fbpx

’n Nuwe baadjie vir Rondeheuwel Primêr!

Afrikaans.com was op Vrydag 28 Februarie voorbereid op baie dinge … slaggereed om met kuns en kleur leerders en ‘n gemeenskap opnuut bewus te maak van nuwe moontlikhede om hulle lewens te verryk. Rymkletser VITO was ook daar om saam met die leerders van Rondeheuwel Primêr te dans en baljaar. Wat ons egter glad nie verwag het nie is dat ons die staatspresident van 2050 sou ontmoet, want Alexshas Lewies, ‘n graad 4-leerder van Rondeheuwel Primêr, verstaan juis dít wat ons vanjaar met Afrikaans.com se muurkuns wil beaam – dat jy enigiets in en deur Afrikaans kan bereik!

Maar, waarom mure verf? Dit is sielkundig bewys dat ‘n positiewe omgewing aanleiding gee tot ’n positiewe gesindheid en optrede. En dit is presies wat ons muurprojek al sedert 2016 doen. Met kleur, drome en ‘n boodskap van hoop, hef ons leerders en skoolgemeenskappe op en inspireer ons ons jeug om groot te droom en te glo dat hulle enigiets in en deur Afrikaans kan bereik.

Ons het vanjaar se program op 28 Februarie by Rondeheuwel Primêr in die Wes-Kaap afgeskop met skoolhoof Winston Forbes wat tereg die volgende stelling aan sy leerders, personeel en gaste gemaak het: “Vandag is ’n geskiedkundige dag!” Die oggend is gevul met ’n viering van die identiteit, diversiteit en uniekheid van ons taal en was daarom ’n gepaste keuse vir ons vennoot vir die geleentheid, die Afrikaanse Taalmonument, om hul 45ste bestaansjaar te vier. Elke leerder is ook met ’n Afrikaanse Taalmonument-kolwyntjie bederf!

‘’Ons hoop dat die muurprojek leerders daaraan sal herinner om groot drome te droom en groot ideale te koester,’’sê Afrikaans.com se gemeenskapskoördineerder, René Arendse. Saam met Afrikaans.com-projekbestuurder, Milanie Vosloo, het René die leerders en personeel daaraan herinner hoe lekker dit is om te droom, eet, dans en sing in Afrikaans. Dit was egter die rymkletser, VITO, wat die leerders uit hul stoele (en velle!) laat spring het met sy treffer, ‘’Outjie vannie Platteland’’. Die Namakwalandse rymkletser, VITO, is ‘n klinkklare bewys daarvan dat drome kan waar word, ongeag waar jy vandaan kom. VITO het met sy Namafrikaans vir homself naam gemaak, en met optredes by die KKNK, Suidoosterfees en Ghoemas, is hy ’n inspirasie vir jongmense om groot te doen en te droom.  Die sterre van die dag, vertel Milanie Vosloo, was egter die groep graad 7-leerders wat Ansa van der Walt se gedig, Sprokie, voorgedra het. Die gedig spreek tot verskille wat elke volwassene kan maak. Die geleentheid is deur Radio KC uitgesaai en het die leerders se stemme ver buite hul skool se mure laat strek.

Ons draai volgende by Olifantjie Kleuterskool en die Loxton-gemeenskapsaal in die Noord-Kaap, en dan die res van die jaar by nog sewe ander skole in die land. Hou Afrikaans.com dop en wees deel van die verskil.

Spesiale gaste het die muuronthulling bygewoon.

Links na regs: Sophia Isaacs (Goedgedacht Foundation), Maryka Nel (UPLIFT Hermon), Michael Jonas (ATM), Milanie Vosloo (Afrikaans.com) Winston Forbes (Skoolhoof), Nicolene Jansen, Ernest Loth, Juanita Carstens, Janine Brown en René Arendse.

Rondeheuwel Primêr se muurkuns!

Graad 7-leeders van Rondeheuwel Primêr. Van links na regs: Mischa Louw, Ami Theunissen, Brumilda Muller, Ayanda Louw en Clarissa Basson.

Links na regs: Mischa Louw,Ami Theunissen, Michael Jonas (ATM), Brumilda Muller, Ayanda Louw, Milanie Volsoo (Afrikaans.com) en Clarissa Basson.

Milanie Vosloo, projekbestuurder van Afrikaans.com, geniet die onthullingsprogram saam met die leerders.

Mnr. Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmonument as gasspreker.

Mnr. Winston Forbes, skoolhoof van Rondeheuwel Primêr verwelkom almal by die onthulling.

‘n Geskiedkundige dag vir die leerders van Rondeheuwel Primêr. Hier saam met VITO, die rymkletser.

Te midde van die COVID-19-pandemie, is alle Muurprojekte vir eers uitgestel. Hou Afrikaans.com dop vir verdere kommunikasie.

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.