Deel XV van die Woordeboek van die Afrikaanse taal word bekendgestel

Die verskyning van ’n WAT-deel is ’n besondere geleentheid omdat dit beteken dat nog ’n deel van die Afrikaanse woordeskat so omvattend as moontlik in ‘n woordeboek vasgevang is. Afrikaans in ál sy verskyningsvorme vind neerslag in die WAT: Dit is ’n tuiste vir die Afrikaans van al die sprekers van die taal – van die Kaapse Vlakte tot in die Noordelike uithoeke van Suid-Afrika. ’n Resensent van deel XIV het dit soos volg gestel: Die WAT is monumentaal in die lewe van Afrikaans omdat dit die taal so omvattend boekstaaf. – Arnold Schoonwinkel, voorsitter van die WAT-direksie

Die bekendstelling van WAT XV het op 17 April by ‘n spesiale geleentheid op Stellenbosch plaasgevind. Die deel is aan vyf vakkundige medewerkers, nl. proff. Jan Giliomee, Izak Grové, Jan Lochner, Sakkie Rust en Christo Viljoen oorhandig en Coenie de Villiers en Deon Meyer het gaste met ‘n uitvoering van Karoo Suite vermaak.

WAT XV

Deel XV strek alfabeties van SKOOL tot by SRI LANKAANS, maar dit bevat ook ’n addendum met nuwe woorde van A tot S.  Die addendum gee aan ons ’n idee wat sedert die publikasie van elke deel in Afrikaans gebeur het, beginnende by deel I in 1950. Aanlyn en amabokoboko was nog nie ’n vonkel in Afrikaans se oog in 1950 nie, ook nie banting, beurtkrag en CD nie. Geelkaart, gay, geheuestokkie, hardeskyf, gemorskos, google en glasnost was destyds nie eers ’n hersenskim nie, en so ook opdrafspan, papegaaislaai, pang en popgloër.

Die WAT-direksie het verlede jaar op ’n revolusionêre tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT besluit waarvan die hoofmomente vyf addisionele redaksielede en ’n bykomende R32 miljoen, versprei oor tien jaar, behels.  Die vyf redaksielede is aangestel en die R32 miljoen is amper gerealiseer.  Hul werk tans aan deel XVI van die WAT wat in 2020 moet verskyn en wat die laaste S-deel en ook die laaste gedrukte deel van die WAT sal wees.  Vanaf die letter T sal die WAT slegs aanlyn gepubliseer word – ’n besluit wat nie ligtelik geneem is nie.  Die koste en tyd wat met die publikasie van ’n boek gepaard gaan, het in die lig van die tienjaarplan egter net te veel geword.

Vier honneursstudente in leksikografie van die Universiteit van Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands het op Donderdag, 2 Mei, ‘n gesprek oor die omvattende woordeboeke en Deel XV van die WAT bygewoon. Hulle verskyn hier saam met dr. Willem Botha (hoofredakteur).

Die WAT in ‘n neutedop

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

  • Dokumenteer die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang: Ons werk tans aan die laaste gedeelte van die letter S.
  • Is die grootste projek ooit rakende Afrikaans en die kroonjuweel van Afrikaanse woordeboeke.
  • Is op die internet toeganklik vir 300 000 studente aan Suid-Afrikaanse universiteite.
  • Word as elektroniese hulpmiddel gebruik in die onderrig van Afrikaans op skool.

Die WAT as instelling

  • Lewer daagliks ‘n gratis telefoniese taaldiens.
  • Bevorder veeltaligheid deur opleiding en steun te verskaf aan die woordeboekeenhede vir die ander tien amptelike landstale.
  • Verskaf opleiding aan woordeboekmakers, onderwysers, leerders en studente van Suid-Afrika en ander Afrikalande.
  • Publiseer benewens die WAT en Elektroniese WAT ook die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA), EWA Supplement en Sinonieme en verwante woorde.
  • Publiseer die internasionale vaktydskrif Lexikos wat in 23 lande versprei word.

Lees meer oor die Borg ‘n Woord-projek hier.

LitNET: Foto’s van die bekendstelling. Klik hier