Moedertaalmaand 2020 is hier!

Februarie is Moedertaalmaand, met die hoogtepunt Moedertaaldag wat wêreldwyd op 21 Februarie gevier word.

“Die diversiteit van tale is net so kosbaar as die diversiteit in die natuur … taal simboliseer die diversiteit van die mensdom.” – Christien Neser (spraakterapeut en skrywer)

Het jy geweet dat die taal wat ’n mens voor jou geboorte hoor jou hartjie op twee maande vinniger laat klop wanneer jy dit hoor? Wanneer ‘n ma met haar kind in haar moedertaal praat, styg haar stemtoon en dit geld vir al 7 099 tale wat wêreldwyd gepraat word!

In jou ouerhuis leer jy praat, hoor, dink, voel … leer jy om mens te wees. In jou moedertaal verwoord jy jouself die maklikste en duidelikste.

“Taal is die klere van die gedagte. Ons woorde is die boustene van ons drome … die grootste skeppende krag en energie wat ons het.” – Samuel Johnson (Engelse skrywer)

Wannie Carstens, direkteur van Noordwes-Universiteit se Skool vir Tale verwoord dit so: “Ons voel ons ’n  beter mens in ons eie taal omdat ons ons menswees soveel makliker daarin kan uitleef – lief kan hê, kan bid of ons fynste gedagtes kan verwoord. Dit verbind ons aan ons kultuur en ons gemeenskap.”

www.freepik.com

Jou moedertaal laat jou presteer

Moedertaal is jou sleutel tot uitnemendheid en om onderrig te ontvang in jou moedertaal laat jou uitstyg bo die gemiddelde en gee jou die vermoë om saam te praat met die bestes in die wêreld. Volgens Theo du Plessis, professor by die Eenheid van Taalfasilitering en -bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat, is die bestes van die wêreld byvoorbeeld Israel, Nederland, Duitsland, Japan en Amerika wat die onbetwiste voordele van moedertaalonderrig geniet. Hy sê die sleutel tot sukses bly moedertaalonderrig wat jou in staat stel  om op dieselfde vlak as hierdie presterende nasies te wees.

Jou moedertaal ook jou onderrigtaal?

Al hoe meer ouers wonder of dit nog wys is om jou kind in haar moedertaal te laat skoolgaan as tersiêre instellings en die ekonomiese wêreld, nie net internasionaal nie, maar ook plaaslik, Engels as voertaal gebruik.

Akademici en taalaktiviste is dit egter eens: Mense word deur hul moedertaal bemagtig. Kinders het hul moedertaal nodig om hul kognitiewe ontwikkeling te verseker.

Kinders leer makliker lees en skryf in hul moedertaal. Skrif is ’n tegniese aktiwiteit waardeur taal uitgedruk word en anders as gesproke taal, ontwikkel dit nie spontaan nie.

Dit is baie makliker vir kinders wat in hul moedertaal leer lees en skryf om die konneksie tussen gesproke en geskrewe taal te maak. As jy leer lees het in ’n taal wat vir jou maklik is, is dit soveel makliker om konsepte en vaardighede in ’n tweede of derde taal oor te dra.

Die ontwikkelingsvlak van ’n kind se moedertaal is ’n sterk voorspeller van die ontwikkelingsvlak van ’n kind se tweede taal omdat hulle uit hul onderliggende taalstelsel en hul bestaande taalkennis kan put.  As ’n kind byvoorbeeld in Afrikaans tydkonsepte leer, hoef hulle nie weer die totale tydsbegrip in Engels te leer nie, maar slegs die oppervlakgegewens, m.a.w. die Engelse woorde. Hulle het reeds die intellektuele basis en begrip. Ander intellektuele begrippe soos oorsaak en gevolg, of om tussen hoofgedagtes en ondersteunende detail te kan onderskei, word gemaklik vanuit die moedertaal tot ’n tweede taal oorgedra.

Volgens Christien Neser is daar ’n belangrike konsep wat ouers nie verstaan nie. “Dit is amper onmoontlik vir kinders om nie Engels in ons land aan te leer nie, maar slegs ’n ouer (ma, pa, ouma, oupa…) kan vir die kind ’n moedertaal aanleer. Die plastisiteit van kinders se breine gee hulle die unieke voordeel dat hulle taalkodes uit die omgewing kan absorbeer. Die taalkundiges glo: ‘Language is caught, not taught’. Wanneer ouers dus hul moedertaal vir die kind aanleer, verseker hulle dat hy of sy later meertalig gaan wees. Want Engels gaan hy leer praat, kom wat wil.”