Nuwe veldtog skop af: Afrikaans is #onmisbaar –

dink na oor die waarde van JOU taal

Jou taal gee jou unieke menswees vastrapplek … dis wie jy is en waar jy emosioneel tuis voel en getuig van jou kulturele hartklop. In die jongste reklameveldtog plaas Veldtog Afrikaans (wat die mooi, lekker, egtheid en eiesoortigheid van Afrikaans vier en uitbou) die kollig op dit wat Afrikaans vir al sy sprekers onmisbaar maak. Daardie eienskappe van jou taal wat dit vir jou moontlik maak om jou gedagtes te verwoord, om konsepte te verstaan sodat jy dit kan toepas, wat jou verbeelding vlerke gee en jou deel maak van ’n spesifieke taalfamilie.

Afrikaans behoort aan elke Afrikaanssprekende en juis vanweë die diverse samestelling van die mense van hierdie land, is hierdie taal ’n skatkis van kulture, variante en dialekte. Wat duidelik is uit die deelname van die vorige veldtogte, is dat mense al hoe meer bewus word van die waarde van hul taal.

Jy is teen die tyd reeds bewus van Afrikaans.com en die mediaveldtogte om Afrikaans te bevorder soos “Hoe lyk JOU Afrikaans? en “Waarom is Afrikaans vir jou #onmisbaar?

Met Veldtog 3 bou ons voort op die #onmisbaar-tema, maar ons vra nou meer spesifiek dat mense sal nadink oor die WAARDE van die taal vir hulle.