DAK-Netwerk se konferensie oor Waarheid en Versoening oor Afrikaans

“Taal is soos water en lig. Jy dink nie daaraan tot dit opraak of besoedel is nie.” – Prof. Hein Willemse

Die DAK-Netwerk (DAK is ‘n akroniem vir Doman, Autshumao en Krotoa) se Waarheids- en Versoeningskonferensie oor Afrikaans het op Saterdag, 30 Maart en Sondag, 31 Maart 2019 by die konferensiesentrum by Old Mutual in Pinelands in Kaapstad plaasgevind.

Van die sprekers by die geleentheid, was, onder andere: prof. Hein Willemse, prof. Hans du Plessis, prof. Anton van Niekerk, prof. Michael le Cordeur, prof. Braam Hanekom, Stan Henkeman en Flip Buys.

Gespreksleiers was Simon “HemelBesem” Witbooi, Malixoli Gwatyu, prof. Julian Sonn en Ria Olivier, met Jerome Topley as programdirekteur, en paneellede wat gaste  soos Quinton Adams, Earl Basson, Cornelia Faasen en Robyn van de Rhede, Danie van Wyk, drs. Hendrik Theys en Giselle Botha ingesluit het.

Die geleentheid is gekenmerk deur eerlike, reguit menings en navorsing wat daarop dui dat Afrikaans reeds 100 jaar bestaan het toe Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het.

Van die interessantste aanhalings by die geleentheid, is as volg:

Prof. Hans du Plessis het die “intertaal-fenomeen” verduidelik en hierdie is sy slotsom:

“Afrikaans is nie ‘n standaardtaal nie. Dit is die somtotaal van al sy variëteite. Die geskiedenis moet herskryf word. ‘n Nuwe waarheid is dat Afrikaner nasionalisme die Afrika-hart uit Afrikaans geruk het.”

Kyk hier na Afrikaans.com se tydlyn: Oorsprong van Afrikaans

Volgens hom lê versoening in die eerlike en objektiewe wetenskaplike navorsing van Afrikaans. “Versoening is die transformasie van Standaardafrikaans sonder om ons skuldig te maak aan linguistiese kaderontplooiing. Kom ons herskryf dit op ‘n verantwoordelike manier.”

Dimitri Jegels, gehoorlid, voormalige radio-omroeper en tans UWK/KSUT-akademikus, se kommentaar was as volg:

“As ons versoening wil hê, moet die geskiedenis herskryf word. Die oorgrote meerderheid mense praat nie Standaardafrikaans nie. Ons moet die ‘standaard-weergawe’ herskryf.”

Quinton Adams, paneellid, opvoedkundige sielkundige ook bekend as die “Shack-builder, meen:

“As ons kyk na die huidige sosiopolitieke konteks, dan is dit baie belangrik dat ons nie die taal as in ‘n vakuum sien nie. Ons kan nie die taal losmaak van die sosiopolitiese realiteite nie. Dit is dat ons die grootste ongelykheid in die wêreld het: baie arm en baie ryk. En ongelukkig heers armoede onder die grootste aantal sprekers, bruin mense. Ons het nie kapitaal nie, of insae in instansies nie. Ons het ook nie toegang tot die kapitaal om ons taal uit te leef nie.”

Cornelia Faassen, teaterspesialis:

“Ja, daar is ‘n interessante beweging in teater; die gesprek oor aan wie Afrikaans behoort, is verby. Dit behoort aan almal wat Afrikaans praat. Dis ‘n dooie gesprek rondom waar dit vandaan kom en aan wie dit behoort.”

Sy meen geen regisseur wil werk skep wat enigiemand kan laat wonder oor of dit “ontwikkelingsteater” is nie.

Uitsluiting was ‘n groot tema tydens hierdie deel van die gesprek, maar Faassen meen: “In teater word daar baie gedoen rondom wie kry toegang tot befondsing. Uitsluiting is nie noodwendig net in die kunste nie.”

Robyn van de Rhede, Afrikaansonderwyser en Fiësta-feespaneellid meen die rasgroepe ondersteun net hul eie mense.

“Wat is die punt as die een ras nie na die ander ras luister nie? Ons moet êrens gaan en sien wat doen die ander. Ons moet sien, hoor by feeste; êrens moet mense wat nie die gesprekke bywoon nie, bietjie uit hul comfort zone gaan en gaan leer oor die ander.”

Dr. Hendrik Theys, afgetrede akademikus, vertel oor sy herkoms uit Griekwastad tydens die “erkentenis”-deel van die konferensie. Die vrae gedurende hierdie deel het gehandel oor: Wat kon ons anders doen om die taal se trajek te help bepaal? Watter “skuld” dra ons aan waar Afrikaans vandag is? Theys:

“Ek het nie ‘n ander identiteit nie. Ek het gedink my status is gekoppel aan hoe suiwer ek die taal praat. Ek moes nie laat agterkom ek is van Postmasburg/Griekwastad nie, en daar is die taal beduidend anders as die standaardtaal.”

Me. Giselle Botha, Matiedosent, meen as jy teen die stroom op swem, word jy gebrandmerk.

“Waar is verkeerd gegaan met die onderwys oor die miskenning? Dit is inderdaad so dat die narratief in die onderwys verskil. Marginalisering bestaan nog steeds. Dis tyd om die diverse storie van Afrikaans te vertel.

“Kan daar ‘n ons wees? Ons verstaan transformasie, hoe om te herstruktureer om by ‘n eenheid uit te kom. Ek moet kan verstaan hoekom iemand seer en ongelukkig is. Ek sit nou hier met hierdie ongemaklikheid,” het sy gesê.

“Hoekom sal ek eerder kies om te ver-Engels? Want ek weet nie hoe om hierdie geskiedenis te face nie. Ons kan dit nie weer doen dat die een narratief die ander oorheers nie. Die tydgees by my universiteit (Maties) is weer soos kolonialisme. As jy gaan opstaan vir Afrikaans, gaan jy alleen staan?”

Danie van Wyk, onderwysspesialis en paneellid:

“Waar ons verkeerd gegaan het, is die verwydering. Hoe gaan ons nader aan mekaar beweeg om die denkbeeldige verskille aan te spreek?”

Voormalige joernalis Malixoli Gwatyu, tans betrokke in die landbousektor, meen:

“Kyk byvoorbeeld in die landbou: Al die programme op televisie, wie se stories word vertel? Daar is ‘n miljoen plaaswerkers en ek is altyd nuuskierig oor wie hulle is, wie voor hulle op die plase gebly het.”

Simon “HemelBesem” Witbooi:

“Ons mense het nie ikone nie. As jy nou die televisie aansit en jy nou na enigiets van Namakwaland luister, is dit net humoristies. Jy gaan nooit iets serious hoor nie. Dis absoluut belangrik dat ons kyk na die inklusiwiteit van Afrikaans. Die mense se arms is oop wat die taal aanbetref, maar die ‘masjien’ vat nog ‘n bietjie lank.”

Tydens die gesprek oor die weg vorentoe, was prof. Anton van Niekerk se mening as volg:  “Die hedendaagse studente wil hulself skynbaar nie laat oortuig dat Afrikaans van belang is as jy jouself vir die toekoms wil berei nie – met verwysing na Stellenbosch. Kan ons hulle te veel kwalik neem? Hul houding sal dalk verander wanneer Afrikaans weer dominant is, en wanneer Afrikaans vir hulle werk. Hierdie byeenkoms van vandag kan dalk so ‘n platform wees.

“Dit was ons bymekaar moet hou, kan nie net die taal wees nie. Wat ons in die toekoms sal bind, sal ‘n gemeenskaplike waardestelsel wees. Afrikaans is nie self daardie waardesisteem nie, maar kan help om die waardesisteem op unieke manier te artikuleer.”

Prof. Michael le Cordeur meen van die simbole van die verlede moet prysgegee word, en daar moet aanbeweeg word. “Vergewe hulle hul dade; breek met die verlede. Die struggle moet ons nie romantiseer nie, ons moet aanbeweeg. Ons moenie vergeet nie, maar ons moet aanbeweeg.”

“Watter simbole moet ons prysgee? Ou simbole sal moet plek maak vir nuwes. Wie is die ware helde van Afrikaans? S.J. du Toit, Sjeg Abu Bakr Effendi? Achmat Davids?

“Kies ons watter waarheid ons vir ons kinders wil sê? Ons sal ons kinders aan die geskiedenis moet blootstel. Ons moet saam vorentoe beweeg en vertroue bou. Ons voel bang, bewerig, wantrouig. Ons sal dit moet uitpraat, moet hande vat, maar dan 100% hande vat. Versoening is nie moontlik nie, vriende, sonder vergifnis nie.”

Emile Jansen, kletsrymer, gemeenskapsleier, kunstenaar:

“In elke movie, ‘Noem my Skollie’, ‘Nommer 37’, wat maak daai aan die mense se gedagtes? Dis een storie wat vertel word. Die idee van wie ons is, is herhaal. Die vorige regime het ons in daai boks gesit, en wat nou gebeur is ons sit ons ook in ‘n boks.”

Dr. Danny Titus, DAK-voorsitter:

“Oor die versoeningsaspek wat Khoisan betref: Dit is belangrik dat ons diagnoseer wat die probleem is, maar ons moet ophou om ‘n punt daaragter te sit. Die funksie is deur DAK in die lewe geroep om juis ’n raamwerk te skep.

“Dis dieselfde verhale oor en oor. Hoe klim ons daar uit? Wat maak ons daarvan?

“Daar is ‘n neiging in die geskiedenis om te verdoesel, sagter te stel. Ons moet die geskiedenis oopmaak, dit is daar. En as die ANC oopmaak en sê, reg, herskryf die geskiedenis, moet ons alreeds weet wie gaan dit herskryf, anders gaan dieselfde mense dit weer herskryf.

“Hier is ‘n DAK, ‘n ruimte, ‘n plek waar ons met mekaar kan omgaan. Die versoeningsaspek lê ook in die netwerk. Dat ons nie in ander s’n krap nie, maar ons eie netwerk kan bou. In plaas van die voortdurende kritiek op mekaar en die messe in ons rûe, kom ons draai bietjie anders na mekaar toe, dan sal ons met die grootste respek daai gesprek wyer gooi. Ons wil graag nou hierdie netwerk baie sterk uitgooi en wys wat gebeur as ons mekaar se hande vat. Beslis nie om uit te sluit nie, maar om mekaar se hande te vat.”

Die DAK-direksie kom in April byeen om nabetragting oor die konferensie te doen en punte saam te stel vir ‘n aksieplan vir die weg vorentoe.

Lees meer oor die DAK-Netwerk hier.

Lees ook:

Indien jy ingeteken is op Netwerk24 lees Jan-Jan Joubert se artikel oor die konferensie hier

Wie was almal daar …

Paneelbespreking o.l.v. Malixole Gwatyu as gespreksleier. Links na regs: Quinton Adams, Cornelia Faassen, Robyn van de Rhede en Earl Basson.

Links na regs: Simon Witbooi, Sydney Armoed, Peter-John Davids en Quinton Adams.

Links na regs: Steward van Wyk, Hein Willemse en Danie van Wyk.

William Gumede bespreek die tema ‘Afrikaans as ‘n swart taal’.

Prof. Hein Willemse gee sy insette op die tema ‘Die waarheid oor Afrikaans’.

Prof. Hans du Plessis vertel oor die begin van Afrikaans …

Ria Olivier lei die paneelgesprek oor Bekentenis. Van links: Ria Olivier, Malixole Gwatyu, Hendrik Theys, Giselle Botha en Danie van Wyk.

Karen Meiring van KykNET saam met Shihaam Domingo.

Links na regs: Hans du Plessis, Conrad Steenkamp en Bernard Odendal tydens teepouse.

Eureka Barnard van SASNEV saam met Astrid de Vos van Dagbreek Trust.

Flip Buys van Solidariteit gesels oor ‘Die pad na versoening’.

Jo-ann Schroeder – skoolhoof van Oklahomastraat Primêr in Macassar.

Braam Hanekom tydens sy voorlegging getiteld ‘Versoening oor Afrikaans’.