Waldimar Pelser

Waldimar Pelser: Vreesloos, verbete en vernuwend

Om op die ouderdom van 35 jaar aangestel te word as die redakteur van die tweede grootste Sondagkoerant in Suid-Afrika, Rapport, wil gedoen wees. Met sy aanstelling as redakteur in 2013, het Waldimar Pelser gesê dat hy hoop om van die jonger generasie se energie na die publikasie te bring – iets wat hy inderdaad reggekry het. Waldimar het grootgeword in die suidelike voorstede van Kaapstad en sy laerskooldae by Laerskool Groote Schuur in Rondebosch deurgebring. Met die oog op ’n regsgraad het hy Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch as hoërskool gekies om daar Latyn te neem. Reeds op skool het sy pad met die joernalistiek gekruis toe hy op die redaksie van Semper, die skoolkoerant, was. Hy was ook die redakteur van die koerant.

Waldimar het wel sy BA regsgraad voltooi, maar in die tyd was hy reeds die redakteur van Die Matie, die studentekoerant op Stellenbosch en het hy besef dat LLB nie die rigting is wat hy moet volg nie. Hy het verkies om in ’n meer skeppende omgewing te werk en het in 2001 sy B.Phil. Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi, en die volgende jaar ook ’n MPhil in dieselfde rigting. Waldimar het as joernalis by Die Burger begin werk en is vroeg aan die diepkant ingegooi op die nagskof waar hy vir die eerste tien maande feitlik net oor misdaad verslag gedoen en doodsberigte geskryf het. In 2002 het hy die geleentheid gekry om met ’n Rhodes-beurs aan die Oxford Universiteit in Engeland te gaan studeer. In 2004 het hy sy M.Phil. graad in Ontwikkelingstudies aan hierdie universiteit voltooi.

Waldimar was van 2004 tot 2007 ’n senior verslaggewer by die dagblad Beeld. In 2007 het hy die uitdagende geleentheid gekry om by Media 24 se kantoor in Lagos, Nigerië te begin werk as Wes-Afrika-korrespondent, ’n pos wat hy beklee het tot kort voor sy aanstelling as nuusredakteur by Beeld in 2009. Vir Waldimar was die joernalistiek nog altyd die geleentheid om op plekke te kom waar jy andersins nooit sou uitkom nie. Hy het ook so die geleentheid gekry om in gemeenskappe te beweeg wat ver verwyder is van die buurt waarin hy grootgeword het, en so ook noodsaaklike lewenservaring opgedoen. Iets wat hom in sy huidige werk as redakteur van Rapport, handig te pas kom. Waldimar is in 2012 aangestel as Rapport se senior adjunkredakteur en het in 2013 vir Bokkie Gerber as redakteur opgevolg.

Waldimar is ook die aanbieder van die program KN Verslag In Gesprek wat Woensdagaande op kykNET uitgesaai word. Hier kry hy die geleentheid om kommentaar te lewer op die week se nuusgebeure en in gesprek te tree met nuusmakers en kommentators. In hierdie program maak hy dit duidelik dat hy politici met skeptisisme bejeën, maar tog bied hy aan elke gespreksgenoot ’n objektiewe kans om sy saak te stel. Vir Waldimar is dit verblydend om die positiewe gesindheid en die waardering van nuuskierige mense, kykers van sy program, te ervaar. Dis vir hom ’n duidelike aanduiding dat Afrikaanssprekendes ’n gesonde belangstelling toon in wat in die land aangaan.

’n Onderwerp wat gereeld in Waldimar se hoofartikels opduik, is Afrikaans en die kwessie van meertaligheid. Hy is ’n groot voorstander vir ’n meertalige Suid-Afrika en glo vas dat al die inheemse tale, insluitend Afrikaans, toenemend deel moet vorm van die Suid-Afrikaanse landskap. Hy betreur die feit dat Engels deur universiteitsadministrateurs beskou word as die enigste werkbare oplossing in ’n multitalige landskap. Dis vervelig, oneerlik en oneerbaar, sê hy. Meer jong mense moet in hul moedertale kan studeer.

Hy is opgewonde oor die vernuwende momentum onder Afrikaanssprekendes om kreatief in Afrikaans te skep. Van die beste letterkunde in ons land is in Afrikaans en op hierdie gebied gaan dit baie goed. Ook in die Afrikaanse rolprentbedryf word danksy kykNET en die Departement van Handel en Nywerheid geweldig baie in die Afrikaanse rolprentbedryf belê, met baie goeie resultate. Op die gebied van Afrikaanse musiek is daar ook baie vernuwende en opwindende dinge aan die gebeur. Afrikaanse mense verteenwoordig die volle spektrum van sienings en opinies oor byna enige kwessie in die land, sê hy. Waaroor hy wel bekommerd is, is die regering se versuim om op ’n betekenisvolle manier inhoud te gee aan die taalregte in die grondwet. Hulle toon geen verbintenis tot meertaligheid nie.

Waldimar se huis is in Kaapstad en hy pendel weekliks na Johannesburg waar hy op Woensdae en Donderdae in Media24 se Johannesburg-kantoor werk en ook op ’n Woensdagaand sy televisieprogram aanbied. Hy probeer hard om ’n groentetuin aan die gang te hou by die huis in Kaapstad en vind kosmaak baie terapeuties. Uit die aard van sy werk is hy ’n ywerige leser, maar hy ruim ook tyd in vir fiksie. Hy glo dat ’n mens die mens en sy aard net goed sal verstaan indien jy fiksie lees omdat fiksie soms nader aan die ervaarde werklikheid is as niefiksie. Waldimar het in September 2017 sy eerste marathon, die Kaapstad marathon, voltooi – ’n prestasie wat vir hom ’n persoonlike oorwinning was.