Bridgton Sekondêr (Oudtshoorn) – ’n gemeenskap waar dinge gebeur … in Afrikaans!

Woensdag, 17 Oktober 2018, was alles behalwe ‘n gewone dag vir die gemeenskap, leerders en onderwysers van Bridgton Sekondêre Skool in Oudtshoorn. Hierdie dag sal nog lank onthou word as ‘n dag van inspirasie, groot drome en trots wees!

Afrikaans.com het op Woensdag, 17 Oktober om 12:30 – 13:30 een van ons kleurvolle mure by Bridgton Sekondêre Skool in Oudtshoorn bekendgestel. Hierdie onthulling maak deel uit van ons muurkunsprojek wat in 2017 in die Wes-Kaap afgeskop het en vanjaar voortgesit word.

Hierdie was Afrikaans.com se eerste muur in die Suid-Kaap waarna Hoërskool George se muur op 18 Oktober onthul is.

Mnr. Danie van Wyk, verbonde aan FEDSAS het veral klem gelê dat die kosbaarheid van Afrikaans juis daaroor gaan dat dit oor verskillende variëteite beskik, elk met sy besondere waarde. Andersyds dat die verwerwing van meertaligheid slegs deur die moedertaal moontlik is. FEDSAS het dié week hande geneem met Afrikaans.com en in dieselfde week ook hul leerdersberade in Oudtshoorn aangebied.

Boodskappe aan leerders:

Van Wyk het die skool aanbeveel. Hy is ’n oudonderwyser van die skool, tans by FEDSAS en hy sê dit is ’n funksionele skool waarop hy baie trots is. Hy sê die oorgrote meerderheid van die Wes-Kaapse inwoners is Afrikaanssprekend en daar behoort meer op die taal gefokus te word. “Afrikaans is ons erfenis, ons nalatenskap en daarom moet ons dit eien.”

“Laat ons hierdie taal eien, laat ons ons stories vertel in Afrikaans, laat ons Afrikaans gebruik om ons te help om die hoogste sport te bereik … kom ons verander Suid-Afrika vanuit ‘n ontwikkelende land na ’n ontwikkelde land. Leer by ander lande … Duitste motors word in Duits uitgedink! Ons moet dink in ons moedertaal, dan kan ons presteer.” – Danie van Wyk (FEDSAS).

Dr. André Boezak, gemeenskapsleier, skrywer en plaaslike predikant het ’n treffende boodskap oorgedra en gesê jy moet jou storie kan vertel, jy moet jou storie kan nalaat en jy doen dit net reguit in jou moedertaal omdat dit die taal is waarin jy droom en dink. “Baie keer dink ons ons is nie goed genoeg nie … ons taal is nie goed genoeg nie … jou taal is jy, dit is jou identiteit en dit maak jou uniek.”

Colan Sylvester, Oudtshoorn se burgemeester het aan leerders gesê: “Afrikaans is die taal waarin ek droom, die taal van my hart wat ek koester, ’n taal waarin ek kan troos en waarin ek kan bid en ’n taal waarmee ek kruisbeen by my huis kan sit en gesels. Afrikaans is die taal wat lekker op my tong proe, wat lekker van my tong af sing en rol … ek doen alles in my taal. Ek praat, ek dans, sing en leef in Afrikaans. Jou taal is die huis van jou menswees. Dit vorm jou.”

Die projek:
Afrikaans is die taal van al sy sprekers. Tog het nie almal in alle gemeenskappe ewe veel toegang tot die viering van hul taal nie. By Afrikaans.com glo ons dat inspirasie tot aspirasie lei en my identiteit van wie ek is en hoe ek myself uitdruk, ‘n trots en eiewaarde skep. Daarom het ons ook vanjaar baie spesifieke gemeenskapsprojekte waardeur ons veral skoolleerders deur visuele muurprojekte wil inspireer.

Met die Afrikaans.com-muurkunsprojek poog ons om deur kleurvolle muurskilderye wat binne die gemeenskap se konteks verstaan word, die lekker en positiewe van Afrikaans in skoolverband uit te lig.

Hoërskoolleerders is vanjaar aangemoedig om met die hutsmerk #droomgroot, op sosiale media deel te neem en op kreatiewe maniere en deur gebruik te maak van selfies en video’s, hulle drome en talente voor die muurskildery met ons te deel, en Afrikaans.com verskaf lekker pryse. By laerskole woeker die muurkuns met woorde wat lees en verbeelding aanmoedig. Ons moedig ook hierdie gemeenskappe om aan die Afrikaans is #onmisbaar-veldtog deel te neem. Ons vra mense om op sosiale media met ons te deel en te laat weet wat presies van Afrikaans WIL of KAN hulle nie sonder nie.

Die skool se eie rymkletser, Jamian Kennedy, en die alombekende Paul Amas, het in Afrikaans gerymklets en gesing.

Bridgton Sekondêre Skool

Trotse leerders van Bridgton Sekondêre Skool dink hul muur is ‘bakgat’!

Skoolhoof Kelvin Ellis saam met René Arendse (Afrikaans.com) en Danie van Wyk (Fedsas).

Vir Zoë Roodman (hoofdogter) en Donell April (hoofseun) is Afrikaans #onmisbaar!

Colan Sylvester, Oudtshoorn se Burgemeester (en voormalige hoofseun van die skool) spreek die leerders toe.

Danie van Wyk (Fedsas).beklemtoon weer die erns wat gemaak moet word met moedertaalonderrig – die sleutel tot leersukses!