Waldemar Kastoor: Leef vir sy skool en kinders

Aangename kennis

Pella op die Weskus, se geskiedenis strek so ver terug soos 1869, toe die Morawiese Sendingstasie daar geopen is. Dis op daardie Pella waar Waldemar Kastoor sy eerste paar lewensjare deurgebring het. Later het sy gesin verhuis na die nabygeleë Mamre. Waldemar, die skoolhoof van Parkview Primêre Skool in Atlantis is nou al 37 jaar lank in die onderwys en hy volg in sy pa se voetspore wat ook ’n skoolhoof was. Waldemar het sy opleiding aan verskeie akademiese instellings ontvang en uiteindelik sy MEd aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal. Waldemar is in murg en been ’n pedagoog wat besonder baie vir die leerders en die gemeenskap omgee en veral fokus op die opheffing van die gemeenskap. Hy glo vas aan die woorde van Nelson Mandela: “Slegs met ’n goeie opvoeding kan ons die wêreld verander.” Benewens al sy ander bedrywighede is Waldemar ook die koorleier van die Morawiese kerkkoor. Hy is ’n gesinsman en baie erg oor sy vrou Lilian, sy seun, dogter en skoonseun en kleinkind.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Waldemar se lewe bestaan uit Afrikaans en waar hy ook al gaan, praat hy Afrikaans: By die skool, kerk, tuis asook in die gemeenskap.

Hoe leef ek Afrikaans?

Waldemar se dag begin wanneer hy die Boodskap in Afrikaans op kykNET kyk. Dit gee hom die nodige woema vir die dag.

Sy projek:

Waldemar werk baie hard om Afrikaans-moedertaalonderrig in die gemeenskap van Atlantis te bevorder. As skoolhoof van Parkview Primêre Skool maak hy ouers bewus van die belangrikheid om hulle kinders in die taal wat hul praat, naamlik Afrikaans, te laat studeer. Hy was tot aan die einde van 2015 lid van die Afrikaanse Taalraad en in sy termyn het hy veral hard gewerk om hierdie saak te bevorder. Waldemar werk saam met die Atlantis Kultuurassosiasie om kultuur in die skole te bevorder. Hy is ook die ondervoorsitter van die Atlantis Prinsipale-vereniging en die vereniging help om die koördinering van die verskillende kultuurprojekte te doen. Daar is ook ’n voedingskema by die skool en enige hulp hiermee sal verwelkom word.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan wckastoor@gmail.com