Afrikaans as geloofstaal in die kollig

“As jy my taal ontken, ontken jy my menswees.” Dit was een van die menings wat op 15 Junie tydens ʼn seminaar oor Afrikaans as geloofstaal geopper is.

Professor Nico Botha, senior genoot van die Afrikaanse Taalraad (ATR) het die geleentheid bygewoon en gee ‘n oorsig van die gesprekke wat hier plaasgevind het.

Sowat dertig leraars en gemeenskapslede het by die AGS Eersterust, Pretoria, bymekaar gekom om te praat oor die taaluitdagings wat hulle in kerkverband beleef.  Met die vraag – “Is Afrikaans ʼn probleem in die kerk?” – het die deelnemers verantwoordelikheid geneem vir dit wat met Afrikaans in kerke gebeur (of nie gebeur nie). Die algemene gevoel onder die deelnemers was dat Afrikaans as sodanig nie ʼn probleem is nie, maar dat toenemende verengelsing van die gemeenskap en gemeentes wel tot spanning oor taal binne kerkverband kan lei.

Seminaargangers gee konteks

Audy Hendricks (gemeenskapsaktivis) het genoem dat beide kerke en skole in Eersterust vinnig besig is om te verengels en het sterk standpunt ingeneem oor die agteruitgang van Afrikaans onder die nuwe bedeling. “Hoe verseker mens dat almal die reg het om hulle in hul moedertaal uit te leef?”

Volgens dr. Conrad Steenkamp (ATR) is die verskuiwing van meertaligheid na Engels-eentaligheid nie ʼn neutrale gebeurtenis nie, maar gaan dit gepaard met die verlies van die erfenistaal – ʼn waardevolle kulturele en sosio-ekonomiese hulpbron waarmee ook die kerk sy pastorale verpligtinge beter kan nakom.

Die voortdurende stereotipering van Afrikaans as ʼn wit taal maak dit soms ook moeilik om taalkwessies in interkulturele kontekste te hanteer. “Die oomblik wat ons aanspraak op Afrikaans maak, word dit as rassisties ervaar,” verduidelik ʼn leraar. Hoe kan mens dus die angel uit die taalkwessie trek sonder om Afrikaans daarmee te na te kom? Wat kan gedoen word om die negatiewe stereotipes oor Afrikaans af te breek?

“Afrikaans is nie ʼn wit taal nie, maar word deur ʼn meerderheid bruin, swart en Indiër mense gepraat,” herinner dr. Danny Titus (ATKV). Meer moet gedoen word om mense hiervan bewus te maak.

Prof. Piet Meiring verduidelik dat die NGK se grootste uitdaging is om te verduidelik dat die kerk nie die laaste bastion van ʼn taal of kultuur is nie, maar om die evangelie te verkondig. Die ervaring wat kerke soos die VGK reeds opgebou het, kan die NGK ook help om die uitdaging van meertaligheid beter te hanteer.

Mnr. Carlton Weber (ingenieur) meen dat Afrikaanssprekendes self beheer het oor hulle taal en hoe om Afrikaans binne ʼn meertalige konteks te onderhandel. Verengelsing word nie van buite af afgedwing nie, maar is gewoonlik ʼn plaaslike besluit. Dr. Conrad Steenkamp noem dat meer effektiewe bestuur van taal en meertaligheid kerke en skole kan help om deel van die oplossing te wees.

Prof. Nico Botha (ATR), die gespreksleier, beskou die sterk deelname vanuit die Eersterust-gemeenskap as ʼn aanduiding van ’n behoefte om in meer diepte oor taalkwessies te praat.

Die Afrikaanse Taalraad is ‘n artikel 185-organisasie met 38 lede-organisasies en fokus op die bevordering van Afrikaans binne ʼn meertalige verband.

Lees meer oor die Afrikaanse Taalraad hier.