Wannie Carstens

Wannie Carstens: Onbeskroomde taalaktivis

Prof Wannie Carstens, een van Afrikaans se grootste taalambassadeurs, se liefde vir Afrikaans is onlosmaaklik verbind aan sy Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Jan Mohr in Windhoek.  Meneer Hennie Brand het Afrikaans op ’n wonderlike manier aan sy leerders ontsluit. Hy het hom ook aangemoedig om die Afrikaanse taal- en letterkunde van nader te bestudeer en so het ’n wonderlike wêreld vir Wannie oopgegaan. Ná skool het Wannie aan die Universiteit van Stellenbosch studeer waar dit weer prof Henning Snyman is wat hom opnuut aangemoedig het om nagraads in Afrikaans te studeer.

Sedert Julie 1991 is Wannie verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus waar hy tans die direkteur van die Skool vir Tale is. Hy was vroeër ook dosent aan die Universiteite van Kaapstad en Stellenbosch. Wannie is by verskeie verenigings, rade en ander instellings, wat almal die belang van Afrikaans op die hart dra, betrokke. Hy was die eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalraad tot 2011, voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans tot 2014, voorsitter van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns tot 2014 en ook tot 2014 voorsitter van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. Tans is hy steeds lid van die direksie van die Buro van die WAT en dien ook in sy tweede termyn as lid van die Raad van die Universiteit van Stellenbosch.

Een van die belangrikste bydraes wat Wannie tot Afrikaans gemaak het, is om die mense van die Lae Lande opnuut in Afrikaans geïnteresseerd te maak en brûe te help bou. Een van hierdie projekte is die vestiging en die instandhouding van die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie in Gent, België. Wannie het ook gehelp met die sluit van uitruil- en samewerkingsooreenkomste wat Afrikaans as vak aan verskeie Europese universiteite gevestig het. Hy lewer ook belangrike insette met die totstandkoming van die Festival voor het Afrikaans, ’n Afrikaanse fees wat al sedert 2011 in Nederland aangebied word.

Wannie doen tans afrondingswerk aan ’n omvattende boek oor Afrikaans se geskiedenis. Prof Edith Raidt is die mede-outeur van Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal en die eerste deel van twee dele verskyn aan die einde van 2016. Hy is ook die skrywer van ander taalkunde werke in Afrikaans.

Wannie en sy vrou Wilma, woon in Potchefstroom. Hul drie kinders is getroud en daar is vier kleinkinders wat oupa Wannie besonder na aan die hart lê. In so ’n mate dat hy jaarliks die woorde oupa en ouma as deel van die WAT se Borg-’n-Woord-veldtog borg. In sy vrye tyd hou hy daarvan om na sportuitsendings te kyk, of hy lees ontspanningsliteratuur soos dié van Tom Clancy, James Patterson en Liza Marklund.

Wannie sê hy het veral die laaste tien jaar van sy loopbaan daaraan gewy om die beeld van Afrikaans te probeer verander van ’n wit taal, na ’n  genuanseerde taal met ’n verskeidenheid sprekers. Dit het hy gedoen deur versoeningsprosesse in die Afrikaanse taalgemeenskap te inisieer, soos met die Afrikaanse Taalraad. Alhoewel hy positief is oor die toekoms van Afrikaans, maak dit hom bekommerd dat van die vyf universiteite wat 20 jaar gelede Afrikaans as medium van onderrig gebruik het, daar slegs twee oorgebly het waar daar nou boonop baie hard gewerk moet word om Afrikaans in ’n parallelmediumverband te kan bly aanbied. Wanneer ’n taal van sy belangrike funksies, soos onderwys, begin verloor, vind daar ’n domino-effek plaas en dan stort baie dinge in duie. Hy hoop dat Afrikaanssprekendes sal volhou om hul lewe in Afrikaans te lei. Slegs dan kan ons ons taal lewendig en gesond hou.