Afrikaans.com-William Sezoe-ambassadeur

William Sezoe is VREESLOOS Afrikaans

William Sezoe het nog nie eers die skoolbanke verlaat nie, maar is reeds ’n bekende stem in die Paarl Vallei en vinnig maar seker besig om ’n groot naam vir homself in die Afrikaanse leefwêreld te maak.

William doen tans vryskutradiowerk by Radio KC 107.7FM waar hy die program, Afrikaans is Tops, elke Maandagaand tusen agt- en nege-uur aanbied.

Buiten radiowerk, is hy ook lief vir drama en debat en skryf hy ook gereeld vir die Paarl Post (Netwerk24) en Eikestadnuus. William is onlangs verkies as die voorsitter van die ATKV Jeugtak by New Orleans Sekondêre Skool en is ook gereeld betrokke by die Afrikaanse Taalraad se jeuggesprekke.

Hy beoog om eendag sy liefde vir media na te jaag en ’n beroep in televisie-aanbieding te volg.

Afrikaans is vir my …

’n Bord vol breyani: verskeie geure en kleure. Saam maak dit één maag vol. #Diversiteit

Wat maak jou Afrikaans #onmisbaar?

Die feit dat Afrikaans deur my bloedstroom loop, maak dat dit altyd deel van my sal wees. Die variëteite van die taal, die uniekheid en mooiheid daarvan, die lekker humor maak Afrikaans vir my onmisbaar.

Afrikaans is soos my daaglikse maaltye. Ek kan nie sonder dit leef nie. Dit voed my. Dit laat my groei en ontwikkel. Met my taal is ek gebore en met my taal sal ek doodgaan! Want Afrikaans is ougat! Ek kan my die beste uitdruk in my taal. In Afrikaans kan ek lekker stout dinge sê en lekker skinder … oor goeie dinge natuurlik!

Wat/wie maak jou lewe die moeite werd?

My mense rondom my en die mense wat hul stories in ons taal vertel. Hulle motiveer my om my taal vrylik te koop, lees, praat en te leef. My grootste inspirasie sal dan ook René Arense wees. Sy is die rede dat ek my liefde en passie in “onse” taal ontdek het.

Kontak hom:

E-posadres: sezoewilliam4@gmail.com