Voel jy ook soms net ’n bietjie uit?

Ek sit vandag op OR Tambo en bestel vir my ’n koffie terwyl ek wag vir my vlug terug Kaap toe. Ek moet sê, ek voel effens verlig. Kom ek vertel jou hoekom.

So ’n paar maande gelede pak ek my hele lewe op (’n somtotaal van drie bokse en twee blikkies tuna) en verruil Tafelberg vir die Goudstad. Hierdie sou die tipe storie kon wees waarvan films gemaak word, maar ek het beslis nie die postuur van Charlize Theron nie, en hierdie is Boksburg, nie Hollywood nie.

Stadig maar seker vind ek my voete. Ek leer hoe om vinniger op die hoofweg te ry, ek kruip nie meer onder my bed weg as dit donderweer nie en ek kry vir my ’n lekker stel Benoni-naels.

Na vyf maande hier sou mens amper kon sê ek pas in. Maar daar is een ding wat my weggee.

“Waarvandaan kom jy? Jy klink snaaks.” Ek kan sien die tannie onderdruk die vraag nou al die hele aand. Sy kon dit nie meer inhou nie.

“Van Kaapstad, tannie.”

“Haai foei tog, ja, mens kan hoor jy is nie van hier nie.”

In elke vergadering, om elke spitbraai, by elke gebedsgroep duik dit op: “Is jy van die Kaap?” (gevolg deur ’n giggeltjie en die versoek: “sê gou weer ‘ek’”)

Ek gaan deur sewe fases van rou en vyf eksistensiële krisisse.

Ek doen lipfisio, slaap met ysblokkies onder my tong en kyk vyftien episodes van Egoli net om die aksent onder die knie te kry. Nietemin wil my mond nie die “Êk rêk my bêk” van die Gautengers raakvat nie.

Ek en my plat vokale hoort nie hier nie! Kyk, ek kan ’n morsige koeksister eet, ek hou van biltong en ek weet hoe om vleis te braai, maar vir die eerste keer in 24 jaar voel ek soos ’n vreemdeling in my eie land.

Nooit het ek gedink ek klink anders nie.

Tot nou …

Die kelnerin bring my koffie. “Dis R20, mevrou.” Haar “r”-klanke val vreemd op die oor.

Voor ek my kan keer: “Haai, is jy van Malmesbury?” (Sy word rooi en vir ’n oomblik haat ek myself.)

“Ja, ’n trotse Swartlander!”

En toe tref dit my: Ja, miskien is my aksent vreemd, miskien is dit plat en miskien is dit anders. Maar dis myne – en dis al wat tel.

My Afrikaans tel … joune ook.