Streekwenner 1: Fochville (Gauteng)

Fochville is geleë op die R500, net suid van die N12, 40 km oos van Potchefstroom. Die dorp is op 15 November 1920 geproklameer nadat dit reeds gedurende die Eerste Wêreldoorlog deur die broers Wulfson op die plase Kraalkop en Leeuwspruit uitgelê is. Dit is vernoem na maarskalk Ferdinand Foch, ‘n opperbevelvoerder van die Geallieerde magte. Die Western Deep Levels-goudmyn is naby Fochville. Die naaste groot dorp is Carletonville.

Fochville het meegeding met Hartbeespoort en Heidelberg.

#Onmisbaar – Ontmoet Willie Brits: Ons Biltongskuur, Fochville

Wat is nou lekkerder as plaasbrood, biltong en kaiings … Vir Willie Brits is biltongmaak ‘n liefdestaak en hy vier hierdie eg Suid-Afrikaanse lekkerny behoorlik met sy Afrikaans. Die geskenksakkies spog in liplekker-Afrikaans met die inhoud en sy resep … nouja, eg Afrikaans! Willie Brits se plaasstal, Ons Biltongskuur op die hoek van Losberg- en 8ste straat in Fochville, is ‘n plek vir smulpape en mense wat hou van kos gesels in Afrikaans.