ʼn Hartseer afskeid

– Prof Christo van Rensburg (1938 – 2018)

ʼn Biblioteek het afgebrand, is die eerste gedagte wat in my kop gespring het toe die nuus van prof Christo van Rensburg se onverwagse dood op Maandag 13 Augustus 2018 ons bereik het. Hy het op 1 Julie sy 80ste verjaarsdag gevier. Alita Steenkamp het namens Afrikaans.com ‘n telefoniese onderhoud met hom gevoer ter agtergrond oor Afrikaanse Taaldag (14 Augustus) en hy het, soos altyd, met groot passie sy kennis gedeel.

Die Amerikaanse skrywer Alex Haley se bekende aanhaling oor oumense is hier beslis van pas. Nie omdat ʼn mens aan prof Christo dink as ʼn oumens nie, maar weens die magdom kennis waaroor hy beskik het. Prof Christo se belangstelling in die geskiedenis van Afrikaans het in die tagtigerjare begin toe hy ʼn projekleier was vir ʼn navorsingsprojek wat die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing aangepak het. Dit het gehandel oor die Afrikaans van die Griekwas. Prof Christo was met sy dood ʼn navorsingsgenoot, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

Diegene wat deur die jare met prof Christo saamgewerk het, getuig almal van sy geweldige entoesiasme oor die Afrikaanse taal en sy passie vir die geskiedenis daarvan. Hy het ook met ʼn ruim hart inligting gedeel en dit het nie saak gemaak of hy iewers op ʼn lughawe gesit het, of in sy kantoor by die universiteit was nie, hy het altyd geesdriftig enige navraag beantwoord.

Sophia Kapp, ‘n lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, sê die dood van prof. Christo is vir haar nie net op ʼn akademiese vlak ʼn groot slag nie, maar ook op ʼn persoonlike vlak. “Ek was ʼn student aan die Universiteit van die Vrystaat toe hy besig was met die navorsing oor Griekwa-Afrikaans. Daarmee het hy vir altyd die Taalkunde en die taalkundige ondersoeke verander. Hy het my bewus gemaak van die belangrikheid van Afrikaans se nie-standaard variëteit. Dit was grensverskuiwende werk om te sê dat Standaardafrikaans nie ʼn super variëteit is nie, maar bloot net nog een van Afrikaans se variëteite. Later het hy ʼn gewaardeerde kollega geword en iemand by wie ek altyd kon kers opsteek. Iemand wat jou altyd op ʼn baie menslike manier gehelp het.

“Op 18 Julie vanjaar, minder as ʼn maand gelede, is die CJ Langenhovenprys deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. By die geleentheid het ek die Commendatio oor hom geskryf en voorgelees. Die Akademie ken hierdie prys toe aan ʼn besondere bydrae tot die Taalwetenskap en vir prof Christo was dit ʼn welverdiende toekenning vir sy besondere oeuvre en grensverskuiwende navorsing,” sê Sophia.

Op Vrydag 10 Augustus 2018 het Afrikaans.com met prof Christo gesels om by hom meer uit te vind oor die relevansie wat ʼn organisasie soos die GRA vandag nog het. Dit was waarskynlik sy laaste onderhoud oor die onderwerp wat hom die naaste aan die hart gelê het. In ʼn telefoongesprek het hy die versekering gegee dat ʼn mens nooit die GRA se bydrae mag misken nie, veral ten opsigte van die skryf van Afrikaans.

Prof Anne-Marie Beukes, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, sê sy het ʼn besonderse lang pad met prof Christo geloop. “Hy was my Honneurs Taalkunde-dosent en ek het wonderlike herinneringe aan hom. Nadat ek klaar gestudeer het, was daar wonderlike informele gesprekke met hom. Ek was ook so bevoorreg om saam met hom en wyle dr. Neville Alexander deur Europa te toer op ʼn studiereis. Christo het nooit afgepraat nie, maar altyd met jou gepraat. Sy wonderlike ondersoekende gees het altyd uitgestaan. Hy was sy tyd vooruit met sy denke ten opsigte van die ontstaan van Afrikaans en die herkoms van Afrikaans. Die wonderlike projek wat hy saam met prof Hans du Plessis gedoen het oor die Griekwa-Afrikaans was baanbrekerswerk. Ek is dankbaar dat hy hierdie jaar erkenning gekry het vir sy jarelange werk. Christo van Rensburg was ʼn mensch!” sê sy.

Prof Christo is vroeër vanjaar met die gesogte Jan H. Marais-prys vereer. Hierdie prys word sedert 2015 jaarliks toegeken om erkenning te gee aan ʼn “uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans.” Dis wonderlik om te weet dat hy hierdie toekenning kon ontvang, maar dit steeds met die grootste nederigheid gedoen het. Hy is ook vanjaar deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon met die CJ Langenhoven-prys vir Taalwetenskap.

Prof Van Rensburg was ʼn emeritus professor van die Universiteit van Pretoria en was sedert sy aftrede die direkteur van die Eenheid vir die Ontwikkeling van Taalvaardigheid. Hy was tot met sy dood ʼn navorsingsgenoot by die NWU waar hy sy navorsing oor Afrikaans voortgesit het.

Die Akademie het hom vereer vir die werk wat hy gedoen het om Afrikaanse variëteite te identifiseer, op te teken en te ontleed, en om die plek van dié variëteite in die Afrikaanse taalwêreld te integreer.

“Hy het aaneenlopend oor ʼn lang tydperk sy internasionalisering van die Afrikaanse taalkunde bewys, en sy kundigheid en kennis in die Afrikaanse taalkundelandskap teruggeploeg,” het die Akademie gesê.

Op 80-jarige ouderdom was prof Christo steeds hard aan die werk met navorsing oor verskeie aspekte van Afrikaans se geskiedenis. Hy sou op Saterdag 20 Oktober een van die sprekers wees by die Afrikaanse Taalkommissie se Herkomsseminaar in Pretoria. Prof Christo het altyd beklemtoon dat met die bestudering van elke nuwe dialek, hy soveel meer van die taal geleer het. Die Afrikaanse taal het ʼn kosbare taalvriend en ʼn waardevolle bron van inligting verloor.

Luister hier na sy laaste onderhoud met Alita Steenkamp

(Die onderhoud is opgeneem om agtergrondinligting vir die artikel oor Afrikaanse Taaldag 2018 te versamel.)

https://iono.fm/e/591927

Hy was sedert die ontstaan van Afrikaans.com deurlopend betrokke by die ontwikkeling van nuttige en waardevolle inhoud wat waarde toegevoeg het tot die kwaliteit en inhoud van ons leerhulpbronne. Hy was instrumenteel in die ontwikkeling van die Afrikaans.com-oorsprongtydlyn en was van hulp met die samestelling van ons reeks oor die variëteite van Afrikaans.

Ons neem met groot hartseer en dankbaarheid afskeid. Rus sag prof Christo.

Prof Christo van Rensburg tydens die oorhandiging van die CJ Langenhoven-prys saam met Sophia Kapp (ViVA)en prof Irma Eloff (Akademie vir Wetenskap en Kuns).

14 Augustus is Afrikaanse Taaldag

Die ontwikkeling van ʼn taal soos Afrikaans was ʼn organiese proses oor ʼn paar honderd jaar en daar kan dus nie regtig ʼn geboortedag aan ons taal gekoppel word nie. Die eerste voetspore van Afrikaans is volgens navorsers veel vroeër as 1875 gelê. Tog word Afrikaans se geboorte al vir jare lank op 14 Augustus gevier. Die rede hiervoor was die byeenkoms wat op 14 Augustus 1875 in Dal Josafat, naby die Paarl plaasgevind het. Op hierdie dag het agt mans bymekaargekom om die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) te stig.

Die GRA se rol mag nie onderskat word nie

In 2017 het Michael Jonas, die direkteur van die Afrikaanse Taalmonument by ʼn geleentheid gesê: “Die agt stigterslede van die GRA is vir almal ’n bemoedigende voorbeeld van hoe gewone mense ’n verskil kan maak deur op te staan vir hul taal. Daarom moet ons ook hulle bydrae tot die taal erken.”

Hierdie agt manne het ʼn paar ideale gehad: Die vestiging van ʼn Afrikaanse koerant, die vertaling van die Bybel in Afrikaans en die erkenning van Afrikaans as ʼn amptelike landstaal. Vandag weet ons dat hierdie drie ideale uiteindelik wel verwesenlik is, alhoewel dit nie sommer net oornag gebeur het nie. Lees meer oor die GRA hier.

Prof Christo van Rensburg, ʼn navorsingsgenoot aan die Noordwes-Universiteit, sê as ʼn mens vir Afrikaans agting het, en jy wil in Afrikaans skryf, dan staan die GRA se name in hoofletters. “Baie mense verwar Afrikaans die spreektaal met Afrikaans die skryftaal en die GRA het juis eienaarskap van geskrewe Afrikaans in 1875 geneem, en doelbewus nie Nederlands (of Hollands soos dit ook toe genoem is), geskryf nie.”

Prof Van Rensburg het onder meer die boek, So kry ons Afrikaans geskryf. Daarin bewys sy navorsing dat Afrikaans se vroegste voetspore tussen 1595 en 1652 gelê is. Dis die tyd toe die eerste Nederlandse skepe aan die Kaap aangedoen het en daar begin is om met die plaaslike Khoi-Khoin-inwoners ruilhandel toe te pas. Daar is ten minste 54 voorbeelde van Khoi-Afrikaans wat in hierdie tyd gedokumenteer is.

Prof Van Rensburg sê ʼn mens sal nooit werklik die waarde van die GRA kan bepaal indien jy met oogklappe na die hele geskiedenis kyk nie. “Die gang wat geskrewe Afrikaans geneem het nadat die GRA nie meer bestaan het nie, was nie ʼn natuurlike gang nie. Daar is ʼn klomp Nederlands afgedwing op Afrikaans en Afrikaans kon nie teen Nederlands, wat die ampstaal was, kompeteer nie.

“In die Afrikaanse taalgeskiedenis is daar nog nie mooi gekyk na wat met geskrewe Afrikaans gebeur het toe die GRA tot niet gegaan het nie. Dit het die geleentheid gegee vir ʼn Afrikaans met ʼn Nederlandse neerslag om na vore te kom: Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) 1 en 2 het verskyn en daarin is Afrikaans grootskaals vernederlands. Die 1933-Bybel en die proefvertalings was nóg nader aan Nederlands, die skoolboeke en vroeë woordeboeke was ook vol Nederlands. AWS 3 het Afrikaans (1921) weer teruggebring, asook AWS 4 (1931), hoewel Nederlands weer op die gefinaliseerde AWS 4 afgedwing is.”

Prof Van Rensburg sê na die tot niet gaan van die GRA aan die einde van die negentiende eeu, het dit onwaarskynlik gelyk dat hulle drome en ideale om Afrikaans tot kultuurtaal te verhef, gerealiseer sou word. Die GRA was ʼn kampvegterorganisasie vir Afrikaans en toe hulle tot niet gaan, is die balans versteur en die aktiewe vernederlandsing van Afrikaans het makliker gebeur, want daar was nie meer ʼn organisasie om daarteen te stry nie.

“Natuurlik moet ons op 14 Augustus dink aan die manne van die GRA,” sê prof Van Rensburg.

“Sonder hulle was daar nie ʼn voorbeeld vir geskrewe Afrikaans nie. Die Patriot was die eerste Afrikaanse publikasie en indien die GRA nie weens politieke redes ondergegaan het nie, sou Die Patriot se skryfstyl gebly het. Dan sou geskrewe Afrikaans veel vroeër gestandaardiseer kon word. Ongelukkig was iemand soos CJ Langenhoven nie sterk genoeg om te voorkom dat die Eerste Taalkommissie Afrikaans in ʼn groot mate vernederlands het nie. Die een ding wat ons hieruit moet leer is dat jy nooit moet toelaat dat enigeen jou vertel ʼn ander taal is beter as jou eie nie. Dit was een van die bydraes van die GRA. In hulle oë was Afrikaans ʼn taal om op trots te wees en ʼn taal wat sy plek in die samelewing verdien.”