Vian Singleton: Hope talent!

Aangename kennis

Vian Singleton het sommer baie vroeg reeds gewys dat hy hope talent het. Vian is in 2017 gekies as die jong Benjamin Komoetie in die verhoogproduksie van Fiela se Kind en het onder meer saam met Shaleen Surtie-Richards gewerk. Alhoewel Vian die rol nou ontgroei het, is dit beslis nie die laaste sien van hom nie. Hy het intussen sy merk gemaak op 7de Laan waar hy die rol van Thomas Fouché vertolk. Vian is vanjaar in Graad 7 en is ook die hoofseun van Laerskool Midvaal in Meyerton wat benewens die kunste ook op talle ander terreine presteer. Hy is ʼn kranige rugbyspeler en uitstekende naelloper en is tydens 2018 se Interlaer-byeenkoms as senior Victor Ludorum aangewys. Vian neem vanjaar weer deel aan die ATKV Redenaarskompetisie. Hy het reeds in graad 2 tot by die finale rondte op nasionale vlak van hierdie kompetisie gevorder en hierdie prestasie in graad 5 herhaal met ʼn algehele vierde plek. Vian is ʼn enigste kind en hy en sy pa, Anthony, en ma, Riëtte, woon in Meyerton in die Vaaldriehoek. Hy is ʼn ywerige hengelaar wat gereeld groot visse uittrek en dan weer vrylaat.

Vyf kitsfeite oor Vian

  • In 2015 het Vian ʼn opleidingskamp vir akteurs in Hollywood bygewoon waar hy as die beste junior akteur aangewys is.
  • Hy was te sien in die Sunfoil-advertensie wat saam met die Protea-krieketspelers gemaak is.
  • Vian het vir vier jaar in ʼn ry die prys as beste Wiskunde-leerder in sy graad gewen.
  • Hy het die rol van die jong Dap in die fliek, My Father’s War, vertolk.
  • Vir sy rol as Benjamin Komoetie, het hy ʼn Broadway World Award South Africa gewen as beste byspeler in ʼn verhoogproduksie.

Vian oor Afrikaans

“Afrikaans is my moedertaal en was nog altyd deel van my”, sê Vian. Dis veral sy oupa en ouma wat by hom ʼn liefde vir Afrikaans gekweek het. By hulle, sê Vian, durf jy niks anders as suiwer Afrikaans praat nie. Dis vir hom besonder lekker om in Afrikaans sy vaardighede op verskillende gebiede ten toon te stel.

Vian se projekte

Al is Vian nog nie betrokke by enige formele Afrikaanse projek nie, is dit vir hom ʼn heerlike gedagte om op so ʼn jong ouderdom te kan dien as ʼn ambassadeur vir Afrikaans. Hy hou veral baie daarvan om die stigma rondom Afrikaans en kultuurdeelname onder die jongmense af te breek. Dit verskaf hom groot vreugde wanneer sy rugby- en atletiekmaats ook begin deelneem aan dinge soos redenaarskompetisies, kunswedstryde en selfs toneelspel. “Dis mos lekkerrrr!!” sê hy.

Maak gerus kontak

Volg Vian op:
https://www.facebook.com/profile.php?id=100008304578042
https://www.instagram.com/viansingleton/
https://www.youtube.com/watch?v=lJjFanO0m9Q