Ek sweet nou op onwettige plekke… 

Karen is nou op daardie punt in haar lewe: party mense noem dit menopause. Haar vorige drie mans verkies die term “mental pause”.

Dinge het nie heeltemal vir Karen uitgedraai soos wat sy beplan het nie. Haar man het weggeloop met Hester van ontvangs, sy toon vroeë tekens van ’n bles en daar is meer hare op haar bolip as waarvoor sy gereed was op hierdie ouderdom.

So ’n maand gelede besluit sy en haar vriendin om alle mans af te sweer (die manlike geslag was maar te dankbaar), vir hul elkeen ’n eenstukbaaibroek aan te skaf en hul nuutgevonde vryheid (vir die derde keer) oorsee te gaan vier.

Dit is egter effens problematies: Hul deeglyfies het in 2002 laas die son gesien en min dinge vyftig jaar en ouer, lyk meer gunstig in ’n baaibroek.

Nietemin, daar lê hulle: Twee geswete en geswolle polonies langs ’n swembad in Mykonos.

’n Griekse god kom lyf natmaak. Die kwik styg sowat vyftien grade.

“Wie is dit?”

“Die toekomstige pa van my kinders,” fluister Karen belustig. Hy het meer manlikheid in een borshaar as wat haar vorige drie huwelike sáám kon voorsien.

“Jy sien, Mel, dís hoe ek van my mans hou.”

Sy blêr dit so hard, iemand in Benoni soek nou sy naam en nommer.

“Sjuut, hy gaan jou hoor!”

Hulle begin lag. Dit klink soos twee op-hitte ganse langs ’n vleiland.

Dis Mykonos … niemand verstaan Afrikaans nie!

Hercules kom nader. Karen deins terug. Op hierdie ouderdom is hoë vlakke van testosteroon fataal.

“Middag, dames.”

Ns. As iemand vir Karen soek … sy is in Alaska, besig om vis te pak. Hulle sê niemand daar verstaan Afrikaans nie.