Stories ontvang op Facebook
Heinrich du Plessis:
Ons het in Engeland gewoon en gaan eendag Londen toe met die “Underground”. Ek en my vrou en ons seuntjie, Marais, toe nog klein, sit rustig en ontspan terwyl die trein deur die buitewyke van Londen snel. Oorkant ons sit twee jong dames, duidelik op hulle “gap year”, en gesels in Afrikaans. Ons sê niks en geniet die rustige kadoef kadoef van die trein oor die spore.
Die volgende oomblik sê die een meisie vir die ander met ‘n glimlag “O gits, daar poep ek!”, en hulle giggel soos twee bakvissies.
Ek en my vrou loer net vir mekaar en sê niks. Toe ons by die stasie kom wat ons moet afklim sê my vrou vir ons seun “Kom Marais, ons moet hier afklim”. Daai twee se oë was so groot soos pierings en daar was nie wegkruipplek op die trein nie … almal van ons het lekker gelag soos ons uitklim.
Salome van Jaarsveld:
Jare terug moet ek by ’n vergadering rapporteer oor my doen en late. Wel ek vertel hulle toe ek was by die “death” society, i.p.v. die “deaf” society. Die einde van die jaar kry ek ’n trofee omdat ek ’n “filing”-sisteem aan die dooies wou verkoop.
Elsa Olivier:
Ek moes ’n voornemende Engelssprekende pasiënt waarsku dat die verkeer vanuit die stad na ons spreekkamer dikwels erg “congested” kan wees. Die korrekte woord wou nie uit my woordeskat spring nie, toe sê ek maar dis “constipated”! Beteken mos min of meer dieselfde!?
Rolene Oosthuizen:
Ek, my dogter Adri en twee seunsatlete van die SWD-Hoërskole-atletiekspan ry so 23 jaar gelede Kroonstad toe om aan die Nasionale Plattelandse Kampioenskap deel te neem. Ek moet nog verblyf soek vir my en die drie, maar ons gaan eers registreer. Met my instap by die groot saal kom ’n langerige manspersoon in ons rigting gestap. Ek stap reg op hom af en sê: “Meneer, as ek nie vanaand slaapplek op Kroonstad kry nie, kan ek by jou kom slaap?”
“Ja,” antwoord die onbekende man. “My vrou is Welkom toe, en julle kan by my in ons huis oorbly.”
Jy kon my met ’n veertjie omtik! Ons het oorgebly. Dit was die dierbare mnr. Chris Verhoef en sy vrou en gesin wat ons twee nagte gehuisves het. Ek wil myself nog elke keer trane lag as ek dit vertel. Adri wou haar doodskaam vir my!
Adele Kemp van den Berg:
Ek en my man gaan vir ons wittebrood op ’n bootreis. Voor ons op die boot klim, gesels ek en ’n ou tannie en ek sê dis ons wittebrood. So word ek en my man geboelie om deel te neem aan ‘n vasvra-aktiwiteit. Drie paartjies neem deel. Pasgetroudes, mense wat so 15 jaar getroud is en dan die ouer garde wat al baie jare saam is. Vra die man my hoe het my man my gevra om verloof te raak. In plaas van sê “he kneeled”, kap ek hom toe “he stood on his knees…” Die aanbieder van die hele aktiwiteit het my omtrent uitgehaal tot almal se vermaak en (op daardie stadium) my uiterste verleentheid en verontwaardiging! Tot ek later my groot fout agterkom.
Lize Lubbe:
‘n Jong Afrikaanse vrou, vreemd in Londen, loop onverwags ‘n Suid-Afrikaanse kollega raak. “Am I glad to see you!” sê die jong man bly. Antwoord sy: “You am, am you?”
Edane Combrink:
So, my beste vriendin is ’n interessante klein mensie om die minste te sê. Een van die rare vroulike verskynsels wie se definisie van “ogies maak” is om vir ’n man te vra of hy bloukaas is, want hy stink. Nou die dag was die arme skepsel haar wasgoed in die kompleks se gemeenskaplike waskamer en met dié dat sy haar fyn en dainties uit die wasmasjien haal, loop daar ’n aantreklike vreemdeling in. Haar eerste reaksie was natuurlik om die ragfynkledingstukkies onder haar hemp in te prop en ’n skaapagtige glimlag op haar gesig te plak. Van daardie dag af groet die aantreklike vreemdeling haar op ’n daaglikse basis uiters vriendelik terwyl nie een van hulle eintlik weet wat die ander een se naam is nie. Haar nuwe taktiek is deesdae om dop te hou of die aantreklike jong vreemdeling buite sy woonstel is om hom effens te vermy aangesien sy hopeloos te skaam is om hom terug te groet. Sy het al in die verlede ’n onwetende jong man op ’n blinde afspraak gegroet deur te sê, “Ek hoop jy is nie laktose intolerant nie want ek is Legen- wag vir dit- dairy”. Sal sy hom ooit teruggroet? Sal hulle twee ooit mekaar se name leer ken? Wie weet! Ek hou julle op hoogte!
Brian Loxton:
Ek en ‘n standerd nege klasmaat, Louis Botha, ryloop in September 1952 van Parow na Port Elizabeth om toetsrugby te gaan kyk. ‘n Pasgetroude Engelssprekende paartjie het ons goedgunstiglik in Kuilsrivier opgelaai en toe ons deur Caledon ry, sien ons ‘n perskeboom wat in blom is. “What kind of tree is that?” vra die vroutjie en ek antwoord ewe kordaat: “It’s a BLOOMING peach tree”, menende om te sê dis ‘n “FLOWERING peach tree”. Sies, sê sy ewe in Engels, dis nie nodig om so lelik te praat nie. Glo my ek het gebloos tot in Wildernis waar hulle ons afgelaai het.
Yvette C Aarons:
My ma se suster wat met ‘n Engelse man getroud is, het met haar vyf kinders van Durban af kom kuier. Hulle het nie Afrikaans verstaan nie. My Ma roep eendag die kinders toe ons iewers heen moes ry: “Come! Spring in the car!” Daar is vir jare daarna nog daaroor gelag en gespot.
Lize Smal:
My ma moet een keer bel om te reël vir verblyf by ’n selfsorg-huisie. Nou sit ons almal en sy het haar lysie met vrae wat mens maar altyd vra. Toe sy begin Engels praat is my pa redelik benoud want die Engels kom nie altyd so maklik soos dit moet nie. Alles gaan goed en so op die einde hoor ons net sy vra: “Is the groceries included?” Wel, ons almal het so gelag, sy moes net die gesprek kortknip. Sy wou hoor of die huisies toegerus is met kombuisware. Ons lag vandag jare later steeds hieroor.