Vickie de Beer: Bekroonde kosaktivis

Aangename kennis

Varsgebakte brood laat Vickie de Beer na haar ma verlang, en kaneel na haar pa wat altyd die lekkerste souskluitjies gemaak het. Vickie is die afgelope 14 jaar die kosredakteur van die glanstydskrif Rooi Rose, maar sy is ook ’n vryskut-kosstilis en -skrywer. Vickie het al verskeie toekennings verwerf vir haar werk en geniet dit veral om goeie kos- en wynkombinasies voor te stel. Haar woonplek, Stellenbosch, maak dit die ideale ligging vir so ’n geleentheid. Vickie se man en drie seuns is die spil waarom haar lewe draai en die gesin het ’n paar jaar gelede op ’n uitgebreide sabbatsreis om die aarde gegaan. Vickie beskryf haarself as ’n kosaktivis. ’n Paar jaar gelede is haar middelkind, Lucca, as ’n Tipe 1-diabeet gediagnoseer en al haar navorsing oor die beste voeding vir hom en die res van die gesin het gelei tot haar kookboek, The Low-Carb Solution for Diabetics.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Smullekker en smaaklik! Afrikaans beskryf kos soos geen ander taal kan nie, sê sy. Mooi woorde soos pampoenpoffertjies, tameletjie en makrolletjies rol so lekker van ’n mens se tong af en is propvol herinneringe. Haar kookboeke van C Louis Leipoldt is van haar kosbaarste besittings.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Vickie lééf elke dag Afrikaans. Die huishouding is Afrikaans en hul kook en eet in Afrikaans. Die seuns word aangemoedig om baie Afrikaans te lees as teenvoeter vir die Engelse wêreld van televisie en rekenaars.

Vickie se projek:

Vickie wil baie graag mense leer om weer reg te eet en te kook sonder om van kitssouse, sakkies en pakkies gebruik te maak. Ons raak almal siek danksy die kos wat ons eet, of nie eet nie en dit lei veral tot Tipe 2-diabetes en hartsiektes. Daar is binnekort ’n splinternuwe Afrikaanse kookboek van Vickie op die mark waarin sy mense aanmoedig om gesonder te eet en weer te begin kos maak met basiese bestanddele. Die boek handel oor die bekende laekoolhidraat-eetplan en heet My ‘low carb” kombuis.

Maak gerus kontak:

Maak kontak: Stuur ’n e-pos aan Vickie by vickie@hardrain.co.za
www.netwerk24.com/Ontspan/Gesondheid/etes-vir-diabetes-20151107