En daar sit ek … boude in die lug!

’n Paar maande gelede besluit ek om myself oor te gee aan Tinder. Dis nou wat gebeur as jy 29 tref en die enigste mans in jou lewe is jou pa, jou reunhond en Johan Stemmet op Vrydae-aande se Noot vir Noot (en nou is dit ook verby…).

My skok is groot. Ek was nie voorbereid op hierdie hoeveelheid bolyf nie.

Daar is net een jong man wat relatief aanneemlik lyk. Hy hou van honde, groot porsies en vakansies by die see. En sien ook geen foto’s van hom in oefenklere nie. Hy is definitief die één.

Die groot ontmoeting breek aan. Hy steek sy hand uit om my te groet.

(Ek het eintlik iets meer intiem verwag. Jy kan ’n goederetrein en die Here se genade tussen ons inpas.)

“Peter, good to meet you.”

Katastrofe. Hy is mooi… maar hy’s Engels! My hele lyf gaan in ’n spasma. Ek het laas Engels gepraat in graad vier toe ek ’n mondeling moes doen oor die gebruike van seegras… ek is nie gereed hiervoor nie.

“I like your skirt.”

(Dankie, dit was ’n gordyn…)

Die kelnerin verlos my.

“Would you guys like to order anything?”

(Ag, nee wat, dankie, ek is eintlik net hier vir die gesegdes op die suikersakkies.)

“Something to drink, maybe?”

(Enige alkoholiese verversing is in orde, baie dankie.)

“Water, please.”

“Still or sparkling?”

“Still, please… I don’t want it to talk back to me,” sê ek.

Hy lyk verward. Ek is nie seker waaroor nie.

“So what do you do for a life?” vra ek.

“I’m a photographer, and you?”

(Ek wonder of hy ’n lekker combo het vir daai shoot wat ek en my vriendin by die windpomp het volgende week.)

Ek hou maar by kort, een-sin-antwoorde.

“I’m a painter… of nails.”

Daai sin het beter geklink in my kop. Dit is nou bevestig: Ek moet hier uit!

Dit is nog net 20 minute in die afspraak in en my brein het al drie keer gebreek. Ek herroep elke Engelse opstel uit my jeug, maar dit help niks. Ek kan nie één ordentlike sin aanmekaarflans nie.

Ek begin stadig maar seker beplan aan my ontsnapping. Ek is nie maer of fiks genoeg om weg te hardloop nie. Ek sal dit meer subtiel moet doen.

“I am just quickly going to the toilets… I need to power my nose,” verskoon ek myself.

My bene het nog nooit so vinnig beweeg nie. Nie eers op atletiekdae in die laerskool nie. Ek sou nou deur die badkamervenster kon klim, maar ek het gisteraand ’n stoute knoffelbrood gestraf en ek voel hom vandag om my middellyf.

Ek staar na die venster. Wel, dis of dít, of ek (en die drie woorde Engels wat ek kan praat) moet nou maar hierdie date deursit. Daar is nie ’n manier nie!

Ek het eenkeer gelees dat as jou kop deur ’n ruimte kan gaan kan jou hele lyf daardeur. Dis ’n klug. Hulle het duidelik nie my boude in berekening gebring nie.

Ek voel hoe ek vashak by my midrif. Ek kan nie vorentoe nie. Ek kan nie agtertoe nie.

Daar sit ek: met boude in die lug soos ’n op-aandag polisieperd. My oë na die hemele gerig; waar sal my hulp vandaan kom?

“What are you doing, mam?” Dis die kelner van vroeër. Sy (en almal in die restaurant) het seker my benoude gilletjie gehoor.

Dis in sulke tye wat jy verskonings gereed moet hê. “Ag, ek loer maar net bietjie by die ruit uit. Dis so mooi dag buite.”

Die hele restaurant vergader agter my; almal se oë gerig op my gebrek aan bobene.

(Geniet die oomblik, dink ek. Dit gebeur nie gereeld nie.)

Skielik hoor ek ’n manstem van agter. Dis die Engelse Bolyf.

“Is jy Afrikaans?”

Ek voel hoe die lewe my liggaam verlaat.