My matriekafskeid

Onthou jy nog jou matriekafskeid?

Deel dan ’n foto daarvan op sosiale media en onthou om Afrikaans.com te tag by @afrikaansdotcom en @viatv. Jou inskrywing moet vergesel word met ’n beskrywing van die onvergeetlike aand … in jou mooiste Afrikaans! Gebruik die hutsmerk #mymatriekafskeid saam met jou inskrywing. Daar word weekliks ’n R1 000-kontantprys weggegee vir die beste inskrywing.

Elke nuwe ronde begin Maandae-oggende 08:00 (vanaf 24 September tot 7 Januarie).

Voorwaardes geld.

Lees meer: http://www.viatv.co.za/program.asp?id=118

Weeklikse wenners

Week 1 wenner: 

Chantel Maier

💃‘n deftige spoggerige gedoente met mooiplooie en Kraterflaters.💅👠
Goeie emosiedosie herinneringe wat ek nooit sal vergeet.

#mymatriekafskeid
#Matriek2007
#Klasvan2007
#11Jaartrug

Chantel Maier

Week 2 wenner: 

Sanette Meiring

#mymatriekafskeid  My matriekafskeid was reeds in 1974, maar nog steeds is daardie aand een van die hoogtepunte in my lewe.  In daardie tyd was daar nie boetieks waar jy kon klere koop nie, en net die regtige ryk dogters kon hulle klere by ontwerpers laat maak.  Soos enige ander meisie het ek ook van kleins af gedroom oor die aand, en toe die aand aanbreek was dit asof mens se hart by jou borskas wou uitspring.  My eie vriend kon nie saam met my gaan nie aangesien hy op die grens was daardie spesifieke tyd, maar ‘n vriend het ingestaan vir hom.

Daardie aand het ek vir die eerste keer ‘n regte aandrok gedra en boonop was dit ‘n splinternuwe een. Ek het regtig soos Aspoestertjie gevoel. Die opwinding om die saal te sien was onuithoubaar, maar ook die grootste teleurstelling toe ons wel by die Stadsaal arriveer. Die saal was glad nie versier nie, want die tema was INFLASIE, en om alles te kroon het een van my vriendinne dieselfde rok as ek aangehad, maar net in ‘n ander kleur. Ons wou ons doodlag daaroor. Gelukkig met al die klein “jakkalsies” uit die weg kon ons die aand verder geniet.  Ek onthou die kos was uit die boeke en die musiek het ons heel aand aan die dans gehad. Soete herinneringe aan ‘n aand 44 jaar gelede.  #viatv   #goeietye  #lanklankgelede #44jaargelede.

Sanette Meiring

Week 3 wenner: 

Ivanke Myburgh

Heloo Afrikaans.com ☺

29 September 2017

My sprokies dag,my matriekafskeid,my dag van prinses wees 💕

Ek het my hele skool loopbaan uitgesien vir hierdie perfekte dag en glo my dit was perfek saam met my heel gunsteling mens 💑xx

Dit was alles en nog meer waarvoor my hart nog ooit kon vra,my droom matriekafskeidrok en al sy “bling”, my hare en grimering was presies hoe ek dit wou gehad het en alles het net geskitter 💎🌹

Dit was by ver die heel spesiaalste dag nog ooit en almal het daartoe bygedra om dit vir my asemrowend en onvergeetlik te maak 🍾☺

Met ‘n bottel vonkelwyn in die jakaranda stad met die mooiste sonsondergang,dis hoe ek my droom dag onthou.

Ivanke Myburgh

Week 4 wenner: 

Robin Witbooi

#My Matriekafskeid

Die dag van my matriekafskeid het ek soveel emosies ervaar, dat ek self ‘n traantjie gepik het! Stres vlakte het die hoogte in geskiet, toe ek aansienlik laat is vir my skemerkelkie. Toe my fotograaf opdaag & ek al die mense sien … het my maag ‘n draai gemaak so groot soos die BigBen in England! 🎡Omdat ek soo ‘n skaam mens is. Met verloop van tyd het alles begin normaliseer en ek’t my begin geniet. My fotosessies was n sukses. En my rok het die koppe laat draai🙈. Die modeskou was my hoogte punt van die aand. My familie was teen aan soo ek’t heel gemaklik gevoel. Dit is ook waar die meeste mense my & al my maats kon aangaap het. En ook toe ek die rooi tapyt betree het ek soos die “Koningin van England” gevoel. Ons groepie meisies het die dansvloer op ons geneem.  En toe ek weer by oë uitveë was alles verby. My matriekAfskeid was ‘n onvergeetlike dag!

Robin Witbooi

Week 5 wenner: 

Zak Marcus Holmes

#mymatriekafskeid Ek wil net vir julle wys dat dit nie net die meisies is wat nostalgies kan raak oor matriekafskeid nie, maar ons manne kan ook. Met my matriekafskeid het ek nie kans gehad om te stres nie want ek moes die week voor my matriekafskeid aan die Wêreld Goju-Ryu Karate Kampioenskappe in Romanie deelneem en het letterlik die dag voor my matriekafskeid teruggekom. Ek het wel voor die tyd my pak en bykomstighede gekies en daar moes verstellings gedoen word en het die dag met die matriekafskeid my pak gekry. Gelukkig was alles darem in orde en kon ek nie wag om my meisie te sien nie. Ek het nie ‘n idee gehad hoe sy sou lyk nie, maar ek was ook nie senuagtig nie want ek het geweet sy kan nie eintlik mooier lyk as gewoonlik nie omdat sy beeldskoon is. Toe ek haar wel sien, het my asem amper weggeslaan so pragtig het sy gelyk en haar rok en my pak het mekaar so mooi gekomplimenteer. Dit was alles en meer as wat ek verwag het aangesien alles uit die boonste rakke was by die afskeid self. Goeie kos, goeie musiek en natuurlik die beste geselskap. Angelique Allison ❤VIA TV Afrikaans.com #MyMatriekAfskeid

Zak Marcus Holmes

Week 6 wenner: 

Leandri Liebenberg

#My Matriekafskeid

Waar begin mens …om mens se matriekafskied te beskryf is nie so maklik as wat mens dink nie . Hoe beskryf mens so mooi en onvergeetlike aand , wat jy vir byna n jaar lank aan beplan , in een boodskap? Wel, soos elke ander meisie, het my dag afgeskop met n vroeë oggend ontbyt MET ‘n glasie vonkelwyn natuurlik ( iets moet darm die senuwees laat bedaar ) Die grimering en die hare het gevolg . Dit was sekerlik die mees opwindentste deel van alles . Maar julle gaan seker tonne inskrywings kry oor meisies wat heeltyd oor grimering en hare praat . Daar is tog meer iets dieper en mooier aan die idee van ‘n matriekafskeid . Dis nie net mooi maak en optof nie. Dis nie net rok aantrek en geld spandeer nie . Dis nie net jou oë verf en vals wimpers aansit nie . Dis wel daardie een oomblik in ‘n tiener meisie se lewe waar as daardie kardeur oopgaan en die kameras rondom jou hol asof jy Nicole Kidman is op die rooitapyt van die Oscars . Dis daardie oomblik wat jou metgesel jou arm vat en jou begelei na binne en dit jou ‘n voorsprakie gee van hoe jou troudag gaan wees . Dit is hoe jou ma staan in huil langs die padjie waar jy stap en jou boetie se maatjies vra : ” Is daai Leandri? ” . Die oomblik waar jy eintlik net die mense se geskree hoor, maar bo alles is jy so vol senuwees en jy het eintlik so groot piepie, maar jy kan nie nou daaraan dink nie . Is my hare reg? Wat as ek op my rok trap? Dis soveel emosies wat deur jou kop ronddwaal en hardloop dat jy nog ‘n glasie van daardie vonkelwyn nodig het.

As ek kan dink aan een oomblik wat my matriekafskeid opsom , is dit die oomblik waar ek en my ouers die volgende dag gebraai het agter by ons huis – my mascara het op my ken gesit en my lipstiffie was so gesmeer ek het soos n nar gelyk , my hare nog gekrul en my voete rooi gedans , het ek daar gesit en gedink aan toe Kurt Darren my eerste sokkie liedjie was daardie aand , hoe Karen Zoid my eerste stadige liedjie was daardie aand en hoe braaivleis my eerste kos was wat ek gesoek het daardie oggend . Dit het my laat dink oor hoe asemrowend en fantasties so aand ‘n meisie so gelukkig kan maak . En dit alles in afrikaans!

Leandri Liebenberg

Week 7 wenner: 

Marizél de Villiers

#mymatriekafskeid

My eie sprokiesverhaal. ✨

Die aand het só begin:

Mooimaak was nog nooit een van my prioriteite of gunsteling ding om te doen nie, maar dit was heel pret. My hare was eenvoudig ingedraai met ń versierinkie ingesteek. Die goeie fee wat my grimering gedoen het, het my soos Aspoestertjie laat voel.

Met my rok aangetrek en my skoene ingesteek, het dit soos ń werklikheid begin voel. My aantreklike metgesel het my by die deur ontmoet met ń bos van die mooiste rooi rose. Ons het vertrek na die fotosessie waar ons ń skildery van ń asemrowende Kaapse sonsak ontvang het.

Agterin die 1931-model Chevy, staan ons eerste in die ry. Gegroet met ń applous stap ons ingehaak by die rooi-tapyt af. Binne die saal het dit letterlik soos ń woud uit ń sprokiesverhaal gelyk. Vuurvliegie-liggies het uit die dak gehang en op die tafels drapeer met groen takkies. Die driegangmaaltyd was bedien en ons het soos koninklikes gesmul aan die kos. Die res van die aand het ons gedans en gedans, tot ek amper nie verder kon loop nie.

Nadat die laaste liedjie gespeel het, het ons uitgestap onder die helder sterrenag, en ek het elke oomblik van die 21ste Junie 2018 verewig in my hart gebêre. 💓

– Marizél de Villiers

Week 8 wenner: 

Jo-Marie

#mymatriekafskeid

19 September 1996. My Matriekafskeid: As skaam meisie het my Afrikaanse juffrou, Mev. Marais, paartjies voor die hele klas gekies uit ‘n lys name  van seuns en meisies sonder metgeselle. Dit was nogal vernederend. Die dag van my Matriekafskeid het my ma en ‘n vriendin my hare en grimering gedoen. En daar begin my riller : my metgesel was laat; hy het alreeds begin kuier voor ons Afskeidsfunksie. Ons was paartjie nommer drie in ‘n  Blou en Wit ‘vintage’ motor wat vele paartjies vervoer het. Terwyl ons die trappe opstap na die ingangsportaal, het my metgesel op my rok se net getrap en dit effens laat skeur. Die saal se ingang was seepglad,  waarop ek gelukkig voorbereid was met pleisters onder my hakskoene, vir vastrap. Na die hoof se toespraak, het my metgesel en sy vriende verdwyn na hul eie partytjie. My oorlede pa het daarvoor opgemaak en ‘n paar danse met my gedans. Die res van die aand het ek en my vriendinne sonder ons gekose metgeselle geniet. Behalwe vir die teëspoed, was dit besonders.

– Jo-Marie

Week 9 wenner: 

Anzelle de Jager

#mymatriekafskeid

My spesiale dag het begin met ‘n nóg meer spesiale ontbyt saam met my moeksie.  Ons het ons tot die tand bewapen vir die uiters opwindende dag wat sou voorlê.  Die bederf is voortgesit deur n  pamperlang in die skoonheidsalon: ‘retro’ geïnspireerde hare, dramatiese oë gevolg deur brandweerwarooi lippe en naels.

Die pamperlang is gevolg deur ‘n paar logistieke takies soos om my metgesel, alias beste vriend, alias kêrel, se skouerruiker op te tel.

Die tyd het skelmpies by ons verby gesluip en toe ons weer kyk, moes ons die pas vinnig versnel. Draaie klaar gery keer ons vinnig huiswaarts.

Tuis gekom, kon ek nie help om soos ‘n bruid in ‘n romantiese fliek te voel terwyl ek voor die vollengte spieël staan nie. Moeksie, alias Moeder-hen, kloek en neem beheer … rok oor die kop, knopies vasmaak op die rug, skoene vas knoop, en vir oulaas net gou weer die lippe inkleur en die hare ‘n walm haarsproei gee.

Einde ten laaste mag Pappa en Boeta ook sien hoe Sus lyk.

Met min tyd vir ginne-gaap is ons almal in die motor op pad na ons eerste van drie bestemmings (ja, dis reg – drie – ons was voorbereid vir enige weersomstandighede en verder is die foto’s amper net so belangrik as die rok) vir die foto’s se neem en waar ek my metgesel sou ontmoet.

Met my aankoms begin die fotograaf paartjie onmiddelik wegspring om hulle stellings te toets en begin solank om ‘n paar foto’s van my alleen te neem. Oomblike daarna daag my metgesel op.

Ons kon nie ophou kyk vir mekaar nie – die oomblik was groot na die afgelope maande se afwagting,  nuuskierigheid en geheimhouding.

Ek was van vooraf verlief op die spoggerige jongman wat ek vir vyf jaar lank slegs in skoolklere en “civvies” geken het.

Hy het my roos om my arm vasgemaak en ek het syne teen sy bors vasgesteek. Van daardie oomblik af was daar vir twee ure lank net foto’s geneem van hierdie lang verwagte dag.

Die oom by wie ons die outydse motor gehuur het, het vir ons by ons derde bestemming ingewag.

Na die foto sessies, met baie seer voete en verkluim van die koue, het ons gou by Oupa en Ouma gestop sodat hulle ook alles kon sien en foto’s neem.

UITEINDELIK het die oomblik aangebreek om ons plek te gaan inneem by die skool se ‘in ry parade’.   My maag het effens begin draai en Francois moes deurloop onder al die instruksies oor hoe om my uit die motor te help.

Die motor kom tot stilstand en my deur gaan oop. In die skare hoor ons vriende en familie ons name skree en ons waai vir almal, nés die bekendes dit doen. Ons stap oor die rooi tapyt soos ‘n glanspaar op ons gunstelling Afrikaanse liedjie: “Lemoene”  deur Bok van Blerk en Appel.

Binne die skoolsaal lag almal van verligting en sommige meisies trek sommer hul skoene uit, want die oomblik van beste voetjie voorsit was net te veel.

Teen skemer is al die matrieks in die saal en is ons gereed om met die busse te vertrek na ons matriekafskeid bestemming, Calvin Grove, in die Suidelike voorstede van Kaapstad.

Daar gekom, kon ons terugsit en die aand geniet. Die graad 11’s het gesorg dat die aand seepglad verloop wat toesprake en foto’s betref, terwyl ons ons drie gang maaltyd geniet. Daarna was dit n grootskaalse gesokkie en geskuifel tot ons poegaai was.

My matriekafskeid was ongetwyfeld een van die hoogtepunte wat in my geheue se anale vir ewig sal wees.

– Anzelle de Jager

Week 10 wenner: 

Erin Jeneke

#mymatriekafskeid

Almal se perspektief ten opsigte van hoërskool verskil. En ek dink vir daardie einste rede het almal verskillende hoogtepunte in hul skoolloopbaan. Vir sommige leerders is dit die wen drie wat die interskole trofee huis toe gebring het en vir ander is dit die keer toe hulle die debat wen. Een van my hoogtepunte, soos enige ander cliché meisie,  was my matriekafskeid.

Ek het ure spandeer op Pinterest vir die perfekte rok, die skoene, die grimering en tot op die haarstyl. Soveel tyd het gegaan in daardie een dag. Vir daardie een dag moes alles perfek wees. Vir daardie een dag wat ek nie eens soos ‘n prinses sou voel nie, maar soos ‘n koningin. Vir daardie een dag sou die agtjarige dogtertjie in my se droom uiteindelik waar word.

Om die dag saam my familie en vriende te deel het dit sóveel beter gemaak. Dieselfde mense wat my gedurende my skoolloopbaan ondersteun het kon teenwoordig wees terwyl ek die vrugte van twaalf jaar se bloed, sweet en baie trane pluk. Die dag was propvol emosies.

Toe ek saam my skoolvriende in die saal sit en kuier tref dit my vir die eerste keer dat skool besig was om tot ‘n einde te kom. En al manier hoe ek dit kon vier was om te dans. Om te dans saam die mense wat die afgelope vyf jaar ongelooflike gemaak het. Om te dans vir al die mooi oomblikke, al die Wiskunde-toetse wat my nogsteeds nagmerries gee, vir al die dae wat dit gevoel het asof ek verdrink in ‘n oseaan van take en vir al die suksesse van my hoërskoolloopbaan.

Terwyl ek hier sit en my matriekafskeid in mooiste Afrikaans beskryf, wens ek dat ek tyd kon terug draai en nog ‘n laaste keer matriekafskeid hou. Ek wens ek kon die hoogtepunt van my matriekjaar herleef. #mymatriekafskeid

– Erin Jeneke

Klein Nederburg Sekondêr

Matriekafskeid : Dinsdag, 25 September 2018

Week 11 wenner: 

Chamuné du Plessis

#mymatriekafskeid

My Matriekafskeid was vir my regtig baie spesiaal. Alles wat julle sien was deur “doen-dit-jouself” pogings aangewend – met SUKSES kan ek byvoeg, sonder enige professionele hulp – net Familielede en vriende. 😉

My hare het ek self gekrul en agtertoe gevleg. My moeder het my grimering gedoen en haar vriendin my naels. Gelukkig vir my spesialiseer albei in daardie spesifieke rigtings😄.💄💅🏻

My rok was deur ‘n tannie gemaak wie al jare lank vir ons klere maak en my skoene het my moeder se vriendin as ‘n verjaarsdaggeskenk gekoop, ek moes net met my “cowboy boots” opdaag! Ek en my ma het toe die skoene opgetof met blinkende versierings. Ek was MAL daaroor!

Ons foto’s was deur my pa se vriend, wat huisvriende van ons is, geneem. Dit het só mooi uitgekom! 📷😏

Ek en my metgesel het al in graad 7 afgespreek dat ons saam matriekafskeid toe gaan. Ons was baie goeie maats vanaf die dag wat ons in graad 1 ontmoet het – ons was in dieselfde voogklas ons hele skoolloopbaan – tot in met matriek. Ons het natuurlik baie pret saamgehad en aanmekaar gelag wanneer ons snaakse “lovey-dovey” foto’s moes neem!

Ek sal hierdie dag vir niks verruil nie!!

Ek hoop julle kan aanklank vind by my spesiale inskrywing.

Groete van ‘n Afrikaanse juffrou,

Chamuné du Plessis

😉

Sinki Mlambo is die aanbieder van My matriekafskeid op via.

Sy deel hier ‘n paar van háár matriekafskeid-foto’s: