Breyten Breytenbach

– die skraal, “groot” man

Foto’s: Tessa Louw

“Afrikaans is ’n soepel taal – feitlik ’n gekreoliseerde Nederlands wat van streek tot streek aangepas het. Deur in my taal te skryf, kan ek dit juis van die slegte beeld bevry. Ek gebruik die taal om die wêreld te verbeter.” So sê Breyten Breytenbach – skrywer, digter, kunstenaar en akademikus – op ’n keer.

Afrikaans.com vertel meer oor hierdie merkwaardige man en ook een van ons beskermhere wat vanjaar (2019) 80 jaar oud word.

Breyten Breytenbach is op 16 September 1939 in Bonnievale in die Wes-Kaap gebore. Hy lewer ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde met sy digkuns en is ook bekend as die mees prominente gevangenis-skrywer van Suid-Afrika nadat hy in die apartheidsjare nege jaar lank tronkstraf uitgedien het.  Hy skryf onder die name Breyten Breytenbach, BB Lasarus, Janblom en Jan Afrika. In 1964 verskyn sy digbundel, Die ysterkoei moet sweet – ’n bundel waarmee hy dit regkry om die Afrikaanse letterkunde onherroeplik te verander.

Die beginjare

Sy laerskooljare bring hy deur op Riversdal waar hy by Laerskool Langenhoven skoolgaan. In 1948 verhuis die gesin na Wellington waar hulle tot 1970 die Grevilleas-losieshuis bedryf. Die huis staan vandag bekend as die Breytenbach Sentrum. Breyten matrikuleer in 1957 as hoofseun aan die Hugenote Hoërskool in Wellington. Hy studeer aan die Universiteit van Kaapstad vir ’n BA-graad, maar terselfdertyd studeer hy ook kuns aan die Michaelis Kunsskool by die universiteit. Dit is tydens sy studentejare dat hy ’n toegewyde teenstander van die apartheidsbeleid word.

’n Wêreldburger

In 1959 vertrek hy oorsee om die wêreld te verken en vestig hom uiteindelik in Parys waar hy ook sy Viëtnamese vrou, Yolande (Ngo Thi Hoang Liën), ontmoet en in 1962 met haar trou. In 1964 debuteer Breyten met die bundel Die ysterkoei moet sweet en die prosabundel Katastrofes, waarvoor hy die Afrikaanse Pers-Boekhandelprys vir Literatuur ontvang. Breyten kon egter nie die prys in Suid-Afrika ontvang nie, omdat die Suid-Afrikaanse owerhede geweier het om vir Yolande ’n visum toe te staan weens die Wet op Gemengde Huwelike wat hul huwelik destyds onwettig in Suid-Afrika gemaak het. Na baie druk op die regering word daar in 1972 wel ’n visum vir ’n besoek van drie maande aan hom en Yolande toegeken en keer hulle vir ‘n skrywerskongres na Suid-Afrika terug. Daar is ook geleentheid om Breyten se ouers te ontmoet en hierdie besoek vorm die grondslag van sy eerste memoir, ’n Seisoen in die Paradys.

Breyten die aktivis

In Parys smee Breyten vriendskapsbande met lede van die ANC. Hy is een van die stigterslede van Okhela, ’n weerstandgroep wat apartheid uit ballingskap beveg het. Met ’n onwettige besoek aan Suid-Afrika in 1975 word hy verraai, gearresteer en tot nege jaar tronkstraf vir hoogverraad gevonnis. Na baie internasionale bemiddeling word hy in 1982 vrygelaat.

Breyten verklaar hierna dat dit feitlik onmoontlik is vir ’n blanke Suid-Afrikaner om deur swart vryheidsvegters as bondgenote in die stryd aanvaar te word. Dus meen hy dat hy self geen verdere rol in die politiek te speel het nie.

Die positiewe wat spruit hieruit is dit wat hy geskep het tydens sy gevangenskap. In die net meer as sewe jaar in die tronk het Breyten meer as 400 tronkgedigte in Afrikaans geskryf wat in die bundel Die ongedanste dans (1975–1983) saamgevat is. Hy keer terug na Parys en verkry Franse burgerskap. Hy skryf ook ’n memoir oor die tyd in die tronk: The True Confessions of an Albino Terrorist. In die laat tagtigerjare word hy en Yolande ouers van ’n dogter, wat hulle Daphené noem.

Die omstrede letterkundige

Op letterkundige gebied word Breyten vroeg reeds as omstrede beskou. Afgesien daarvan verower hy tog talle pryse. In 1975 word Breyten se digbundel, Skryf: om ’n sinkende skip blou te verf, die eerste Afrikaanse digbundel wat verbied word onder die streng sensuurwette van daardie tyd. Wanneer Breyten uiteindelik in 1984 met die Hertzogprys bekroon word vir sy digbundel Yk, weier hy die prys. In 1985 kry hy die hoogste lof in Frankryk en word hy vereer met ’n Commandeur des Arts et Lettres. In 1987 speel Breyten saam met IDASA, ’n belangrike rol om die geheime ontmoeting tussen die ANC en ’n afvaardiging uit Suid-Afrika in Dakar, Senegal te ontmoet. In 1988 ken die Universiteit van Wes-Kaapland ’n eredoktorsgraad aan Breyten toe vir wat hy vir die Afrikaanse taal gedoen het. In 1993 ontvang hy ook ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Skrywer en digter

In ’n onderhoud met Murray La Vita in 2008 (Die Burger, 22 Februarie): “Byna alle skryf is droomskryf. Skryf is die oopgaan van ’n landskap wat altyd nog aanwesig was en elke keer, alhoewel soms beklemmend bekend, weer ontdek word.”

Reeds op skool skryf hy gediggies vir meisies op wie hy ’n ogie gehad het. Sy eerste verse, onder meer Nanag en Terminus, en vroeë prosastukke, onder meer Drie halwes maak ’n hele, verskyn in die studenteblad Groote Schuur in 1959. Hy beskou homself egter eerder as skilder en nie eintlik as ’n skrywer of digter nie, maar word gemotiveer om sy skryfwerk ernstig op te neem nadat die skrywer Chris Barnard vroeg in 1964 Parys besoek en waardering vir sy werk toon.

“Jy gaan nie ’n lewe kan verdien deur poësie nie en jy gaan niemand daardeur ’n revolusionêr maak nie, jy gaan niemand daarvan oortuig nie. En tog, dink ek, dis absoluut noodsaaklik. Dis daardie kombinasie van die totale nutteloosheid en absolute noodsaak wat my fassineer.” (Die Burger, 1 Maart 2013)

Breyten se gedigte word in ’n menigte versamelbundels opgeneem, waaronder ’n baie ruim keuse in die bloemlesings wat die hele Afrikaanse poësieskat dek, soos Groot verseboeken, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte. Ander versamelbundels waarin sy werk verskyn, sluit in Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigteWoordpaljasDigters en digkunsKraainesDie goue vreugde en Goudaar. Hy publiseer ook sy gedigte in verskeie letterkundige tydskrifte, insluitende ContrastSestigerKolStandpunte en The bloody horse. ’n Teken van sy groot internasionale aansien is dat sy werk in onder andere Engels, Nederlands, Sweeds, Italiaans, Baskies, Bulgaars, Deens, Frans, Duits, Portugees en Spaans, vertaal is.

Sy poësie is ook verkrygbaar op verskeie CD’s. Om te Breyten is die eerste CD waarop kunstenaars hulle gunstelinggedigte van Breyten toonset en uitvoer. In 2001 word dit opgevolg met Mondmusiek, waarop Breyten ’n al groter rol speel. Hy lees van sy gedigte voor met musiek van plaaslike musikante op die agtergrond. Hierdie CD word in 2010 deur luisteraars aangewys as die beste Afrikaanse album van die jaar. Beste Breyten is ’n keur uit al die CD’s en bevat ook ’n aantal nuwe snitte.

Sy nuutste bundel

Sy nuutste bundel, op weg na kû (2019) word op Klyntjie.com beskyf as ’n gesamtkunstwerk, ’n werk wat van alle kunsvorme gebruik maak.

“Die gedigte word begelei deur ’n verskeidenheid foto’s, hetsy van landskappe of van Breyten se eie en ook ander kunstenaars se skilderye. Die manuskrip bevat ’n rykdom bepeinsings, gedagtes, digterlike hoogtepunte en kort-kortverhale, en eindelik word die teks meer as die somtotaal van vers en beeld.”- Francois Lion-Cachet

Sy kuns

Breyten Breytenbach (79) se poësie is dig, soms ondeurdringbaar vir ’n nuwe leser. Sy oeuvre, wat getuig van ’n man met ’n skynbare onuitputbare bron van kreatiwiteit en werksetiek het oor die jare ’n visuele en geskrewe taal eie aan homself laat vorm. Soos ander visuele kunstenaars wat hulself in die domein van die geskrewe woord verdiep, ontstaan daar ’n interteks van beeld en vers wat met elke werk uitbrei. Die herhalende simbole en motiewe van die voël, die oog en spirituele insig, die pampoen sowel as die selfportret as introspeksie – wat die kunstenaar deur sy lewe volg – is opmerkbaar. Breytenbach is meestal bekend as skrywer, alhoewel hy self al opgemerk het dat dit eintlik skilderkuns is waarsonder hy nie sou kon, of wou, lewe nie. Hy skryf dit toe aan kleur en ’n tasbaarheid wat woorde nie bied nie. In ’n onderhoud vertel hy:

I prefer to paint. Painting is more satisfying and relaxing than writing. It’s physical, you can smell it and feel it. And when you accomplish something, it is immediate. You have something to build on the next day. That is harder to do with a poem, those belong to a particular moment. Writing poetry is intense and poets tend to burn up early. You are building a labyrinth that often leads to illusions, disturbances and pathological dead-ends. If you only write poetry, you go mad sooner or later. Painting has kept me from that madness

Hulle praat mos nou berg, 2015

Paysage intérieur, 1993

Memory out of hand, 1983/2004

Dramaturg

Hy maak sy debuut as dramaturg in 1997 by die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees met Boklied. Hierin word kommentaar gelewer op werklikhede binne die Afrikanergemeenskap, veral die oorgang vanaf ’n Europa-orde na ’n Afrika-orde. Hierdie drama word omstrede beskou weens die eksplisiete sekstonele en dialoog, maar daar is tog ook waardering vir die wyse waarop hy daarin slaag om mites, legendes en rituele aaneen te vleg. Boklied ontvang die De Kat-Herrieprys by die KKNK, asook agt ENB Vita Streekteatertoekennings vir 1997–1998.

2000 en daarna

Vanaf Januarie 2000 is Breyten betrokke as gasprofessor aan die Universiteit van Wes-Kaapland se Fakulteit Geesteswetenskappe, asook by die Gorée-instituut in Dakar, Senegal en by die Universiteit van New York, waar hy klasgee in hulle kreatiewe skryfprogram. Op Gorée-eiland begin hy ’n multikulturele en multidissiplinêre projek saam met kunstenaars uit Denemarke, Senegal en Suid-Afrika.

In 2009, ter viering van Breyten se 70ste verjaardag, het die dorpie Hengelo in die noordooste van Nederland 14 nuwe Afrikaanse sonnette van Breyten op stadsmure en in stadstuine aangebring.

Sedert 2008 verskyn ’n hele paar bundels waaronder ’n versamelbundel, die singende hand en ’n nuwe bundel, na-dood, wat in Mei 2016 verskyn het.

Breyten se liefde vir Afrikaans

Die rykheid van die taal tydens sy grootwordjare het sy liefde vir die taal gevestig. Tydens sy studentejare het jy ook skouers geskuur met van ons bekendste letterkundiges. Mense soos Jan Rabie, Uys Krige, Erik Laubscher, Ingrid Jonker en selfs later Abraham de Vries – almal passievol oor die taal.

Die Gelyke Kanse-inisiatief

Breyten het saam met ander die Gelyke Kanse-inisiatief gestig wat wil verseker dat Afrikaans in die toekoms ’n volwaardige onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch sal bly. “Afrikaans is die enigste taal op die kontinent wat haarself Afrikaans noem. Dis ’n taal met sterk strome daarin wat ’n weerspieëling is van die kulturele agtergrond van almal wat ’n bydrae tot die taal gelewer het. Dit sal ’n absolute totale verlies wees vir almal, nie net Afrikaanssprekendes nie, maar ook vir die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap en binne die hele gemeenskap van tale, indien Afrikaans moet verlore gaan, minder status moet kry of minder gebruik word, ” sê hy.

Toekennings

  • P.B.-prys vir Die ysterkoei moet sweeten Katastrofes, 1965
  • Hertzogprys vir digkuns 1984 en 1999
  • CNA-prys vir Die huis van die dowe, Kouevuuren Lotus, 1970
  • Van der Hoogt prys (‘n Nederlandse prys) vir Skryt,1972
  • Perskor-prys vir Voetskrif,1976
  • Spesiale toekenning van die Jan Campert Foundation
  • Spesiale toekenning van die International Publisher’s Prize (Prix des Septs), 1977
  • Hertzogprys vir digkuns vir Die Windvanger,2008
  • Max Jacob-prys vir Outre Voix/Voice Over, die Franse weergawe vanOorblyfsel/Voice Over,2010
  • Mahmoud Darwish Literature Prize virOorblyfsel/Voice Over,2010
  • Die CD Mondmusiekis as beste Afrikaanse album van die jaar gestem, 2010
  • Max Jacob-prys vir Outre Voix/Voice Over,die Franse weergawe van Oorblyfsel/Voice Over,2010
  • Mahmoud Darwish Literature Prize vir Oorblyfsel/Voice Over, 2010
  • Hertzogprys vir Die Windvanger,2010

Publikasies

Poësie

  • Die ysterkoei moet sweet, Johannesburg, 1964
  • Die huis van die dowe , Kaapstad, 1967
  • Kouevuur, Kaapstad, 1969
  • Lotus, Kaapstad, 1970
  • Om ‘n sinkende skip blou te verf, Amsterdam, 1972
  • Met ander woorde, Kaapstad, 1973
  • Voetskrif, Johannesburg, 1976
  • Sinking Ship Blues, Toronto, 1977
  • And Death White as WordsAn Anthology, Londen, 1978
  • In Africa even the flies are happy, Londen 1978
  • Blomskryf(Bloemlesing?) Emmarentia, 1979
  • Eklips, Emmarentia, 1983
  • (‘Yk’), Taurus, 1983
  • Buffalo Bill, Emmarentia, 1984
  • Lewendood, Emmarentia, 1985
  • Judas Eye, Londen – New York, 1989
  • Soos die so, Emmarentia, 1990
  • Nege landskappe van ons tye bemaak aan ‘n beminde), Groenkloof, 1993
  • Die hand vol vere, Kaapstad, 1995(bloemlesing?)
  • Oorblyfsels, ‘n Roudig, Kaapstad, 1997
  • Papierblom, Kaapstad, 1998
  • Lady One, Kaapstad, 2000 (Keurversameling liefdesgedigte)
  • Ysterkoei-blues, Kaapstad, 2001 (Versamelde gedigte 1964–1975)
  • Lady One: Of Love and other Poems, New York, 2002
  • Die ongedanste dans, Kaapstad, 2005 (Gevangenisgedigte 1976–1983)
  • Windvanger, Kaapstad, 2007

Prosa

  • Katastrofes, 1964 (‘n Versameling kort-kortverhale, wat deur Breytenbach as deel van die poësievan sy oeuvre gesien behoort te word. Die hele Katastrofes verskyn dus ook in die bloemlesing Ysterkoei-blues.)
  • Om te vlieg, Kaapstad, 1971 (roman)
  • De boom achter de maan, Amsterdam, 1974
  • Die miernes swell op …), Emmarentia, 1980 (stories)
  • A Season in Paradise(Een seizoen in het paradijs), Amsterdam – New York – Londen, 1980 (Roman, weergawe nie aan sensuur onderwerp nie)
  • Mouroir: Mirror Notes of a Novel, Londen – New York, 1983
  • The True Confessions of an Albino Terrorist, Londen – New York, 1983
  • Spiegeldood, Amsterdam , 1984
  • End Papers, Londen, 1985 (essays)
  • Memory of Snow and of Dust, Londen – New York, 1987 (roman)
  • Deel een, Emmarentia, 1987 (essays)
  • All One Horse. Fiction and Images, Londen, 1989
  • Hart-Lam, Emmarentia, 1991 (essays)
  • Return to Paradise. An African journal, Londen – New York, 1992
  • Memory of Birds in Times of RevolutionLonden – New York, 1996 (essays)
  • Dog Heart. A travel memoir, Kaapstad, 1998
  • Woordwerk, Kaapstad, 1999
  • A veil of footsteps, Kaapstad 2008

Dramas

  • Boklied,1997
  • The life and times of Johnny Cockroach,1999
  • Die toneelstuk(subtitel Belydenis in twee bedrywe), 2001

CD’s

  • Mondmusiek, 2001
  • Lady One, 2002

Vertalings

  • Die geheim van die houtbene– Griselda Gifford, 1968
  • Die skooltrein– Helen Acker, 1970
  • Titus Andronicus– William Shakespeare, 1970

Die Breytenbach Sentrum in Burgerstraat 14 in Wellington is ’n multidissiplinêre kultuursentrum vir opleiding in, en omgang met, beeldende kunste, musiek, drama en skryfkuns.

Hier word plegtig afgespreek dat dit gaan om die sluiting van vennootskappe op absoluut deursigtige en gelyke grond – waar iedereen haar of sy bydrae sal kan lewer, uit hoofde van vaardigheid of vermoë of potensiaal. Maar veral gaan dit om uitdagende skepping, ’n ware transformasieproses. Want hierdie is nie ’n plek van opgee of afgee of weggee nie; dit gaan oor aangee. Nie om verdeel of opdeel nie, maar om deelname en deelwórd.’ – Breyten Breytenbach

Lees ook:

Erika Terblanche se artikel oor Breyten Breytenbach op LitNet. Hier kry jy ook ’n lys van Breyten se bekendste sêgoed. Klik hier

Op die webtuiste Voertaal vertel Breyten Breytenbach aan Willem de Vries van sy ervaring van ’n Nederland gerig op groter verruiming en bevryding – Die werklike dialoog tussen Nederlands en Afrikaans as anderselwige gelykes begin nou eers. Klik hier

’n Diepgaande profiel in die New Yorker. Klik hier.

Meer oor Gelyke Kanse. Klik hier

Kyk ook

Watter impak kan die Afrikaanse skrywer nog in die hedendaagse Suid-Afrika maak? – ’n Oop gesprek deur PEN Afrikaans in 2015 wat by die Breytenbach Sentrum op Wellington aangebied is. Die paneel het bestaan uit Breyten Breytenbach, Adam Small, Bettina Wyngaard en Danie Marais. Kerneels Breytenbach was die gespreksleier.

Bronne:

Wikipedia – vir nog inligting oor Breyten Breytenbach:

Breyten Breytenbach (beskermheer van Afrikaans.com) se portefeulje op Afrikaans.com