontsluit en so hul drome te verwesenlik.

Die Kokertoekennings word jaarliks sedert 2013 deur die Afrikaanse Taalraad toegeken vir spesiale bydraes tot die Afrikaanse taal en is ‘n manier om erkenning te gee aan mense wat brûe bou, ‘n verskil maak en die voortou in en deur Afrikaans neem.

Bekendes wat al Kokers ontvang het, sluit onder andere in Adam Small, Ton Vosloo, Cerneels Lourens, Refentse Morake, Marlene le Roux, Wannie Carstens en Susan Smith. Verlede jaar het Sandra Prinsloo, Shaleen Surtie-Richards, Suzie Matlhola en Sue Pyler elk met ’n Koker weggestap.

Die kategorieë

Die Kokers word in drie kategorieë toegeken. In die eerste kategorie word mense vereer wat ʼn wesentlike bydrae tot die bevordering van Afrikaans, beskerming van Afrikaans of bemagtiging deur Afrikaans gemaak het. Die drie wenkandidate het gewoonlik ʼn lang betrokkenheid by Afrikaans en die Afrikaanse taalgemeenskap.

Kokers in die tweede kategorie is spesiale toekennings wat uitgedeel word vir ʼn lewenslange bydrae tot Afrikaans. Hierdie kategorie is veral op afgetredenes of mense aan die einde van hulle loopbaan gemik.

Die derde kategorie is op die jeug gerig en word as aansporingsprys beskou. Dit gaan aan jong mense wat Afrikaans op nuwe maniere bedink en entoesiasme vir die taal onder ander jeugdiges kweek. Die maksimum ouderdom vir die jeugtoekennings is 35 jaar.

Die ATR kies die finaliste op grond van die inligting wat deur die nomineerders verskaf word of andersins deur die ATR bekom is.

Skrywer Jeremy Veary vervat die Afrikaanse Taalraad se rol as volg:

“Maa alles is darem noggie heeltemal vedalla nie, daa is wel onse wat alliepad saamspan onne rie Afrikaanse Taalraad virrie groter ons.” – Jeremy Veary

’n Dekade …

 

Tydens die glansryke funksie op 16 November in Pretoria kon die ATR ook terugkyk op ’n dekade van sukses en is hul dekadeboek bekendgestel. “Ons kyk terug op die interessante en opwindende reis: beplanning, stigting, uitbreiding, konsolidering.” Lesers is genooi om deur die lens van verskeie skrywers die ATR-landskap van die afgelope tien jaar te beleef. Die boek doen ook ‘n beroep op lesers om saam met die ATR die aktiwiteite en uitdagings van die volgende tien jaar aan te pak – buigsaam en bemagtigend vorentoe.

“Die projekte en inisiatiewe van die afgelope jare werp vrugte af. Persepsies oor Afrikaans word verander. Nuwe netwerke in die Afrikaanse gemeenskap, maar ook met die ander inheemse taalgemeenskappe, word gevestig.” – Japie Gouws (ATR-direksielid)

Dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende direkteur van die Afrikaanse Taalraad vertel so ‘n bietjie meer …

Die 2018 Koker-wenners

Agter: Sakkie Kotze, Nico Scheepers, Heindrich Wyngaard. Voor: Sonia Elie, YOMA, prof. Ina Wolfaardt-Gräbe (afwesig: Vernon Macaskill Meyer).

Jeugtoekenning: Yoma

Leer ken Yoma van nader

Yoma se album MOEDERTAAL, is die eerste album waarop ’n vroulike hip hop-kunstenaar so eerlik oor swangerskap en so trots Afrikaans is. Suid-Afrika het ‘n hoë swangerskapsyfer onder tieners en ander jong vroue en baiekeer is hulpmiddels, veral in Afrikaans, totaal uit voeling met daardie ouderdomsgroep. Sy het dit “cool”en “sexy”laat klink en lyk om swanger en Afrikaans te wees.  Yoma pryk byvoorbeeld met haar swanger magie op die omslag van die CD. Gemeet aan die talle geïnspireerde Afrikaanse vroue se reaksies op die CD, het sy ‘n lansie gebreek vir Afrikaans onder jong vroue wat ‘n grootmaak- en voertaalkeuse moet uitoefen vir hul kinders teen die agtergrond van die toenemende verengelsing in gemeenskappe.

Yoma het hierdie jaar ook die Ghoema vir beste Afrikaanse lied gewen met die liedjie Willekat wat ook op die Moedertaal-album verskyn. Hiermee het sy gevierde manlike rymkletsers uitgestof en die eerste vrou geword wat hierdie gesogte erkenning kon wen. In die aanloop tot haar baba, Engel, se verskyning op 19 Desember 2017, het sy vir Rooi Rose ‘n weeklikse blog oor die swangerskap proses geskryf, wat volgens Ilze Salzwedel, die lesers se gunsteling was. Sedert haar baba se geboorte het sy weer begin optree, en elke keer as sy optree, word haar foto’s gebruik vir reklame. Dit spreek boekdele oor haar persoonlikheid en die rol wat sy vertolk vir Afrikaans

Jeugtoekenning: Nico Scheepers

Leer ken Nico van nader

Nico Scheepers is ’n veelbekroonde dramaturg en regisseur wat sedert 2014 sy merk in die Afrikaanse teaterlandskap maak. Op 31 het hy reeds ’n omvangryke nalatenskap in die kunste.  Dis veral sy werk met jongmense wat inspireer en raakgesien word en waarvoor die ATR hom met ‘n Kokertoekenning vereer.

Sy teaterloopbaan het tydens sy skooljare by die ATKV-Tienertoneelkompetisie begin: as speler en as skrywer van sy eerste twee verhoogstukke vir Hoërskool Louis Trichardt, Kolom (2010) en Loodballon (2011). Albei wen die Nasionale Finaal en vir drie jaar agtereenvolgens (2010 tot 2012) ontvang hy die toekenning vir beste regisseur.

Nico se aanslag met tienertoneelproduksies is jongmens-gesentreerd – innovasie in teater, maar meer nog – dat die hoërskoolleerders die hooffokus sal wees en geborge sal voel in die proses. In ’n onderhoud oor Tienertoneel sê hy:

“Nie net maak dit hulle lief vir die teater nie, maar dit maak hulle ook lief vir hulself. Dis die een plek waar hulle net hulself kan wees, waar hulle soos grootmense hanteer word en waar hulle emosies en gevoelens, buite die huis, gerespekteer word. Dis net ʼn ongelooflike ervaring en vorm ʼn tipe terapie vir kinders. In die sewe jaar wat ek by die Tienertoneel betrokke is, het ek al die wonderlikste stories gehoor en ervarings beleef. Ek sou graag wou hê nog meer kinders moet die geleentheid kry om hieraan deel te neem.”

Hy is vir sy werk as dramaturg en regisseur deur verskeie instansies bekroon: die ATKV, kykNET, die Vrystaat Kunstefees en Aardklop Kunstefees. Oor sy drama Die maan val bewusteloos, wat hy vir Hoërskool Jan van Riebeeck geskryf en geregisseer het, en waarvoor hy die prys vir beste regie by die Silwerskermfees ontvang het, skryf Albert Maritz as volg:  “Die maan val bewusteloos broei briljantheid. Scheepers se werk is die wêreld se moetste moet-sien.

Sy drama Moedertaal (2017), die eenvrouvertoning met Sandra Prinsloo, wat steeds in teaters te sien is – o.a. onlangs tydens die Festival voor het Afrikaans in Amsterdam. Saam met ander jong teatermakers maak Nico eietydse teater toeganklik vir die jeug. Die rimpeleffek van bemagtinging wat sy kennis, talent en passie vir jongmense veroorsaak gaan vir generasies sigbaar wees.

Jeugtoekenning: Sonia Elie

Leer ken Sonia van nader

Sonia Elie het ’n onstuitbare passie vir lees en vir Afrikaans. Vandaar dat sy in Eldorado Park waar sy woonagtig is, ‘n reeks inisiatiewe geloods het in die belang van leesbevordering, spesifiek in Afrikaans.  Sonia bedryf ’n boekwinkel, met die naam Die Boekfeetjie vanuit haar huis. Die boekfeetjie, soos sy in haar gemeenskap bekend staan, bevorder Afrikaans deur boekskenkings aan nieregeringsorganisasies, deur boeklenings en ook deur die uitruil van boeke, alles om lees onder veral kinders te stimuleer. Sy het ook leesgroepe gevestig en bied gereeld leeskompetisies aan. Sonia versprei dus boeke op verskillende maniere, maar wat mense inspireer is haar boekklub vir vroue. By die boekbesprekings wat sy vir vroue reël, word gefokus op resepte, maar ook op relevante kwessies soos finansies, die huwelik, familie, ens. Vroue bekom inligting uit die boeke wat Sonia beskikbaar stel, en kry die voorts die geleentheid om idees en probleme te deel – in Afrikaans natuurlik.

Sonia is tans besig om haar werk in die gemeenskap uit te brei en daardeur Afrikaans wyd te bevorder, maar sy bemagtig ook die Afrikaanse gemeenskap waarvan sy deel is. In ’n gemeenskap soos Eldorado Park waar lees oor die algemeen en lees in Afrikaans beslis nie meer ’n priotiteit is nie, lê Sonia haar daarop toe om Afrikaans ’n prioriteit te maak.

Die Taalraad gee met hierdie toekenning aan Sonia Elie erkenning vir haar werk ter bevordering van Afrikaans en bemagtiging van Afrikaanssprekers in die toenemend verengelsende gemeenskap van Eldoradopark.

Koker vir bevordering van Afrikaans: Heindrich Wyngaard 

 

Leer ken Heindrich van nader

Heindrich Wyngaard is ‘n joernalis wat bekendheid verwerf het as politieke verslaggewer by Die Burger en Rapport, as omroeper op RSG, as TV-aanbieder van programme soos Kwela en Wat’s die storie en deesdae ook as aanbieder van die gewilde aktualiteitsprogram Kô, Lat Ons Praat (KLOP) op kykNet – ‘n program wat onder meer fokus op nuusmakers, helde en geskiedenis.  Daarby het hy vir ʼn hele aantal jare ook as direksielid van die Suidoosterfees gedien gedien. In al hierdie hoedanighede lewer hy ʼn daadwerklike bydrae om Afrikaans as ʼn insluitende en medium te bevorder.

Heindrich se liefde vir Afrikaanse nuus het in sy skooljare ontwikkel toe hy soggens douvoordag koerante afgelewer het en daarna ook toe hy as student sy slag as onderhoudvoerder en meningsvormer gewys het.

Heindrich het die volgende publikasies die lig laat sien:  Die Gevleuelde Woorde en Wyshede van Peter de Villiers, Standpunte van Annerkant die Treinspoor, A Home for Zephany en ‘n biografie oor die eerste bruin Springboek, Errol Tobias, getiteld Bursting through the half-gap.  Hy is ook medeskrywer van The Ashwin Willemse Story.

Koker vir beskerming van Afrikaans: Prof. Ina Wolfaardt-Gräbe 

 

Leer ken Prof. Ina Wolfaardt-Gräbe van nader

Prof. Ina Wolfaardt-Gräbe het talle akademiese publikasies die lig laat sien en het kwalifikasies van die Universiteit van Port Elizabeth (MA); die Rijksuniversiteit van Utrecht (Drs.Litt) en die PU vir CHO (D.Litt et Phil).  Prof. Wolfaardt-Gräbe word vereer vir die beskerming van die status van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) as die enigste enkel Afrikaanse akademiese tydskrif in Suid-Afrika met internasionale aansien.

Suid-Afrika se akademiese tydskrifte het die afgelope jare vinnig verengels. Akademici in Suid-Afrika het hulle laat oorhaal – dikwels onder dwang van universiteitsowerhede – om slegs in Engels te publiseer om dit makliker toegang tot die internasionale akademiese markte sou gee en sou bydra tot ’n akademikus se internasionale aansien, alles ten koste van Afrikaans en Afrikaans as akademiese taal.

Prof. Wolfaardt-Gräbe is sedert 2001 redakteur van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Teen die nasionale anti-Afrikaanse stroom in het prof. Wolfaardt-Gräbe oor byna twee dekades heen sterk gestaan teen alle pleidooie, selfs by die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, dat die TGW ook artikels in Engels moet opneem. Die enigste toegewing wat sy gemaak het, is dat opsommings by die artikels – in Engels en Afrikaans – effens langer kan wees en dat artikels ook in Nederlands en Duits kon wees.

Met haar noukeurige toesig oor hoë standaarde het prof. Wolfaardt-Gräbe daarin geslaag om die TGW as Afrikaanse akademiese tydskrif op internasionale vlak geïndekseer te kry. Onder haar leiding het die TGW gevorder van ’n nasionaal geakkrediteerde tydskrif tot ’n internasionaal geïndekseerde tydskrif (Thompson’s ISI Social Sciences Citation Index). Om ISI-geïndekseer te word, vereis ‘n eksterne monitering en evaluering wat drie jaar duur waartydens ‘n tydskrif sy hoë akademiese peil konstant moet handhaaf. Verder is die tydskrif opgeneem in die Elsevier Scopus-indeks (Europa), die Brasiliaanse SciELO (Scientific Electronic Library Online). In 2016 is die TGW vermeld as een van tien mees gesiteerde publikasies op die SA SciELO-platform – die enigste Afrikaanse akademiese tydskrif wat so vermeld is. Die TGW verskyn kwartaalliks en beslaan ongeveer 200 bladsye per uitgawes.  Dit bevat navorsingsartikels, oorsigartikels en resensies in Afrikaans. Prof. Wolfaardt-Gräbe hanteer die keuringsprosesse en korrespondeer met akademici wêreldwyd en sorg dat elke uitgawe taalversorg die lig sien. Met haar toewyding en insig lewer sy steeds ’n hoogs belangrike bydrae tot die bevordering van Afrikaans as akademiese taal in Suid-Afrika en wêreldwyd.

Koker vir lewenslange bydrae tot AfrikaansSakkie Kotze

 

Leer ken Sakkie van nader

Sakkie Kotze se passie vir sy moedertaal Afrikaans, het begin met sy deelname aan die talle idioom-, opstel-, letterkunde-, redenaars-, debat- en toneelprojekte van sy alma mater, die voormalige Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg. Sy luisterryke onderwysloopbaan sluit in: Afrikaansonderwyser, departementshoof, skoolhoof en inspekteur van skole.

In 2002 is hy deur die Kommunika Toastmasters as Kommunikator van die Jaar aangewys. Sedert 1997 is hy voorsitter van die ATKV se Centuriontak – ʼn posisie wat hy tot vandag toe nog as ʼn vrywillige kultuurwerker beklee.

Van die vele suksesvolle projekte van die ATKV-Centuriontak onder Sakkie Kotze se leiding, sluit in:

  • erkenning aan topleerders in Afrikaans moedertaal en tweede taal, asook aan onderwysers wat vir langer as 25 jaar Afrikaans eerste taal en eerste addisionele taal onderrig;
  • die webwerf “Vlam vir Afrikaans” wat spog met meer as 17,000 besoeke.
  • die “VLAM” wat op 8 Mei 2016 deur Mimi Coertse by die Voortrekkermonument aangesteek is tesame met die onthulling van ʼn gedenkplaat ter herdenking van die erkenning van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 1925.
  • die onthulling van ʼn gedenkplaat deur die stasiebestuurder van RSG, Magdaleen Kruger, ter herdenking van die eerste radio-uitsending in Afrikaans op 27 Oktober 1937; en
  • die aanwys van wenliedjies van ʼn landwye Afrikaanse liedjiekompetisie ter viering van die Wêreldbekerrugby- en Wêreldbekersokker-kampioenskappe.

Sakkie Kotze is deur ʼn Amerikaanse Onderwysondersteuningsmaatskappy wat moedertaalonderrig, gehalte-onderwys en onderwysleierskap in Suid-Afrika bevorder, as hul adviseur in Suid-Afrika aangewys.

Hy was lid van ʼn multikulturele taal- en kultuurpaneel van Radio 2000 wat interkulturele verhoudinge deur ʼn reeks radiopraatjies bevorder het, beoordelaar van Praat saam-kompetisies in Afrikaans en ander tale, en lid van besprekingspanele oor die stand van Afrikaans op verskeie radiostasies.

Sakkie Kotze het vir baie jare op die direksie van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging, of te wel die ATKV, gedien.

Sakkie se eie liriek, “Ek is trots op jou taal”, is in ʼn gr. 4-Afrikaanse leerboek opgeneem. Daarin verklaar hy: “Ek kan bid en glo, dink en droom, sing en hoor, lees en skryf en met trots praat in my moedertaal: AFRIKAANS”.

Dit is vir die Afrikaanse Taalraad ʼn voorreg om die Koker vir lewenslange bydrae tot Afrikaans, aan Sakkie Kotze te oorhandig.

Koker vir bemagtiging deur Afrikaans: Vader Macaskill Meyer – die oratorium van St Philip Neri, Oudtshoorn

 

Leer ken Vader Vernon Macaskill Meyer

GOD IS ONS ERNS is die slagspreuk van die Oratoriumgemeenskap van Sint Filip Neri in Bridgton, Oudtshoorn. Op 15 Augustus 2007 het Biskop Edward Adams die nuut omgeboude fabriek, nou die tuiste van die Oratoriumgemeenskap (die priesters, ‘n noviet, en aspirant) asook die nuwe wonings van die Susters van Voorsienigheid en die Dettmer egpaar ingewy en geseën.

Die Oratoriumgemeenskap bestaan uit verskillende apostolate wat die Afrikaanse gemeenskap deur Afrikaans bemagtig.  Een van die hoofprojekte van die Oratorium is ‘n kindersorgsentrum. Ander apostolate is verantwoordelik vir pastorale sorg in gemeenskappe.  Vader Vernon Macaskill Meyer en sy kollegas is verantwoordelik vir die bedryf van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe Konferensie se Afrikaanse Taalapostolaat onder die vaandel van die Afrikaanse Taal Pastorale Streek.

Die Afrikaanse Taal Pastorale Streek is ’n liggaam van die Suider-Afrikaaanse Katolieke Biskoppe-konferensie gemoeid met Afrikaans in die Katolieke Kerk.  Hulle werk behels onder andere die verskaffing van amptelike Afrikaanse vertalings asook nuwe konsepte van kerkdokumente, geskrifte, pastorale briewe, litrugiese boeke, kategetiese materiaal, geestelike en pastorale leesstof ens. soos en wanneer die bogenoemde benodig word in of gedrukte of elektroniese formaat.

Die biskoppe woon gereeld vertalingswerkswinkels by waar hulle kennis oor liturgiese vertaling opgeskerp word.  Tydens die vertalingswerkswinkel in 2007, gereël deur die International Commission for English in the Liturgy was dit die eerste keer dat al die taalstreke van Suid-Afrika byeen was.  Aan die hand van die Vatikaanse dokument, Liturgiam authenti-cam,wat die gebruik van spreektale in die vertaling van die Romeinse Altaarboeke verduidelik, is vertaalbeleid en -norme vir die vertaling van Liturgiese tekste uit Latyns verduidelik.  

God is ons Erns, die amptelike Webblad van die Kongregasie, stel Afrikaanssprekendes, Katolieke en nie-katoliek in staat om in hul huistaal meer omtrent die werksaamhede van die Kongregasie te leer en die Blye Boodskap te ontvang.