Virginia Keppler: Eersterust se stof haar vrugbare grond

As Eersterust se stof eers op jou skoene beland het, kry jy dit nie maklik afgeskud nie, sê Virginia Keppler, joernalis en mediakonsultant. Sy het in Eersterust, aan die noordooste van Pretoria, grootgeword en daar gematrikuleer. Al woon sy deesdae in East Lynne, kuier sy graag by familie en vriende in haar grootwordplek. Die besigheidskursus waarvoor sy na matriek ingeskryf het, het haar nie in die minste geïnteresseer nie, maar sy het nie ’n idee gehad wat sy eintlik met haar lewe wil doen nie. Sy het die skrywer en digter Don Mattera ontmoet en aan hom ’n paar van haar gedigte gewys. Don was dadelik beïndruk en het haar aan Max du Preez voorgestel en op die jong ouderdom van 20 het sy by die Vrye Weekblad as leerlingjoernalis aangesluit. Ongelukkig het ’n lastersaak teen die publikasie die Vrye Weekblad se deure gesluit, maar in die tyd wat sy daar was, het Virginia waardevolle ervaring opgedoen.

Virginia het in haar loopbaan by ’n verskeidenheid publikasies soos Beeld, Sondag, City Press, Rapport en Pretoria News gewerk. Sy is veral ’n uitstekende misdaadverslaggewer en is al deur Media 24 en Solidariteit vereer vir haar werk. Vanaf Januarie 2014 tot Maart 2015 het Virginia die pos as nuusredakteur by Beeld beklee met ’n span van elf joernaliste onder haar. Sy het besluit om eers uit die formele mediawêreld te tree. Sedertdien het sy ’n aanlynnuusblad begin waarin sy veral vir die inwoners van Eersterust die nuus van die omgewing verskaf en doen sy ook mediakonsultasiewerk. Sy tree ook op as mentor vir studente in die joernalistiek. Sy is ’n motiveringspreker en van haar artikels verskyn gereeld in Kuier.

Virginia het vier kinders. Haar oudste dogter, Marc, volg in Virginia se voetspore en is ’n joernalistieke student. Haar tweede oudste dogter, Kyle is nog op skool. Dan is daar ook die tweeling, Jayden en Jade wat vanjaar skool toe gegaan het.

Van Virginia se gedigte is al opgeneem in bundels wat deur Veerpen Uitgewers uitgegee is. Sy werk tans aan haar eie poësiebundel en sy hoop dat dit teen die einde van 2016 op die rakke sal wees.

Hoe lyk haar Afrikaans?

In Eersterust word daar feitlik net Afrikaans gepraat, sê Virginia, maar daardie Afrikaans verskil definitief van die Afrikaans wat sy later in haar loopbaan by die verskillende mediahuise leer gebruik het. Sy het self verslag gedoen oor Afrikaans wat van streek tot streek verskil, en dit maak juis die taal vir haar so pragtig. Al het sy ’n paar draaie in die Engelse media gaan maak, het sy altyd teruggekeer na Afrikaans omdat daar vir haar geen ander taal is waarin sy haar innerlike so mooi kan uitbeeld nie.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Die meeste van haar vriende, die mense by wie sy grootgeword het en haar kollegas is Afrikaans. Die enkeles wat nie Afrikaanssprekend is nie, sê altyd haar invloed is so groot, sy motiveer hulle om sommer Afrikaans te probeer praat. Sy hou daarvan om al haar korrespondensie van banke en ander ondernemings in Afrikaans te kry. By die huis word daar net Afrikaans gepraat, na ’n Afrikaanse kerk toe gegaan, en dan ontspan sy graag terwyl sy na ’n episode van 7de Laan kyk.

Virginia se projek:

Virginia het op eie houtjie met ’n voedingskema in Eersterust begin. Wanneer dit vir haar moontlik is, kook sy op ’n Sondag ’n groot pot kos wat sy dan aan ’n groep kinders en oumense uitdeel. Tydens die Sondagetes leer sy die kinders van Jesus en sy doen opheffingswerk ten opsigte van persoonlike higiëne en sosiaal-aanvaarbare maniere. Sy leer elke kind dat hy of sy spesiaal is, en daar word saamgebid. Virginia droom veral daarvan om ’n mobiele biblioteek op die been te bring waar hierdie minderbevoorregte kinders ook die vreugde van boeke kan ervaar. Al die kos wat sy uitdeel en alles wat sy gee, kom uit haar eie sak en enige hulp daarmee sal wonderlik wees. Armoede is ’n groot probleem in hierdie gebied en die behoefte aan kos en klere sal altyd groter word.

Maak gerus kontak:

Indien jy op enige manier ’n bydrae kan maak tot Virginia se projek wat op Afrikaanssprekendes gerig is, stuur ’n e-pos aan: mvkeppler@gmail.com