Afrikaans.com-Ambassadeur Vanessa van Wyk

Vanessa van Wyk: Afrikaans is diep en teer

Wat begin het as ’n passie vir skryf, het vinnig ontplof in iets groters en vandag staan Vanessa van Wyk se Facebookblad, Kortverhale uit die Hart, reeds op meer as 2 500 volgers. Dit is op hierdie platform wat Vanessa haar kortverhale met die Afrikaanse gemeenskap deel en waar sy ook die geleentheid gekry het om dit op ’n latere stadium in boekformaat vry te stel. Sy beskou hierdie as ’n geleentheid om ‘n liefde en kultuur vir lees te help skep … veral in Afrikaans.

Buiten haar liefde vir skryfwerk, is Vanessa se passie vir die jeug ook ’n groot dryfkrag in haar lewe.  Sy is tans ’n kinder-jeugversorgwerker en dien ook as voorsitter van ‘n organisasie genaamd Jeug teen Misdaad wat nou saam met die plaaslike polisie werk om misdaad te bekamp. Hierdie organisasie bied haar die geleentheid om verskeie veldtogte te loods wat geweld teen vroue en kinders beveg.

Wanneer sy nie skryf of lees nie, geniet sy dit ook om foto’s te neem en dramas te skryf. Vanessa beoog ook om binnekort ’n poppekasvertoning op die been te bring in ’n poging om “stories met ’n boodskap” aan kleiner kinders te bring.

Wat maak Afrikaans vir jou #onmisbaar?   

Die feit dat Afrikaans so diep en teer is.

Afrikaans is vir my…

Fantasmagories, omdat ek my kan uitleef en uit hordes woorde kan kies en keur hoe om myself uit te druk.

Noem die vyf belangrikste dinge in jou lewe:

  • God – omdat Hy nooit opgee op my nie al skop ek soms teen die prikkels.
  • Familie – omdat dit nie noodwendig bloedverwant hoef te wees nie. Dit beteken ‘n meer uitgebreide ondersteuningsnetwerk. Meer siele, meer vreugde.
  • Drome – drome het my waar ek vandag is. Al werk dit nie altyd uit soos wat ek verwag nie, motiveer dit my om net meer te droom en gróót te droom.
  • Diere – ek het op die oomblik vier honde en hulle is so spesiaal, omdat hulle so eg is en so onvoorwaardelik liefhet. Hul natuurlike instink om my te beskerm, is vir my uiters fassinerend.
  • Jongmense – ek het ‘n verskriklike teerplek vir jongmense. Ek wens soms ek kan meer doen vir dié met wie ek in aanraking kom, maar ek doen my beste en ek weet hulle waardeer dit.

Kontak haar:

E-posadres : vanessavanwyk74@gmail.com

Facebookblad: @kortverhaleuitdiehart