Wouter Gildenhuys se Grondwoorde-projek bou brûe in KwaZulu-Natal

Aangename kennis

Ná skool het Wouter Gildenhuys die Karoodorp Beaufort-Wes, waar hy grootgeword en matriek geskryf het, verruil vir Bloemfontein, waar hy aan die Universiteit van die Vrystaat ʼn BSc- graad in Argitektuur behaal het. Hy het vir ʼn tydperk in Welkom en Johannesburg gewerk, voordat hy aangestel is as ʼn lektor aan die destydse ML Sultan Technikon in Durban. Hierdie tersiêre instelling het in 2002 met die Technikon Natal saamgesmelt om die Durban Universiteit vir Tegnologie te vorm. Wouter was vir 30 jaar verbonde aan hierdie instelling waar hy onder meer die Hoof van die Departement van Argitektuur en Stadsbeplanning was. Hy het in 2014 uitgetree. Wouter het ʼn besonderse liefde vir klassieke musiek, veral operamusiek. Argitektuur, kuns, tuinmaak en kosmaak is van sy ander belangstellings.

Vyf kitsfeite oor Wouter

  • Wouter het ʼn uitgebreide koperversameling wat hy veral waardeer en geniet wanneer die kersvlammetjies saans in die koper weerkaats.
  • Wouter, wat besonder lief vir dans is, het in 1992 die Phenduka Dansteater in Durban gestig om jongmense konstruktief besig te hou.
  • Hy woon reeds 33 jaar in Durban.
  • Vir die afgelope 15 jaar hou Wouter een keer per jaar ʼn groot middagete by sy huis waarheen hy ʼn klomp van sy vriende uitnooi wat net soos hy, ʼn groot waardering vir Afrikaanse poësie het. Dan word daar gekuier en gedigte gelees.
  • Wouter het in 2017 meer as 4 500 kilometer gery om 155 skole in Natal te besoek en sy Grondwoorde-projek bekend te stel.

Wouter  oor Afrikaans

Wouter is besonder lief vir Afrikaans. Dis die taal wat hy saam met sy moedersmelk ingekry het, en op Beaufort-Wes, waar hy grootgeword het, is dit die taal waarin almal kommunikeer.

Sy projek

Na ʼn besoek in 2015 aan Hoërskool Port Natal in Durban waar baie leerders, wie se moedertaal nie Afrikaans is nie, onderrig in Afrikaans ontvang, het hy besluit om ʼn digkompetisie vir leerders in KwaZulu-Natal in die lewe te roep. Die kompetisie, Grondwoorde, het in 2016 afgeskop met 18 kinders van agt verskillende skole wat daaraan deelgeneem het. Al het dit klein begin, het die aantal inskrywings in 2017 geweldig toegeneem tot 137 leerders van 25 hoërskole in KwaZulu-Natal. Met Grondwoorde werk Wouter hard om die gebruik van Afrikaans te bevorder en om ondersteuning aan aspirant- en opkomende digters te verleen.

Maak gerus kontak

Om meer oor Grondwoorde te wete te kom, stuur ʼn e-pos aan gildenhuys.wouter@gmail.com
Besoek sy Facebook-profiel: https://www.facebook.com/wouter.gildenhuys