William huiwer nie om heilige koeie te slag nie

Aangename kennis

Reguit, op die man af, maar altyd met ʼn goeie skeut humor daarby. So som ʼn mens William de Bruin die beste op. William hou daarvan om te wys dat Afrikaans beslis nie op ʼn troontjie geplaas moet word nie, want daar is immers ʼn stoute kant aan ons taal. William, wat grootgeword het op Welkom in die Vrystaat, se loopbaan het in die radiowese begin. Hy het onder meer by OFM, Jacaranda FM, en Groot FM uitgesaai. Alhoewel hy baie goed gevaar het as radio-omroeper, het hy sowat vyf jaar gelede besluit om ʼn loopbaanskuif te maak en die reklamewese as nuwe loopbaan te ontgin. Tans is hy die Hoof van Gehaltebeheer by Sum of 21 (ETIKET Brand Design) wat seker maak dat alles reg is voordat dit na die kliënte toe gaan. William doen steeds stemwerk vir die radio en televisie en was al die stem vir verskeie groot handelsmerke. maar geniet dit meer om agter die skerms te werk. Van tyd tot tyd waag hy sy hand ook aan kopieskryf en hy was deel van die span wat ʼn baie suksesvolle reklameveldtog vir Kief Koekies geskep het wat uiteindelik met drie Pendorings bekroon is. Hy sonder sy pekinees Dirkie, sy uiteenlopende vriendekring, en die Oxford-komma uit as die dinge wat die lewe die moeite werd maak.

Vyf kitsfeite oor William

  • William het grootgeword as kinderster in die Afrikaanse musiekbedryf en was een van die kindersterre in die televisieprogram ZET.
  • In dié tydperk het ʼn CD van hom by Select Musiek verskyn.
  • As liriekskrywer is William in 2012 bekroon as een van LitNet se Sing ‘it-wenners. Bittereinder het sy lied, “Erdeskerwe Israeliet” opgeneem.
  • William het vir drie jaar in Londen gewoon en gewerk en is in die tyd opnuut aan sy liefde vir Afrikaans herinner.
  • Hy is ook medevervaardiger en liedjieskrywer by SON Records, Pretoria en werk nou saam met Douw Steyn, die seun van Christa Steyn.

William oor Afrikaans:

William sê daar is geen ander taal waarin hy so gelukkig, hartseer óf kwaad kan wees nie. Om in Afrikaans te vloek is ook lekker!

Sy projek:

Benewens die Afrikaanse lirieke wat hy skryf, skryf William rubrieke vir Netwerk 24 se digitale platforms. Hy huiwer nooit om ʼn onderwerp, waarvan ander wegskram, in sy rubrieke te takel nie en hoop om so gesprek uit te lok oor verskeie kwessies, soos om gay te wees. By sy werk is daar Afrikaanse kliënte soos die ATKV en Maroela Media vir wie hy kopie skryf en gehaltebeheer toepas.

Maak kontak

Stuur ʼn e-pos aan debruin.willie@gmail.com

Volg hom op Facebook: https://web.facebook.com/Will.d.Bruin

Twitter: @WilliamdeBruin

Instagram: @therealwilliamdebruin