Droom GROOT met jou talent. Jy kan R10 000 WEN!

Staan jy graag voor die spieël en verbeel jou jou haarborsel is ’n mikrofoon en jy sing voor duisende? Of is dans of kletsrym jou passie. Dalk droom jy oor jou eerste digbundel of roman in druk. Hoe ook al, drome kan waar word, solank ’n mens nooit ophou droom nie.

In 2017 het Afrikaans.com ons eerste droomgroot-talentkompetisie gehou – #droomgroot17 – en nou maak ons weer so en kan jy vanaf 1 Julie tot 31 Oktober 2018 aan #droomgroot18 deelneem.

“My verlede bepaal nie my toekoms nie. Wel harde werk en geloof in myself … om nooit op te hou droom nie.” – Ashaan Arries, kletsrymer en wenner van #droomgroot17.

Verlede jaar se wenner van #droomgroot17, Ashaan Arries, het met sy kletsrym-inskrywing bewys dat drome waar kan word, afgesien van ’n mens se omstandighede … solank jy nooit ophou droom nie. Ashaan het sy wengeld gebruik om basiese toerusting aan te koop om hom te help om sy kletsrymliedjies te skryf en op te neem. Hy is boonop ook deur HemelBesem onder die vlerk geneem.

Kyk hier na Ashaan se inskrywing:

Ashaan saam met sy mentor, Simon Witbooi (HemelBesem)

Kyk na van die inskrywings wat ons tot dusver ontvang het:

Vir nog inspirasie gaan na ons YouTube-kanaal. Klik hier.

Meer oor deelname aan #droomgroot18

Vanaf 1 Julie tot 31 Oktober het graad 8 – 12-leerders die geleentheid om aan Afrikaans.com se droomgroot18-talentkompetisie deel te neem.

Hier is wat jy moet doen om deel te neem:

  • Jy MOET ’n hoërskoolleerder wees – graad 8 – 12.
  • Jou inskrywing MOET in videoformaat en in Afrikaans wees.
  • Jou inskrywing MOET op sosiale media (Facebook of Instagram) gelaai word of vir ons op ons whatsapp-nommer gestuur word na: 064 652 6873. Voeg net die hutsmerk #droomgroot18 by, jou naam en van watter geweste jy is.
  • Die hutsmerk #droomgroot18 MOET jou inskrywing vergesel.
  • Jy MOET Afrikaans.com in jou inskrywing tag.
  • Jou inskrywing MOET ons voor of op 31 Oktober 2018 bereik.

In ’n neutedop hoe jy moet inskryf:

Hoe die wenner bepaal sal word

‘n Span beoordelaars kyk die video’s en kies finaliste. Elke finalis sal dan gevra word om vir ons te skryf en meer te vertel van sy/haar droom en hoe hy/sy die prysgeld wil gebruik om nader aan sy/haar droom te kom (bv. om ‘n musiekinstrument te koop, ‘n rekenaar aan te skaf, om in te skryf vir ‘n kort musiek- of skryfkursus, ens.). Nadat almal se motiverings oorweeg is, word die GROOT wenner gekies en ontvang dan die R10 000-prysgeld wat namens hom/haar aangewend sal word.

Kompetisiereëls

Bepalings en voorwaardes geld. Klik hier vir die kompetisiereëls.

’n Kykie na 2017 se wenner en 10 verrassingspryswenners: Klik hier.

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!