fbpx

ATR-Kokertoekennings 2019

Afrikaanssprekendes wat kook!

Afrikaans is ’n taal van vele baadjies … Dis ’n werkstaal. Dis ’n vermaakstaal. Dis ’n akademiese taal. Dis ’n huistaal. Dis ’n taal wat wyd en in verskeidenheid gepraat en gebruik word, en daarom ook wyd en in verskeidenheid ontwikkel moet word.

Hiervoor berus die verantwoordelikheid nie net op organisasies soos die Afrikaanse Taalraad, VivA Afrikaans en die ATKV  nie, maar op my en op jou. Om hierdie rede gee die Afrikaanse Taalraad sedert 2013 erkenning aan persone wat ‘n besonderse bydrae tot, met en deur Afrikaans lewer.

Die jaarlikse Kokertoekennings is op Vrydag 29 November by ’n glansryke funksie in die Wes-Kaap aangekondig en was ‘n fees van verskeidenheid en lekkerte.

Die kokerboom groei in ongunstige omstandighede, in droë en onherbergsame dele van ons land. Tog groei en gedy dit en lewer die mooiste geel blomme… Vanaand was ‘n onvergeetlike aand gevul met die helderste geel blomme!” – Ria Olivier, programbestuurder van die Afrikaanse Taalraad.

Hooftoekennings in die kategorieë Bevordering van Afrikaans, Beskerming van Afrikaans en Bemagtiging van Afrikaanssprekendes is onderskeidelik aan Ingrid Glorie, prof. Frank Hendricks en dr. Shamiega Chaudarie toegeken. Jeugtoekennings, waarvoor persone jonger as 35 jaar in aanmerking geneem word, is in dieselfde kategorieë aan William Sezoe, Ronaldo Schwarp en Lara Erasmus en Jolene Potgieter (gesamentlik) toegeken. Die toekenning vir lewenslange bydrae tot Afrikaans is in postuum aan prof. Marinus Wiechers toegeken.

Ronaldo Schwarp (Jeugtoekenning), bekende mediamaker, vertel wat die toekenning vir hom beteken.

Lees meer oor elke wenner se bydrae:

Afrikaans.com-Kokers 2020

Lees meer oor Ingrid Glorie

Ingrid Glorie – Bevorder

Ingrid Glorie het vir mense wat in die Lae Lande kom en iets met Afrikaans te doen het geen bekendstelling nodig nie. Haar Stigting Afrikaans in de Lage Landen is so te sê sinoniem met die bou van brûe tussen die Nederlands en Afrikaans.

Ingrid práát nie net oor Afrikaans nie, maar is veral ’n doener, een wat boonop daartoe neig om leiding te neem (vandaar haar bynaam hoofmeisie!). Haar doenwerk vir Afrikaans in die Lae Lande sluit die volgende in:

  • Ingrid se betrokkenheid by Afrikaans het in 1993 as student aan die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van die Wes-Kaap begin. Oor die jare heen het sy ook ʼn akademiese betrokkenheid as Nederlandse en Afrikaanse literatuurdosent by instellings soos die Universiteit Leiden, Universiteit Utrecht en verskeie ander Suid-Afrikaanse universiteite gehad.
  • Haar vertaalwerk uit Afrikaans in Nederlands moet genoem word. Dit sluit in Magersfontein van Etienne le Roux, Verdwaal van Herman Wasserman, een van Deon Meyer se boeke, Donkerland van Deon Opperman, twee boeke van Sophia Fourie, en Simon Bruinders se Die Sideboard. Sy verwerf onder andere ook die Vertaalengel-2019, ʼn toekenning van die werkgroep Literair Vertalers, wat deel is van die Nederlandse Auteursbond.
  • Haar uitmuntende joernalistieke werk vir Afrikaans oor die jare heen sluit in die rol as hoofredakteur van Zuid-Afrikahuis (ZAH) se Maandblad Zuid-Afrika en Spectrum Zuid-Afrika. Sy dien ook as die Nederlandse korrespondent van Voertaal, ʼn Nederlands-Afrikaanse elektroniese tydskrif wat deur LitNet gehuisves word.
  • Afrikaanse kultuuraktiwiteite sluit in ʼn betrokkenheid as koördineerder van die Week van de Afrikaanse Roman, sedert 2014, en van die Festival voor het Afrikaans sedert 2017 (in 2018 saam met Isabelle Vermeij). Saam met Corine de Meyer het sy ook die leeskring by Zuid-Afrikahuis op die been gebring.

Ingrid se betrokkenheid by ZAH-inisiatiewe is op vryskutbasis en sy doen dit alles sonder die beskerming van ’n vaste betrekking. Haar lewe wentel om die bevordering van die inklusiewe gesig van Afrikaans in die Lae Lande, iets wat erkenning verdien. Haar kennis van Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse letterkunde (spesifiek Afrikaans) en die Afrikaanse taallandskap, maak van haar ’n buitengewone ambassadeur van Afrikaans in die Lae Lande en ʼn welverdiende wenner van die Kokertoekenning vir die Bevordering van Afrikaans.

Afrikaans.com-Kokers 2020

Lees meer oor Frank Sylvester Hendricks

Frank Sylvester Hendricks

Tydens sy akademiese loopbaan van 38 jaar in die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland het hy betekenisvolle en rigtinggewende bydraes gemaak tot die taalkundige verrekening van histories gemarginaliseerde spreektaalvariëteite, spesifiek Kaapse Afrikaans.  Met sy MA-studie in 1978 oor taalgebruik in Adam Small se drama Kanna hy kô hystoe het hy ondersoeke na Kaapse Afrikaans op die voorgrond geplaas – in ʼn tyd toe hierdie tipe navorsing dikwels nie na waarde geskat is nie. Sy deeglike analise van Kaapse Afrikaans het as model gedien vir verskeie ondersoeke na die spreektaalvariëteite van Afrikaans en kan met reg as ʼn seminale werk oor Kaapse Afrikaans gereken word.

Frank Hendricks se taalkundige fokus op Kaapse Afrikaans en Oranjerivier-, of Gariepafrikaans soos sommige dit verkies, het hierdie voorheen gestigmatiseerde variëteite op die voorgrond te plaas en die basis geskep vir ʼn nuwe diskoers oor die herstandaardisering van Afrikaans.

Frank se onlangse publikasies wys op ʼn meer aktivistiese benadering waarin hy skerp kommentaar lewer op die marginalisering van Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans. Hy bevorder daarmee hierdie variëteite as gelykwaardige variëteite van Afrikaans, asook ʼn taalaktivisme waarvolgens hulle bewustelik in openbare domeine wat tradisioneel met Standaardafrikaans geassosieer word, gebruik moet word.

Dat hy sedert 2010 lid was van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat gemoeid is met die standaardisering van Afrikaans, kan as ʼn direkte gevolg van hierdie bemoeienis gesien word. Die insluiting van woorde uit Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans (asook ander omgangsvariëteite) in die jongste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2017) is opvallend, en Frank se invloed as ondervoorsitter van die Taalkommissie duidelik waarneembaar.

Prof. Frank Hendricks het sy akademiese loopbaan afgesluit met die publikasie Kaaps in Fokus (2016) onder redaksie van Frank Hendricks en Charlyn Dyers wat eweneens daarop mik om negatiewe persepsies oor Kaaps te bestry.  Kaaps in Fokus is onlangs bekroon met die CL Engelbrecht-prys vir Afrikaanse Taalkunde deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Afrikaans.com-Kokers 2020

Lees meer oor Dr Shamiega Chaudhari

Dr. Shamiega Chaudhari – Bemagtiging deur Afrikaans

As hoof van die Universiteit Fort Hare se Afrikaansdepartement, dra dr. Chaudhari by tot die bemagtiging van Afrikaanssprekers – as lektor, navorser en taalaktivis.

Dr. Chaudhari moedig studente wat hulle in ‘n oorwegend Engelse omgewing bevind, met groot passie en sukses aan om Afrikaans as vak te neem.  In hierdie opsig skroom sy nie om haarself na die skole te wend nie en sy praat gereeld met leerders oor Afrikaans en moedig hulle aan om die taal ook na skool verder te bestudeer.

Hierdie passie wys ook in haar hantering van die vakinhoud van Afrikaans aan Fort Hare.  Vir meer as ‘n dekade lank hoor studente in die Afrikaansdepartement reeds oor die inklusiewe herkoms van die taal.  Sy bevorder hierdeur Afrikaans in sy volle diversiteit en bemagtig studente met kennis van hul gemeenskappe en hul voorouers se rol in die oorsprong van Afrikaans.

Dr. Chaudhari se doktorale navorsing het, interessant genoeg, die stilswye en dubbele marginalisering van die slavin in geselekteerde literêre tekste ondersoek, temas wat nog nie sulke omvattende aandag in Afrikaans gekry het nie.  Haar tesis en etlike artikels wat daaruit gevloei het, het waarlik ’n stem gegee aan dié wat stilgemaak was.

Dr. Chaudhari neem die tema verder met haar betrokkenheid by ’n beplande inisiatief om geleenthede vir Afrikaanse vroue uit die bruin gemeenskap te gee om hulle stemme te laat hoor.  Dié projek word aangepak in samewerking met die Universiteit Stellenbosch en skrywers soos Diana Ferrus.

Haar gemeenskapsgerigtheid sluit ook ’n betrokkenheid as adviseur by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) se provinsiale taalkomitee van die Oos-Kaap in.

Die passie waarmee dr. Chaudhari help om die stilgeswygdes van die verlede en die hede gelaat hoor te word roer ’n mens en maak van haar ’n waardige ontvanger van die Kokertoekenning vir Bemagtiging.

Afrikaans.com-Kokers 2020

Lees meer oor William Sezoe

William Sezoe – Jeugtoekenning

William Sezoe is ʼn boorling van die Weskus met ʼn groot liefde vir Afrikaans. Volgens sy skoolhoof en nomineerder, het William verlede jaar as skaam en skugter graad-12 leerder by New Orleans Hoërskool in Paarl begin. Dit was gou duidelik dat hy lief is vir sy taal en dat hy nie net daaroor praat nie. Hy doen dinge.

Die skoolkoerant het William se liefde vir Afrikaans gevoed en hom aan radio bekendgestel. Hy was ontsteld om uit te vind dat ʼn bekende plaaslike radiostasie hoofsaaklik Engels is ten spyte daarvan dat die gemeenskap hoofsaaklik Afrikaans is. Dus het hy en twee vriende die radiostasie oorreed om ʼn Afrikaanse jeugprogram te begin. Hulle was ʼn tydgleuf gegee, waarmee hulle program Afrikaans is Tops ontstaan het.

Hierdie buitengewone jeugprogram, bedryf deur jeugdiges, is elke Maandagaand op radio en laat Afrikaans daar leef. Deur die loop van die jaar het die program gehelp om jongmense bewus te maak van die waarde van Afrikaans, dat Afrikaans leef en ʼn lewendige taal is. Dit is bewussynskepping van formaat op voetsoolvlak.

William het oor Afrikaans geskryf en die Taalmuseum se Skerpskryfkunskompetisie, wat toevallig ook oor Afrikaans gegaan het, gewen. Hy het ook al artikels oor Afrikaans in die Eikestadnuus en Paarl Post gepubliseer en ontwikkel vinnig sy skryfvermoëns. Daarbenewens neem hy gereeld deel aan die debatte van die Historium, Woorde Open Wêrelde (WOW) en het ook al as spreker by die Taalraad se jeugberaad opgetree. Hy is een van vier Afrikaans.com Ambassadeurs van Afrikaans wat gevra is om video’s oor hulle liefde vir die taal te maak. William word ook toenemend uitgenooi vir radio-onderhoude op stasies soos RSG, waartydens hy nuwe jong dissipels vir Afrikaans werf.

As daar nou een jong mens is wat sy moue oprol en werk vir Afrikaans, dan is dit William Sezoe. In die hande van jong mense soos hy en sy vriende is Afrikaans veilig.

Jeugtoekennings:

Afrikaans.com-Kokers 2020

Lees meer oor Renaldo Schwarp

Renaldo Schwarp

Renaldo Schwarp is ’n radio-omroeper, TV-aanbieder en vervaardiger wat al sedert sy kampusdae sy merk in die Afrikaanse medialandskap maak. Renaldo is tans ’n omroeper by Jacaranda FM en veldaanbieder op KLOP!, kykNET & Kie se jongste aktualiteitsprogram. Hy is een van die mees gesogte jong figure in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld en het ‘n sterk loopbaan in die mediawêreld opgebou. Mail and Guardian het hom onlangs aangewys as een van die 200 invloedrykste jong Suid-Afrikaners.

Dit is veral Renaldo se Afrikaanse dokumentêre film, SKEEF, wat vanjaar by kykNet se Silwerskermfees in Kaapstad vertoon is, wat mense aan die praat het. Met SKEEF skep Renaldo ruimte vir ʼn verskeidenheid stemme om gehoor te word oor wat dit beteken om LGBTI+ en Afrikaans te wees.  SKEEF word as “nadenkend”, ’n “opvoedkundige instrument” en ’n “moet-sien” beskryf.  Die film maak later vanjaar sy Amerikaanse debuut by die Palm Springs LGBTQ Film Festival.

Renaldo se belangstelling in Afrikaanse vermaak en uitsaaiwese het al gedurende sy skooljare by Hoërskool Centurion met die ATKV se Tienertoneel-program en Redenaarskompetisies begin. In 2012 verwerf hy ’n Drama en Teaterstudie-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US). In sy finale studiejaar begin hy by MFM 92.6, US se kampus radiostasie uit te saai en in 2015 sluit hy by die Kaapse radiostasie, SMILE 90.4 FM, aan. Reeds die daaropvolgende jaar maak hy sy TV-debuut as vervaardiger en aanbieder van ’n weeklikse Afrikaanse vermaaknuusprogram op VIA TV as aanbieder van #GONS.  Sy luisterryke loopbaan oor die afgelope vyf jaar het ook ingesluit projekbestuurder en videograaf van Media24 se skoolnuusplatform WeCan24.

Met sy TV- en radiowerk slaag Renaldo daarin om hom in sy moedertaal uit te leef en bemagtig in die proses ook ander. Sy se verbintenis met sy moedertaal Afrikaans bly sterk en onwrikbaar, selfs in ’n toenemend Engelse mediawêreld.

Afrikaans.com-Kokers 2020

Lees meer oor Lara Erasmus en Jolene Potgieter

Jeugtoekenning:  Lara Erasmus en Jolene Potgieter

Lara Erasmus en Jolene Potgieter het Reis Afrikaans in 2017 gestig met die doel om Afrikaanssprekendes wat in die buiteland wil gaan studeer of werk van allerlei nuttige inligting en advies in hul moedertaal te voorsien – en hulle daardeur te help met hul reisplanne en bestemmings.  In 2017 was Lara en Jolene ook amptelike ambassadeurs vir VIA-televisie se Wat maak jy-veldtog.

Op die Reis Afrikaans-webtuiste verduidelik hulle dat die eertydse hunkering na trou en nesskop nou grootliks verander het na ’n lus vir reis en vlerk sprei – vandaar hulle belangstelling om met die projek te begin en die steun wat dit geniet.

Deur middel van die Reis Afrikaans-webtuiste en hul sosialemediaplatforms het Lara en Jolene oor die afgelope twee jaar talle mense, jonk en oud, bemagtig om met gemoedsrus die nogal oorweldigende proses wat ’n buitelandse reis behels, aan te pak deur te voer.  Benewens bemagtigende inligting oor werk oorsee, bied die Reis Afrikaans-platform ook ’n heerlike bron van inligting en idees vir persone met swerflus in hul harte. Daar is artikels wat idees bied vir reisplanne en bestemmings en sommer net alles waarvan die reisende publiek kennis behoort te dra.

Persone wat byvoorbeeld belang stel in werk by Disney World of die somerkampe in Amerika, word begelei deur die proses om uiteindelik van hulle reisdroom ’n werklikheid te maak.  Lara en Jolene het ook onlangs ooreenkomste met skole in China en Korea aangegaan wat werksmoontlikhede open vir Afrikaanse persone om Engels daar te gaan onderrig. Volledige inligtingspakkette oor China en Korea is op die Reis Afrikaans-webtuiste beskikbaar. Wanneer ’n persoon aansoek doen, word hy of sy stap vir stap deur die proses begelei. Lara en Jolene hanteer ook per e-pos navrae oor buitelandse reisgeleenthede.

’n Bewys van Lara en Jolene se gewildheid oor die afgelope byna drie jaar, is die geweldige groei in hul aanlyn Facebook-gehoor wat tans op 10 000 persone staan en sekerlik ‘n aanduiding gee van die swerflus wat onder Afrikaanssprekendes vaardig geword het.

By Reisafrikaans.om word voornemende Afrikaanssprekende reisigers begroet met die woorde:  Reis Afrikaans met moed, geloof, braafheid en nostalgie.  Met hierdie broodnodige projek word Afrikaans dus internasionaal geneem terwyl die band met die tuiste in die moedertaal behou word.

Afrikaans.com-Kokers 2020

Lees meer oor Marinus Wiechers

Marinus Wiechers

Spesiale Kokertoekenning – postuum, vir ʼn lewenslange bydrae tot Afrikaans

Marinus Wiechers – 14 Oktober 1937 tot 31 Augustus 2018 – matrikuleer in Pretoria, aan die Afrikaanse Hoër Seunskool. Hy word in 1966 professor in staatsreg en volkereg aan die Universiteit van Suid-Afrika, terwyl hy verder studeer in Frankryk, die VSA, Duitsland, Engeland en Spanje. In sy doktorale proefskrif, “Die sistematiek van die administratiefreg”, formuleer hy ‘n Afrikaanse regsraamwerk met behulp van die Duitse en Franse reg. Sy magnum opus, “Administratiefreg”, verskyn in 1973. In 1981 gee hy nog ʼn stap na vore met die publikasie van die derde uitgawe van Johan Verloren van Themaat se standaardwerk “Staatsreg”.

Hiermee lewer hy ʼn belangrike bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans as regstaal, en loods hy ’n benadering tot die regstaat wat na 1994 al hoe belangriker geword het. Uit sy pen verskyn terselfdertyd rigtinggewende tydskrifartikels oor die Suid-Afrikaanse administratiefreg, staatsreg en die volkereg. In sy Afrikaanse bundel opstelle, “’n Politieke idiotikon vir Suid-Afrika”, ontleed Marinus Wiechers in 1988 die 35 kernbegrippe in die debat oor vooruitgang in die land, waaronder apartheid, etnisiteit, groepregte, kapitalisme, leierskap, menseregte, selfbeskikking, staatsveiligheid en toekomsvisie.

As een van die streek se mees vooraanstaande grondwetkenners, dra hy tussen 1991 en 1993 by tot die ontwerp van ʼn tussentydse grondwet vir Suid-Afrika. Hy word hierna aangestel as rektor van die Universiteit van Suid-Afrika, ʼn posisie wat hy tot 1997 beklee het. In 1998 eer kundiges hom met die publikasie van ‘n bundel met die titel: “Suprema lex: Essays in honour of Marinus Wiechers”.

Na sy aftrede neem hy musieklesse, skilder en woon byeenkomste by aan die Huis van Afrikaanse Poësie. En, namate die stem van Afrikaanssprekendes toenemend in openbare domeine gemarginaliseer word, lewer hy verdere bydraes as ʼn Afrikaanse denker. In ‘n besprekingsdokument, in April 2010, argumenteer hy dat Afrikaanssprekendes dit voor 1994 dikwels aan die staat oorgelaat het om hulle taal te handhaaf, en dat dit nou die taak van Afrikaanse organisasies geword het om “daadwerklik op te tree om hulle regte op hul taal en kultuur binne die raamwerk van die grondwet op te eis en af te dwing”.

Hy ontvang vir sy enorme bydraes die Afrikaanse Taalraad se eerste postuum-Kokertoekenning vir ʼn lewenslange bydrae tot Afrikaans.

’n Uitgesoekte gehoor is tuis laat voel deur seremoniemeester René Arendse en vermaak deur musikante soos Die Edna’s, Nonkululeko Sambo, Zenobia Pietersen en Daleen Philander het verder bygedra tot die besondere geleentheid.

Die kokertoekenning is vir my ‘n bewys dat die jeug se bydrae tot die bevordering van onse taal erken word en so sal die jeug wil voortgaan om ons taal in die toekoms te laat voortleef. Baie dankie vir hierdie groot eer! – William Sezoe, Kokertoekenning in die Jeug-kategorie 2019

Is jy bedrywig in Afrikaans? Doen so voort en hou dop vir die 2020-Kokergeleentheid!

Vir meer video-onderhoude met die wenners, hou die Afrikaanse Taalraad se blaaie dop!

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.